DIT RUK ONS REG EN KWEEK ‘N REGTE LEEFSTYL

DIT RUK ONS REG  EN KWEEK ‘N REGTE LEEFSTYL

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra, of ek nie vir hom Spreuke 17:7 wil verduidelik nie.

Ek deel my antwoord aan hom ook met jou.  Nie eintlik om soos ek Spreuke 17:7 te verstaan nie.  Dit ook, maar eintlik om jou attent op iets anders te maak en terselfdertyd ook sommer ‘n bietjie advertensie vir ‘n baie goeie Bybel vertaling te doen.

Hier is dan wat ek geskryf het.
As ek dit reg het, lees die Bybel in die vertaling wat jy het en wat jou ‘n bietjie verwar, as volg.

SPR 17:7: “Aanmatigende taal pas nie by ‘n dwaas nie, hoeveel minder leuentaal by ‘n edele!”

Ek kan natuurlik ook goed verstaan dat jy onseker voel oor wat die skrywer van hierdie spreuk eintlik bedoel, want dit is na my mening nie ‘n baie goeie vertaling van die spesifieke teksvers nie. Ek gee vir jou wat vir my drie beter vertalings is van hierdie vers en dan sal ek ook so ‘n ietsie meer daaroor sê.

Eers The Living Bible:
PRO 17:7: “Fine speech is not becoming to a fool; still less is false speech to a prince.”

Nou Die Lewende Bybel:
SPR 17:7: “Van ’n niksnut verwag ’n mens nie ’n mooi toespraak nie en nog minder verwag ’n mens leuens by iemand in ’n verantwoordelike posisie.”

Vervolgens, wat ek op die oomblik persoonlik beskou, as een van die beste vertalings ooit naamlik Die Nuwe Lewende Vertaling:

SPR 17:7: “Welsprekendheid pas nie by ‘n dwaas nie.  Nog minder pas leuens by ‘n man van aansien.”

As ek die hele boek Spreuke lees, sien ek dat die skrywer feitlik deurgaans ‘n dwaas/sot sien as iemand wat presies dit is wat ‘n mens met integriteit nie behoort te wees nie. 

Met dit in gedagte dink ek dat die skrywer byvoorbeeld vir ons wil sê, dat net so min as wat jy kan verwag dat ‘n dwaas iets sal kwytraak wat die moeite werd is – wel, net so min verwag ‘n mens van iemand na wie jy opkyk, of dan iemand wat die leiding gee, om ‘n leuen te vertel.

Na my mening leer Spreuke 17:7 vir ons mense wat vandag lewe ook iets spesiaal en dit is die volgende:

Die mense wat ons Here gebruik om die Woord vir ons te vertaal is, soos jy en ek gewone feilbare mense en hulle het en sal soos ons soms foute maak maar ons Here sal nooit toelaat, dat die Bybel, Sy Woord verdraaid in my hand beland om te lees, as ek Hom werklik opreg soek nie.

Ek mag dalk nie ‘n sin of ‘n paragraaf verstaan nie maar as ek die hele Woord lees en bestudeer, sal Jesus se Evangelie van liefde, glashelder wees.

Ons moet egter nie net hier en daar ‘n gedeelte uit die Woord neem en ‘n Evangelie daarom wil bou nie.
Ons Here leer ons in hierdie verband dan ook in Sy Woord:

2 TIM 3:16: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd is in ons lewe.  Dit ruk ons reg en kweek ‘n regte leefstyl.”
2 TIM 3:17: “Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen.”

Asook:

ROM 15:4: “Ons moet leer wat lank gelede reeds in die Skrif opgeteken is.  Die standvastigheid en die bemoediging wat die Skrif aan ons gee, help ons om aan ons toekomsverwagting te bly vashou.”

Soos Spreuke 17:7 vir ons demonstreer –
As ek die hele boek Spreuke bestudeer en selfs na ‘n paar ander Vertalings kyk, word die prentjie maar veral die boodskap glashelder.

Ten slotte net die volgende, wat eintlik niks regstreeks met die interpretasie van Spreuke 17:7 te doen het nie –

Ek wil werklik vir almal wat hulle Bybel met erns lees wat Afrikaans as huistaal het, ten sterkste “Die Nuwe Lewende Vertaling” Bybel aanbeveel. Die Bybel is aflaaibaar op die YouVersion Bybel app, in Afrikaans en in Engels.  Dit is beskikbaar vir Android of vir Windows en kan by die volgende ooreenstemmende webtuiste addresse afgelaai word:

Android App is aflaaibaar op Google Play store:
https://play.google.com/store/apps/details?id=com.sirma.mobile.bible.android&hl=en_US

Windows App:
https://www.microsoft.com/en-za/p/bible/9wzdncrfj1fd?activetab=pivot:overviewtab

Die “Bible for Voice Users” kan gebruik word op sekere Android sellfone waar “google assistant” geaktiveer is. Ongelukkig is die “Bible for Voice Users” slegs beskikbaar in Engels. Vir meer inligting besoek gerus die webtuiste:
http://www.youversion.com/the-bible-app/bible-for-voice/bible-app-for-voice-on-google-assistant/

Ek sluit af en wil graag 2 Tim 3:16-17 weereens op u hart lê:

2 TIM 3:16: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd is in ons lewe.  Dit ruk ons reg  en kweek ‘n regte leefstyl.”
2 TIM 3:17: “Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen.”
                 

Groete,

Sakkie