IS DIT VERKEERD OM MET DOOIES TO PROBEER KOMMUNIKEER?

IS DIT VERKEERD OM MET DOOIES TE PROBEER KOMMUNIKEER?

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra of ek dink dat dit verkeerd is om met iemand aan die anderkant van die graf kontak te probeer maak.

Ek stuur wat ek vir haar gestuur het ook vir jou. Miskien weet jy ook van iemand wat wonder oor hierdie probleem.
Ek het net haar naam uitgehaal.
Dit is dan hoe ek hierdie soort ding met die Woord van ons Here as my hoogste gesag in my eie lewe uitlewe.

Hallo, hier is die versies waaroor ek en jy gepraat het.
In die eerste voorbeeld wat ek jou gee, sê die Here dat ons níks met die soort ding te doen moet hê nie en dan herinner Hy ons dat Hy ons Here en ons God is.
Met ander woorde, ons moet net na Hom en Hom alleen luister, volgens die maniere wat Hy ons in Sy Woord gee.

LEV 19:31:
31“Julle mag julleself nie onrein maak deur hulp te gaan soek by mense wat sê hulle praat met die geeste of met dooies nie. Ek is die Here, Ek is julle God.

Omdat dit so gevaarlik is om enigiets met so iets te doen te hê, wys ons Vader ons dat Hy báie sterk oor hierdie saak voel en met reg ook, want onthou Hy het sy Seun gegee sodat ek en jy nie as gevolg van hierdie, en al die ander bose dinge in die hel hoef te beland nie.

LEV 20: 6-8:
6“As iemand gaan hulp soek by mense wat sê hulle praat met die geeste van dooies, het hy aan My ontrou geword en is hy met afgode besig. Ek sal teen so iemand optree en sal nie toelaat dat hy ’n lid van sy volk bly nie. 7Julle moet julleself aan My toewy en heilig wees, want Ek is die Here, Ek is julle God. 8Julle moet doen wat Ek julle beveel het want Ek, die Here, maak julle heilig.

In die outyd het hulle die doodstraf voltrek deur steniging, so al wat die volgende vers eintlik vir my en jou sê, is dat ons Vader sê mense wat sulke dinge beoefen, verdien die doodstraf.

LEV 20: 27:
27“’n Man of ’n vrou wat sê hulle praat met die geeste van dooies moet julle met klippe doodgooi, want hulle het die doodstraf oor hulleself gebring.”

Nog net een versie, voordat ek oor die volgende punt praat waaraan ek geraak het toe jy my gebel het.

JES 8:19-20:
19Die mense sal vir julle sê: “Vra raad by die wat al dood is, by die geeste wat die toekoms kan voorspel en met ’n fyn stemmetjie of met ’n gebrom diep onder uit die aarde praat. Enige volk moet tog by die bonatuurlike magte raad vra. Die wat lewe, moet mos by die dooies gaan hulp soek.” 20Maar julle moet hulle antwoord: “Bly by die dinge wat die Here julle geleer het en vir julle gewys het! As mense iets sê wat van hierdie woorde afwyk, is hulle in die donker.”

Ek het ook vir jou gesê dat satan na ons toe kom soos ‘n engel van die lig.

2 KOR 11:13-15
13Hoor hier, daardie manne is nie werklik apostels nie—Christus het hulle nie gestuur nie. Hulle werk onderduims en doen hulleself voor as apostels wat deur Christus aangestel is. 14Maar dit verbaas my nie. Onthou, Satan kan homself so verander dat Hy presies soos ’n engel lyk wat in die lig van God woon. 15Daarom is dit ook nie verbasend as Satan se helpers hulle voordoen asof hulle vir God werk nie. Maar eendag sal hulle terugbetaal word vir wat hulle gedoen het.

By apostels kan jy ook enige ander naam sit, van mense wat sê hulle doen namens God, of vir God iets, maar hulle doen dit deur, of met dinge waarteen God ons uitdruklik waarsku.

Ten slotte net die volgende:
Ons het ook gepraat van hoe opreg sulke mense voorkom en hoe eg als lyk wat hulle doen.

Lees ‘n bietjie die volgende:

EKS 7: 8-13:
8Die Here het vir Moses en Aaron gesê: 9“As die koning vra julle moet ’n wonderwerk doen om te bewys dat dit God is wat julle gestuur het, sê dan Aaron moet sy kierie voor die koning op die grond gooi. Die kierie sal dan in ’n slang verander.” 10Moses en Aaron het toe na die koning toe gegaan en gemaak soos die Here vir hulle gesê het. Aaron het sy kierie voor die koning en sy amptenare op die grond gegooi en toe word dit ’n slang. 11Die koning laat roep toe sy span wat sulke toertjies kon doen en hulle instrukteurs. En daar kon die towenaars van Egipte ook dieselfde toertjie regkry! 12Hulle het ook hulle kieries op die grond gegooi, en die kieries het in slange verander. Maar die slang wat eers Aaron se kierie was, het al daardie ander slange ingesluk. 13Tog wou die koning hom nie laat oortuig nie. Hy wou nie na Moses en Aaron luister nie, net soos die Here vooraf gesê het.

Let op dat ons Here vir Moses gesê het, dat die Koning nie sal luister nie.  Jy sien as die duiwel jou eers met die goed gevang het, is dit baie, baie moeilik om van hom af los te kom.  Die Here weet dit en daarom wil Hy nie eens hê dat ons, jy kan maar sê met ‘n tang daaraan moet raak nie.
Onthou dat satan ‘n god is maar hy is die god van die bose.  Sy volgelinge sal kan wonders en sulke goed doen.  Dit is egter altyd om hom te help om mense wat hy so vang, in die hel te laat beland.

Volgens wat ek in ons Here se heilige Woord lees, is een van die volgende twee ‘n absolute werklikheid as iemand vir jou sê, dat hulle met dooies kommunikeer:

Of hulle lieg vir jou en is dit net ‘n slenter om geld of aandag ens te kry.  Of dit is iemand wat deur demone, met demoniese booshede omgaan.

 

Ek hoop ek kon darem vir jou lig gewys het.
Mag dit vir jou ‘n heerlike dag wees.

Groete
Sakkie