DIT WAS NIE SPYKERS WAT JESUS AAN DIE KRUIS VASGEHOU HET NIE

DIT WAS NIE SPYKERS WAT JESUS AAN DIE KRUIS VASGEHOU HET NIE

Sakkie Parsons

Iemand het vir my ‘n e-pos gestuur en onder aan die e-pos het die volgende gestaan, wat dadelik ‘n groot indruk op my gemaak het:

“It was not nails that held Jesus to the cross, but Love.”

Onmiddellik het daar ‘n hele paar gedagtes deur my kop gegaan, wat ek met jou wil deel.
Inderdaad was dit nie spykers wat Jesus aan die kruis vasgehou het nie.
Sy vyande sou Hom nie eens by die kruis kon kry as Hy nie wou gaan nie.
Ek herhinder my aan ‘n geleentheid toe hulle Hom wou doodmaak:

LUK 4:28-30 
28 Toe die mense in die sinagoge dit hoor, was hulle woedend.
29  Hulle het opgespring, Hom omsingel en Hom uit die dorp geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was.  Hulle wou Hom oor die krans stoot,
30  Maar Hy het tussen die skare deurgeglip en weggegaan.

Hy gaan saam met hulle, ek glo net om vir hulle te wys hoe belaglik woede jou regtig kan maak – en toe draai Hy om.
Daar staan hulle, magteloos, met haat in hulle harte en woede in hulle oë en Jesus stap tussen hulle deur op Sy reis na Golgota, om Homself met liefde aan ‘n kruis vas te bind – ook vir hulle.
As hulle nie so verblind was deur die satan nie, sou hulle ook besef het dat jy God nie by ‘n krans kan afstamp nie.
Soos dit nou maar met die meeste van ons gaan, het hierdie mense nog nie kon insien met wie hulle eintlik hier te doen het nie, want daar was nog ‘n geleentheid waar die satan hulle weer belaglik laat optree het en ook toe het hulle nie geleer en kon hulle vanweë die haat in hul harte nie sien met wie hulle te doen het nie.

JHN 18:4-9 
4 Jesus was egter deeglik bewus van alles wat oor Hom sou kom en het op sy eie na vore uit die groep beweeg en vir hulle gesê:  “Wie soek julle eintlik?”
5  Hulle het Hom geantwoord:  “Jesus van Nasaret.” “Dit is Ek,” antwoord Jesus. Judas, dié een wat Hom sou uitlewer, het ook daar tussen hulle rondgestaan.
6  En toe Jesus vir hulle sê:  “Dit is Ek!” het hulle almal padgegee en op die grond neergeval.
7  Jesus het sy vraag aan hulle herhaal:  “Wie soek julle eintlik?”  “Jesus van Nasaret,” was hulle antwoord.
8  Jesus se reaksie was:  “Ek het dan vir julle gesê dat dit Ek is.  As julle Mý soek laat hierdie mense wat saam met My is, dan weggaan.” 
9  Sodoende het die woord wat Hy vroeër uitgespreek het, waar geword:  “Uit dié mense wat U aan My toevertrou het, het niemand verlore gegaan nie.”

Hoe totaal verblind was hierdie mense nie deur die satan nie?
Voor hulle staan God die Almagtige en Hy sê dit vir hulle.  Hy begin selfs met hulle
gesels sodat Hy vir hulle kan sê, wie Hy is.

Die 1953 Vertaling stel dit so;
JHN 18:4  En omdat Jesus alles geweet het wat oor Hom sou kom, het Hy uit die tuin gegaan en vir hulle gesê: Wie soek julle?
JHN 18:5  Hulle antwoord Hom: Jesus, die Nasaréner. Jesus sê vir hulle: Dit is Ek.

Hy het nie nodig gehad om vir hulle te vra wie hulle soek nie.  Hy het, omdat Hy ook God is geweet wat hulle daar kom maak.

JHN 18:4  En omdat Jesus alles geweet het …

Toe hulle vir Hom sê wie hulle soek, toe sê Hy presies vir hulle wie Hy is wie hulle soek.

JHN 18:5  … Jesus sê vir hulle: Dit is Ek.

Want, wie is hierdie Jesus wat vir hulle so ‘n groot steen des aanstoots is?
Hy het ook op ‘n vorige geleentheid vir hulle presies gesê wie Hy is en toe wou hulle Hom ook doodmaak:

JHN 8:56-59 
56 “Abraham, julle voorvader, het met uitbundige blydskap uitgesien na my dag;  en hy het dit gesien en was verheug.”
57  Die Jode het toe gereageer:  “Jy is nog nie eers 50 jaar oud nie en jy het Abraham gesien?”
58  Jesus het vir hulle gesê;  “Ek verseker julle, nog voordat Abraham bestaan het, was Ek al wat Ek is.”
59  Hulle het toe klippe opgetel om Hom daarmee te gooi. Jesus het hulle egter ontwyk en uit die tempelgebied padgegee.

Voor hulle staan God, die groot Ek Is wat met Moses uit die brandende braambos
gepraat het en hul haat en balhorigheid verblind hulle so dat hulle dit nie kan sien nie.

EXO 3:13  Moses het egter teëgestribbel:  “As ek by die volk van Israel kom en vir hulle sê:  ‘Die God van julle voorouers het my na julle toe gestuur,’ sal hulle my nie glo nie.  Hulle sal vra:  ‘En wie is Hy?’  Wat moet ek dan vir hulle sê?”
EXO 3:14  God het hom geantwoord:  “Ek is soos wat Ek is.  Sê maar net vir hulle:  ‘EK IS het my na julle toe gestuur.”

Kyk nou na hierdie groot ironie.
Wie is in beheer?
Wie slaan die kitaar?

JHN 18:6  En toe Jesus vir hulle sê:  “Dit is Ek!” het hulle almal padgegee en op die grond neergeval.

Hulle kom as ‘n massa daar aan om Hom te vang en dan val hulle soos dooies op die
grond neer.

Die ironiese sy van hierdie gebeurtenis hou egter nie hier op nie.

JHN 18:7  Jesus het sy vraag aan hulle herhaal:  “Wie soek julle eintlik?”   “Jesus van Nasaret,” was hulle antwoord.
JHN 18:8  Jesus se reaksie was:  “Ek het dan vir julle gesê dat dit Ek is.  As julle Mý soek, laat hierdie mense wat saam met My is, dan weggaan.”

Hulle kom om Hom te vang maar Hy deel die bevele uit.  Hy beveel wat gedoen moet
word en wat nie gedoen moet word nie en toe stap Hy saam met hulle op die laaste
gedeelte van Sy reis na Golgota, om Homself aan die kruis met Sy liefde vir hulle en
vir jou en vir my vas te bind.
Hy het die boom laat groei waarvan die kruis gemaak was.
Hy het die yster geskep waarvan die spykers gemaak was.
Want, wie was hierdie Jesus wat aan die kruis gehang het vir jou en vir my?

JHN 1:1-5 
1 Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.  Die Woord was by God,, en die Woord was self God.
2  Hy was reeds in die begin by God.
3  Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.
4  In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig vir die mense.
5 Die lig verlig die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie.

JHN 1:14  En die Woord het mens geword en by ons kom woon.  Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ‘n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

HY het als geskape –
Die boom waaruit die kruis gemaak was.
Die spykers waarmee hulle Hom vasgespyker het.
Die mense wat dit alles aan Hom gedoen het.
Ook en is dit nie wonderlik om dit te weet nie, ook vir jou en vir my, om eendag by Hom vir altyd te wees.

Nee! O nee! ‘n spyker kan God nooit aan ‘n stuk hout vashou nie!
Dit was liefde, soos wat net die Skepper van die heelal kan liefhê.

JHN 3:16  God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Dit is Jesus wat hier praat:

JHN 15:13 Niemand het ‘n groter liefde as hierdie nie:  dit is dat iemand sy lewe opoffer ter wille van sy vriende.

Groete,
Sakkie