DROME EN GESIGTE

DROME EN GESIGTE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vertel my van ‘n droom wat sy gehad het wat haar hinder en vra my dan:

“Hoe kan ek weet of ek my aan ‘n droom wat ek gehad het moet steur en hoe weet ek wat die droom waaraan ek my moet steur beteken?”

Hier is hoe ek na drome en gesigte kyk:

In die Ou Testament het die mense nie die Heilige Gees inwonend in hulle gehad nie en dan het ons Here hulle drome gegee wat hulle gehinder het.
Dan het ons Here mense wat ‘n intieme verhouding met Hom gehad het, gebruik om vir hulle die drome uit te lê.

JHN 7:38  Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.
JHN 7:39  En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

In die Nuwe Testament onder die nuwe verbond, het ons die Heilige Gees inwonend in ons en het ons nie droom uitlêers of wat hulle hulleself ook al wil noem, (die ou mense sou hulle sommer boere bedrieërs genoem het),  om vir ons, Jesus se volgelinge, te sê wat ‘n droom beteken wat ons gedroom het nie, as daardie droom wel iets beteken het.

Vir die kind van God, soos ek dit in die Woord sien, werk dit so:

Daar is drome en dan is daar drome.

Soms droom ek en ek word wakker en ek dink nie meer veel daaraan nie.
Soms droom ek en ek word wakker en die droom hinder my.  Dan bid ek oor die droom en as ek nie klaarheid oor die droom in my hart kry nie, dan vergeet ek van die droom en gaan aan met my lewe.  Want ek weet een ding verseker –
My Vader sal sorg dat ek weet wat ek moet weet wanneer ek moet weet, wat ek moet weet.
Ek noem net weer vir jou.
In die Nuwe Testament het die Heilige Gees in ons begin werk en selfs die mense wat nie volgelinge van Jesus gewees het nie, het nie nodig gehad dat iemand vir hulle ‘n droom van ons Here af moes verklaar nie.
Hulle het geweet, wat hulle moes weet, toe hulle moes weet, wat hulle moes weet.
Dan praat ek nie eens van ons Here se volgelinge nie.

Ek deel met jou twee voorbeelde uit, om dit so te stel, albei kampe uit:

Eers uit diegene wat nie werklik in ons Here geglo het nie.
Hier word van die wyse mane uit die Ooste gepraat.

MAT 2:10  En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug.
MAT 2:11  En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre.
MAT 2:12  En omdat hulle in ‘n droom ‘n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad na hul land teruggegaan.

Niemand het vir hulle hulle droom uitgelê nie.
Hulle het geweet wat hulle moes weet, toe hulle moes weet wat hulle moes weet.

In hierdie volgende voorbeeld, lees jy van Pontius Pilatus se vrou:

MAT 27:19  En terwyl hy op die regbank sit, het sy vrou na hom gestuur en gesê: Moet tog niks te doen hê met dié regverdige man nie, want ek het vandag in ‘n droom baie gely om sy ontwil.

In albei hierdie gevalle, was daar by die wat gedroom het, geen onsekerheid oor hulle drome en wat hulle optrede moes wees nie, al was hulle nie eens volgelinge van Jesus nie.  Want sien, die Heilige Gees het reg van die begin van die (Nuwe testament al in mense se harte begin werk en reguit, op geen onsekere wyse vir mense laat verstaan wat hulle moes verstaan  nie en het nog nooit opgehou nie.
Hier is nog ‘n voorbeeld om te wys, dat die Heilige Gees reg van die begin af in die Nuwe Testament in mense se harte met hulle gedeel het:

MAT 1:18-21 
18 Die geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees.
19  En Josef, haar man, omdat hy regverdig was en onwillig om haar openbaar te maak, het hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei.
20  Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ‘n engel van die Here in ‘n
      droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees;
21  en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.

Niemand het vir hom sy droom uitgelê nie.
Hy het geweet wat hy moes weet, toe hy moes weet wat hy moes weet.

Dit dan om te wys, dat die Heilige Gees reg van die begin van die Nuwe Testament, sonder allerlei foefies en tierlantyntjies met die mens gedeel het.

Nou nog twee gevalle uit die Nuwe Testament, en hierdie keer van mense wat verseker in God geglo het:

MAT 2:13  En toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ‘n engel van die HERE in ‘n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.
MAT 2:14  Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek.

Het jy gesien?
Hy het nie eens daaroor geloop en top nie, hy het, omdat daar in sy hart, as gevolg van die leiding van die Heilige Gees geen twyfel gewees het nie, dadelik, sommer nog in die nag, gedoen wat hy moes doen.

Oor gesigte, nie drome nie, wat mense in die Nuwe Testament gesien het, het ek uit ‘n aantal voorbeelde besluit om hierdie een waar my groot held Paulus by betrokke was as voorbeeld te gebruik:

HAN 16:9  En Paulus het ‘n gesig in die nag gesien—daar staan ‘n Macedóniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedónië en help ons!
HAN 16:10  En toe hy die gesig gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedónië te gaan, omdat ons versekerd was dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig.

Het jy gesien?
Ook wat gesigte aanbetref was daar by Geesvervulde mense dadelik uitsluitsel oor wat van hulle verwag was.  Soos jy nou ook in Paulus se geval gesien het.

Verseker is daar vandag drome, gesigte ens van ons Here af, maar soos ek die Woord verstaan, omdat die voorhangsel middeldeur geskeur het –

LUK 23:45  en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur.
LUK 23:46  En Jesus het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.

Nou het jy en ek deur die Heilige Gees self toegang tot in die Allerheiligste by ons Vader, deur net in gebed te gaan en as Hy nou vir ons iets in ‘n droom of gesig sê, praat Hy nie met my Sy kind in raaisels, sodat ek na iemand wat ‘n intieme verhouding met Hom het moet gaan nie.

As ek my oog op Hom hou en my geestelike ore spits en ek droom of sien ‘n gesig wat van Hom af is, sal niemand nodig hê om vir my met hierdie of daardie simboliek of foefie, sus of so te verduidelik nie.
Na my mening het mense wat waarsê, drome uitlê, deur die sterre voorspel ens ‘n intieme verhouding maar nie met ons Here nie.

In die Ou Testament het ons Here deur drome dit in raaisels gedoen, om die een wat gedroom het, om dit so te stel, nuuskierig te dwing om iemand te soek, wat ‘n intieme verhouding met ons Here het, om die droom of gesig vir hom te verklaar maar ons is Sy kinders en met Sy Gees inwonend in ons, praat Hy nie met ons in raaisels of kodes, of wat jy dit ook al wil noem nie.

As ‘n droom of gesig iets beteken, sal Hy, so glo ek, net soos met Sy kinders in Sy Woord, wat vir my daar as voorbeeld gestel is, ook self vir my, op die een of die ander wyse die volle versekering en betekenis gee.

Ek deel weer met jou twee voorbeelde.

LUK 1:28  En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue.
LUK 1:29  En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken.

Sy dink toe oor dit wat nou gebeur.
Toe gee ons Here op Sy manier ook vir haar dadelik die verduideliking wat sy nodig gehad het.

LUK 1:30  En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind.
LUK 1:31  En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.

Hierdie volgende voorbeeld soos jy sal sien, het met Petrus gebeur:

HAN 10:10-17 
10 en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar ‘n verrukking van sinne oor hom gekom:
11  hy sien die hemel geopend en ‘n voorwerp soos ‘n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word.
12  Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel.
13  Toe kom daar ‘n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet!
14  En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie.
15  En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.
16  En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.
17  En terwyl Petrus by homself daaroor verleë was wat die gesig tog kon beteken wat hy gesien het, staan die manne wat deur Cornelius gestuur was, daar by die poort en verneem na die huis van Simon.

Nou wonder Petrus egter nog oor hierdie gesig en ons Here weet dit en omdat dit van ons Here is, laat ons Here Petrus alles weet wat hy moes weet, toe hy moes weet.

HAN 10:19-21 
19 En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek.
20  Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur.
21  En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was, en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is?

Petrus het nie nodig gehad om eers na hierdie of daardie persoon te gaan, om ‘n verduideliking oor hierdie of daardie simboliek te kry nie.  Toe hy daaroor wonder, toe gee ons Here vir hom die verduideliking.
Ai!
As ek dit tog kan regkry om by die kinders van ons Here uit te kry.
Hou jou geestelike oë op ons Here.
Spits jou geestelike ore vir Sy stem en jy sal weet wat jy moet weet, wanneer jy moet weet, wat jy moet weet.
Hoe doen jy dit?

Ek deel met jou die resep wat ek na die beste van my vermoë beoefen en al faal ek baie, tog vir my werk:

• Ek hou elke dag stiltetyd.
• Ek praat daagliks talle kere met ons Here
• Ek sorg dat ek ‘n goeie kennis van Sy woord het en ek maak seker dat ek daarin nie verflou nie.
• Dan, al vaal ek baie, probeer ek en ek weet ons Here sien dit en Hy help my.  Om na die beste van my vermoë in my menslike swakheid die volgende in my lewe uit te lewe en ek deel dit met jou.

FIL 4:4-8 
4 Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!
5  Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.
6  Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.
7  En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.
8  Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

In die oggend as jy opstaan en jy kyk in die spieël, dink aan al hierdie dinge en sê vir jouself:

FIL 3:12  Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.

Doen dit in opregtheid en glo my, jy sal as jy ‘n droom of gesig van ons Here kry, omdat jy na die beste van jou vermoë probeer om volgens die beginsels van ons Here  te lewe, soos die Geesvervulde volgelinge van Jesus in die woord, ook – weet wat jy moet weet.

Moet asseblief tog nie na hierdie of daardie  persoon gaan, wat met hierdie of daardie simboliek, of foefie, of onder leiding van hierdie of daardie wat ookal drome uitlê nie.

Jy is God se kind en as Hy wil hê jy moet ‘n droom of ‘n gesig verstaan, sal Hy sorg, soos van die begin van die Nuwe Testament af, dat jy moet weet, wat jy moet weet, as dit iets is wat jy moet weet en as jy deur gebed nie uitsluitsel kry nie, wel dan soos ek die Woord verstaan, vergeet dit en gaan aan met jou lewe in Christus.

Groete,
Sakkie