DUIWELJAGTERS

DUIWELJAGTERS

Sakkie Parsons

Ek wil met jou iets deel wat weer by my uitgekom het en wat gereeld in my bediening maar sy kop uitsteek en dit is wanneer mense, en ongelukkig is die meeste van wie ek getuienis het dat hulle dit doen, mense wat hulleself “pastoor” noem.
Ek praat van wanneer mense soos ek dit sien, slu/skelm met die Woord omgaan om hulle soort bediening, soos hulle dit noem te regverdig.

Ek het ‘n skrywe uitgestuur, wat ek ook op aanvraag met jou sal deel, waarin ek noem dat nie alle siektetoestande wat oor ‘n mens kom noodwendig ‘n duiwel is nie en dat as ek vir iemand bid ek nie altyd die siekte duiwel bestraf nie maar gewoonlik net vir genesing bid.
Ek het ook daar genoem, dat geen mens wat Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker ‘n duiwel in haar/hom kan hê nie, gewoon omdat Jesus nie ‘n woning met satan sal deel nie.

Nou ek ken die pastoor, soos hy graag genoem wil word, van geen kant af nie en ek gaan nou nie met jou alles deel wat hy aan die persoon wat van my pos ontvang geskryf het nie, maar ek wil net die volgende uit sy skrywe wat weer aan my gestuur gewees het kwoteer om te wys hoe ‘n mens die Evangelie kan verdraai as jy die Woord buite konteks aanhaal om jou soort bediening te pas.

Die “pastoor” skryf en ek het net so ‘n bietjie aan die spelling verander:
“Hi ….,
Ek stem hoegenaamd nie saam nie.  Ek het 100de mense sien “gesond” word nadat ek  ‘n“siekte” op sy naam aangespreek en beveel het om uit te gaan.
Sonder om n lang diskoers te voer wil ek maar net na Jesus se voorbeeld in Luk 4:38 tot 41 verwys.  Jesus het oor Simon se skoonmoeder gaan staan en die koors bestraf (met woorde) en die koors het gehoor en Hom gehoorsaam en haar verlaat. ‘n “Niks” kan nie hoor, reageer (gehoorsaam wees) en iemand verlaat nie.
Ek het baie duiwels uit Christene uitgedryf.  Ek praat van geredde gees vervulde mense wat deur aggressie, verslawing, depressie, wellus ens. beheer word.”

Ek los nou maar in hierdie skrywe die name van sommige van die sogenaamde soort duiwels of dan bose geeste waarvan die “pastoor” praat en bepaal my by die, na my mening, slu skelm wyse van hoe die “pastoor” met die Woord omgaan.

Hy wou nou bewys, dat ‘n mens met ‘n siekte “moet” praat en dan kwoteer hy:

“Sonder om n lang diskoers te voer wil ek maar net na Jesus se voorbeeld in Luk 4:38 tot 41 verwys.  Jesus het oor Simon se skoonmoeder gaan staan en die koors bestraf (met woorde) en die koors het gehoor en Hom gehoorsaam en haar verlaat.”

Ons lees daar:
Jesus maak Petrus se skoonma en baie ander siekes gesond

LUK 4:38-41
38  Nadat Hy die sinagoge verlaat het, is Jesus na Simon se huis waar Simon se skoonma baie siek met 'n hoë koors was. "Maak haar asseblief gesond," het almal gesmeek.
39 Hy het by haar bed gaan staan, die koors bestraf, en sy het dadelik gesond geword. Sy het onmiddellik opgestaan en 'n maaltyd vir hulle voorberei.
40 Met sononder daardie dag het almal hulle siekes na Jesus toe gebring. Ongeag watter siektes hulle gehad het, Jesus het hulle aangeraak en almal genees.
41 Sommige was van duiwels besete en die duiwels het op sy bevel uitgekom terwyl hulle skree: "U is die Seun van God." …

Te wonderlik, kwoteer die “pastoor” die Woord maar sonder om aan die persoon aan wie hy skryf te noem, dat daar twee keer vroeër in die Nuwe Testament, deur twee verskillende skrywers oor hierdie gebeurtenis geskryf word.  Waar dit baie duidelik is, dat volgens daardie skrywers, Jesus nie met die koors gepraat het nie.
Hou dan ook in gedagte, dat Lukas net ‘n mens was, wat volgens sy eie getuienis  navorsing oor al hierdie gebeure gedoen het.
Hyself was nie by nie.

LUK 1:1 Hooggeagte Teofilus: Baie mense het probeer om 'n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons gebeur het.
LUK 1:2 Hulle het as inligtingsbron die verhale gebruik wat die eerste ooggetuies en dienaars van die Woord aan ons oorgelewer het.
LUK 1:3 Nadat ek al hierdie verhale van voor af noukeurig ondersoek het, het ek besluit om 'n getroue samevatting daarvan vir u neer te skryf.

Soos ek reeds genoem het, twee keer vroeër in die Woord lees jy reeds van hierdie gebeurtenis.  Deur twee verskillende skrywers.  Dan eers kom jy by Lukas se beskrywing van daardie gebeurtenis uit maar die “pastoor” slaan daardie twee kere wat dit vroeër in die Woord geskryf staan albei gerieflikheidshalwe vir hom oor en gaan na die een wat hy buite die konteks met die res van die Woord aanhaal.

Die ander twee kere lees as volg:
MAT 8:14-17
14 Toe Jesus by Petrus se huis kom, sien Hy dat Petrus se skoonma met ‘n hoë koors siek in die bed lê.
15 Hy het haar hand aangeraak en die koors het haar verlaat.  Sy het opgestaan en Hom bedien.
16 Teen die aand het hulle baie duiwelbesetenes na Hom toe gebring.  Hy het daardie bose geeste uitgedryf deur hulle aan te spreek en Hy het almal wat siek was, gesond gemaak.
17 So het die uitspraak van Jesaja waar geword wat lui:  “Hy het ons kwale sy eie gemaak, en ons siektes het Hy op Homself geneem.”

Wat sal ons dan sê en ek sê dit met die grootste respek teenoor my Jesus maar om te wys hoe belaglik die man se redenasie is.

Sou Jesus dan siekte bose geeste ook van Hom laat besit neem het?
MAT 8:17   … en ons siektes het Hy op Homself geneem.”

In die tweede geval waar die Woord oor dit wat die “pastoor” kwoteer praat, lees ons:

MRK 1:30 Simon se skoonma was siek in die bed vanweë 'n hoë koors. Hulle het dadelik vir Jesus van haar vertel.
MRK 1:31 Hy het toe na haar bed toe gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors was weg en sy het vir hulle 'n ete voorberei.
MRK 1:32 Teen sononder daardie aand is baie siekes en mense wat onder die mag van bose geeste was, na Hom gebring.

Wat die Woord met hierdie gebeurtenis na my mening vir ons wil sê is dit:

Petrus se skoonma was siek en niemand kon vir haar iets gedoen het nie maar Jesus kon.
Lukas wat ook Handelinge geskryf het skryf byvoorbeeld meer as eenkeer oor my groot held Paulus se bekering en op die oog af is daar verskille
Totdat jy onthou, dat Lukas eintlik nie ‘n skrywer is nie maar ‘n dokter, wat sy talent om te kan skryf tot eer van ons Here gebruik het en in sy feilbare mensheid geskryf het wat hy gehoor en soos hy dit onthou het.

Jy kan oor Paulus se bekering byvoorbeeld gaan lees vanaf HAN 9:3. 
Asook vanaf HAN 22:6 .
In die eerste geval hoor die mense die stem maar sien nie die lig nie en in die tweede geval hoor die mense nie die stem nie maar sien die lig.

Dit verander egter niks aan die feit, dat die Woord Heilige Gees geïnspireerd is nie.

Dit bewys juis na my mening, hoe kinderlik eerlik die skrywers van die Nuwe Testament te werk gegaan het.
By hulle was, anders as soms vandag, geen verskuilde of skelm agendas gevind nie.

Wat die Woord uiteindelik hier vir ons sê, wat werklik belangrik is, is dat Paulus op ‘n wonderbaarlike wyse tot bekering gekom het en dadelik ‘n radikale omkeer in sy lewe gemaak het.

Sommer vir die interessantheid daarvan:
Matteus wat ook Levi genoem word, was ‘n dissipel van Jesus en Markus was ‘n ywerige werker vir die Evangelie van Jesus wie se naam 8 keer in my een Bybel voorkom en wie deur Petrus “my seun” genoem word.  Wat my laat dink, dat Markus deur Petrus na ons Here gelei en geestelik opgevoed was.

Terug by die onderwerp:

As kind van ons Here, weet ek een ding verseker –
As ek ‘n gedeelte uit die Woord neem en ‘n evangelie daarom bou en verkondig wat in stryd met die res van die Woord is, verkondig ek ‘n evangelie en nie die ware Evangelie van Christus nie en dit is verseker so met al hierdie duiweljagters wat links en regs duiwels uit bloedgewaste kinders van ons Here wil dryf.

Luister wat sê die Woord:

GAL 2:20 Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my (Sonder enige duiwels ook in ons) Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.

1 KOR 6:19 Of verstaan julle nie dat julle liggame 'n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon (nie saam met bose geeste ook nie) en deur God aan julle gegee is nie? Julle behoort nie aan julleself nie, (ook nie eens gedeeltelik aan ‘n bose gees nie).
1 KOR 6:20 want julle is teen 'n duur prys gekoop. Daarom moet julle God met julle liggaam verheerlik.

EFE 1:13 Deur wat Christus gedoen het, het ook julle die waarheid gehoor, die Goeie Nuus waardeur julle gered word. Deur wat Christus gedoen het, is julle, toe julle tot geloof gekom het, tot God se eiendom (en Sy eiendom alleen) gemerk.  Hierdie eiendomsteken is die Heilige Gees wat God belowe het.

So met ‘n glimlag..

Hierdie duiweljagters soos ek hulle noem, sal nie sommer vir ‘n verkoue as ‘n bose gees bid nie, want die kanse is goed, dat hulleself ook later met hierdie verkoue bose gees gaan sit.
Hulle sal ook nie vir iemand wat sonder ‘n ledemaat bid en byvoorbeeld die beenlose of armlose duiwel bestraf nie maar jou kanse is goed, of is dit nou sleg, dat hulle die blinde duiwel – dit het al met my gebeur – bestraf, en as jy kreupel is, kan die kreupel duiwel in jou ook baie vinnig bestraf word.

So, moet tog nou nie ophou om jou kinders te laat in ent wanneer dit gedoen moet word nie, al word jy volgens hierdie duiweljagters seker maar met die een of ander bose gees in geënt en neem tog maar jou griep inspuiting, al word jy dan eintlik volgens die duiwel- jagters se siening, dit is nou as hulle konsekwent wil wees, wat hulle ook nie gewoonlik is nie, met die bose griep gees ingespuit.  Want ‘n griep inspuiting is eintlik net ‘n gemanipuleerde griepvirus.

Onthou nou ek praat nie van die opregte bidders, wat byvoorbeeld die verskil tussen ‘n siekte en ‘n duiwel kan optel en wie besef, dat verslawing nie ‘n duiwel is nie.

Ek wil nou ten slotte net oor een van hierdie “pastoor” se bose geeste naamlik juis verslawing sê:
Om aan iets verslaaf te wees, is verseker nie om ‘n bose gees in jou te hê nie.
Dit is ‘n toestand wat normaalweg nie so behoort te wees nie.
Ek sê ”normaalweg” want daar is uitsonderings en ek hoop die beste van hierdie uitsonderings, is ook deel van jou lewe.  Dit is verseker deel van myne.

1 KOR 7:22 En onthou, alhoewel jy 'n slaaf was toe die Here jou geroep het, het jy 'n vrygemaakte van die Here geword; en omgekeerd, as jy vry was toe jy geroep is, het jy 'n slaaf (verslaafde) van Christus geword.

As jy byvoorbeeld aan tabak verslaaf is, het jy nie nou ‘n bose gees in jou nie.  Dit is sommer twak.

Jy is ‘n rook verslaafde, waarvan jy terwille van jou eie en jou geliefdes se gesondheid so gou moontlik moet ontslae raak maar jy as kind van ons Here sal nie hel toe gaan omdat jy nou aan tabak verslaaf is nie.
Die duiweljagters noem dit graag ‘n rook duiwel of so iets maar dan, soos jy gesien het sommige “pastore” noem enige verslawing ‘n duiwel of dan ‘n bose gees.
Daar is mense wat byvoorbeeld aan sjokolade verslaaf is.
Dit is dan seker ‘n sjokolade duiwel.
Ekself is versot op, oeps, dit is seker vir sommige van hierdie duiweljagters nog erger, aan donker sjokolade.

Luister mooi:
As jy werklik Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, mag jy ‘n siekte toestand hê waarvoor gebid mag word.

Jy mag verslaaf wees aan iets waarvoor gebid moet word maar jy kan nooit vir solank jy ‘n dissipel van Jesus is ‘n duiwel, of dan bose gees in jou hê nie.

Al hoe jy ‘n duiwel of  dan ‘n bose gees in jou kan kry, is as jy jou rug op Jesus draai en van Hom wegstap.  Want dan, net soos Judas, my suster/broer, stap jy reg in die arms van satan in.

Luister kind van God en loof ons Here daarvoor:
Jy wat Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, het hierdie heerlike versekering:

1JOH 4:4 Julle is egter van God afkomstig, my kinders, en julle het hulle reeds oorwin omdat die Gees (Hy alleen) wat in julle woon, magtiger is as die gees wat (nie in julle nie maar) in die wêreld woon.

Groete,
Sakkie