EIESINNIGHEID EN WEDERSTREWIGHEID IS NIE DEEL VAN DIE VRUG VAN DIE GEES NIE

EIESINNIGHEID EN WEDERSTREWIGHEID IS NIE DEEL VAN DIE VRUG VAN DIE GEES NIE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my baie kort die volgende:

“Kan jy ook 'n lesing gee oor eiesinnigheid en wederstrewigheid. Sal dit waardeer.”

Om oor hierdie begrippe te praat moet ‘n mens eers onthou wat eiesinnig en wederstrewig beteken.

Iemand wat eiesinnig is, is iemand wat altyd haar/sy eie neigings, dit wat vir haar/hom belangrik is volg.

Om wederstrewig te wees, is om, opstandig, koppig en ongehoorsaam te wees.

‘n Voorbeeld van ‘n mens wat aan albei hierdie kriteria voldoen kry ons in die Woord, as ons na koning Saul van Israel kyk en ons lees ook dan in 1SAM 15:22-23, Dat Samuel vir Saul sê:

1SAM 15:22 Maar Samuel antwoord:  “Wat verkies die Here:  Brandoffers of gehoorsaamheid?           Gehoorsaamheid is beter as offers;  om te luister is beter as die vet van ramme.
1SAM 15:23 Opstandigheid is net so ’n oortreding soos waarsêery, en hardkoppigheid is net so ’n sonde soos afgodery. Omdat jy die Here se woord verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”

In ‘n ouer Vertaling, lees hierdie gedeelte as volg:

1SAM 15:22  Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.

1SAM 15:23  Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.

Om nou te weet of die begrippe van eiesinnigheid of wederstrewigheid by ‘n Christen, of dan kind van God tuis hoort, kom ons kyk ‘n bietjie hoe volgens my mening, wat ek uit die Woord geleer het, die karakter van ‘n kind van ons Here behoort te lyk.

Anders gestel –
Kom ons kyk na ‘n paar kenmerke of dan eienskappe van ‘n ware kind van ons Here om te sien of ‘n Christen eiesinnig en of wederstrewig as deel van haar/sy karakter het, of dan behoort te hê.

In iemand wie ‘n wáre Christen is, sal jy vind, dat van haar/sy karaktertrekke is, dat hulle eerlik is.

Dat hulle etiese waardes aan niemand, buiten die goddelose aanstoot gee nie.
Dat hulle ‘n naasteliefde het vir elke mens wie ons Here hulle pad langs stuur.  Anders gestel, ‘n Christen is iemand vol mensliewendheid.
Omdat ons sondige mense is, skiet baie van ons, ek wil eintlik skryf, die meeste van ons, waar onder ek myself insluit, soms ver te kort maar ons het die Heilige Gees, wat ons voortdurend aanmoedig om aan ons swakhede in hierdie verband te werk.

Daarom kan ons onder leiding van die Heilige Gees dan ook saam met my groot held Paulus getuig:

FIL 3:12-16
12 Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!
13  Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê.
14  Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.
15 Almal van ons wat geestelik volwasse is, behoort hierdie doel te hê. As daar enigiets is waaroor julle anders dink, sal God ook dít vir julle duidelik maak.
16 Nietemin, laat ons aanhou loop op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het.

Ek sou ‘n wáre Christen se karakter so opsom:

‘n Christen is iemand in en deur wie jy gereeld, baie gereeld, soos in gedurig, die manifestasie van die beginsels van Jesus Christus sal sien manifesteer en as ons struikel, nee, wanneer ons struikel (want ons, feilbare mense struikel dikwels) het ons dadelik berou en bely dit teenoor ons Here en probeer om nie weer in dieselfde strik te trap nie en beur dan weer voort na ons hoë roeping waartoe ons Here ons geroep het:

FIL 3:14  … en (jy en ek) strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

Ek sluit hierdie skrywe aan jou af deur die volgende uit die Woord te kwoteer:

EFE 4:30-32 
30 Ja, moenie God se Heilige Gees hartseer maak nie. In julle eenheidsband met die Heilige Gees lê julle waarborg dat julle God se verlossingsdag sal belewe.
31 Raak saam met alle ander slegte dinge (soos eiesinnigheid en wederstrewigheid) ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek.
32 Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.

So, kom ons strewe om die vrug van die Heilige Gees te dra en soos jy sal sien as jy dit lees.  Eiesinnigheid en wederstrewigheid is nie deel van die vrug van Die Heilige Gees nie:

GAL 5:22-25 
22 Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,
23 sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie.
24 Maar dié wat aan Christus Jesus behoort, het die hartstogte en die begeertes van hulle sondige geaardheid gekruisig.
25 Ons lewe deur die Gees; daarom moet die Gees ook ons leefstyl bepaal.

Groete,
Sakkie