IS EK AANVAARBAAR VIR ONS HERE?

Is ek aanvaarbaar vir ons Here ?

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en gevra:

“Hoe weet ek, dat ek aanvaarbaar vir Jesus is?

Want, al probeer ek ook hoe hard, ek sondig kort-kort.”

Ek wil begin deur te sê, dat ten spyte van wat baie mense ons wil vertel, leer die Woord my, dat ons Here graag sou wou dat álle mense in die Hemel by Hom moet kom woon.  Ja, dat niémand verlore, met ander woorde in die hel moet beland nie.

JHN 3:16 God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

JHN 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word.

JHN 3:18 Die persoon wat aanhou om in Hom te glo, word nie veroordeel nie.  Die een wat egter nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.”

2 PET 3:9 Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie.  Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle.  Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie, en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom.

Nou, omdat die mens na ons Here se beeld geskape is, het ons soos ons Here ‘n wil van ons eie gegee en ongelukkig oefen die meeste mense hulle wil uit deur te besluit om nié ons Here Jesus aan te neem as Verlosser en Saligmaker nie:

MAT 7:13 “Gaan die koninkryk deur die nou poort binne.  Want wyd is die poort, en breed is die pad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan.

MAT 7:14 Hoe bitterlik nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie!  Min is die mense wat dit kry!”

Kom ons kyk nou na jou vraag:

“Hoe kan ek weet of ek vir Jesus aanvaarbaar is?”

Toe Jesus Golgota toe gestap en aan die kruis vir my en jou sondes gaan sterf het, toe my vriend/vriendin, het Sy volmaakte offer  vir jou en my vir ons Here aanvaarbaar gemaak.

Want jy sien –

Omdat ons Here die een en enigste volmaakte God in die Heelal is, kon ook net ‘n volmaakte offer ons aanvaarbaar vir God Almagtig maak, en die enigste volmaakte offer wat ons Here in die heelal kon vind, was Sy Seun – Jesus Christus.

Onthou jy wat daar geskryf staan?

(1953 Vertaling)

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Daar is niks, níks, absoluut geheel en al niks wat ek of jy kan doen, wat ons meer aanvaarbaar vir ons Here kan maak nie.

Ons Here het alles gedoen wat gedoen moet word.

Toe roep Hy in Sy groot liefde jou en my na Hom deur ons Sy Evangelie te laat hoor.

Van daardie oomblik af was, dit om ‘n ou geykte uitdrukking te gebruik:

“Die bal aan ons kant van die baan.”

Nou is dit ék wat moet besluit.

ROM 5:8  God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was.

2KOR 5:21  God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word.

Nou, by wyse van spreke, met die bal aan my kant van die baan, is die vraag dit:

Gebruik ek my wil wat ‘n eienskap van my beeldskap van ons Here is, om Jesus aan te neem as my Verlosser en Saligmaker?

Of ploeter ek maar voort op my pad hel toe?

JHN 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Ek het Jesus Christus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker.

Beteken dit nou dat ek ‘n sondelose lewe hier op aarde lewe?

Nee!  Absoluut nié – Maar nou kan ek dit in groot heerlike vrede in my hart uitjubel:

1JOH 1:9 As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.

1JOH 1:10 As ons beweer dat ons tot nou toe nie gesondig het nie, maak ons Hom tot ‘n leuenaar.  Dit beteken ook dat sy woord nie in ons lewe plek gekry het nie.

Aan die anderkant, beteken dit natuurlik ook nie dat ek nou maar moedswillig kan sonde doen nie.

HEB 10:26  As ons opsetlik bly sonde doen nadat ons die volle waarheid leer ken het, bly daar geen offer vir daardie sondes oor nie.

HEB 10:27  Al wat oorbly, is die vreeslike vooruitsig van God se oordeel en ‘n gloeiende vuur wat God se vyande gaan verteer.

Daarom sê Jesus ook aan die vrou wat op ‘n daad van owerspel betrap gewees het:

JHN 8:10  Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê:  “Dame, waar is hulle een?  Het niemand jou veroordeel nie?”

JHN 8:11  Sy het geantwoord:  “Niemand nie, Meneer.”  Jesus sê toe vir haar:  “Ook Ek veroordeel jou nie.  Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Met ander woorde, as ek dit nou reg verstaan –

Jesus sê vir haar, dat Hy haar vergewe het vir hierdie owerspel wat sy gepleeg het en sy moet nou nie weer owerspel gaan pleeg nie.

Natuurlik gaan ons nog sondig maar ons moet al die tyd aste ware teen daardie sonde in ons lewe veg.

Laat ek dit so verduidelik:

Toe ek tot bekering gekom het, het ek gerook.

Ek het geweet dit is verkeerd maar ek was ‘n rook verslaafde.

Ek het elke dag hard probeer om nie te rook nie en ook gereeld daaroor gebid en terwyl ek gebid het, het ek ook geweet, ek gaan weer rook maar dit het my elke keer so gepla as ek gerook het en dan het ek maar weer hartseer na ons Here gegaan, totdat ek uiteindelik met die liefdevolle genade van ons Here my rook verslawing oorwin het.

Jy sien.

Ek moet net nooit dat die sonde in my lewe, die norm in my lewe word nie.

Ek moet daar teen veg, al veg ek my hele lewe daar teen en al gaan ek baie val wat daardie sonde verslawing aanbetref maar ek mag nooit dit maar aanvaar as, dit is nou maar hoe dit is nie.

Iemand vra dalk:

“Wat moet ek doen om hierdie wonderlike liefdesverhouding met Jesus te hê?”

Bekeer jou

Met ander woorde, draai om van die lewe wat jy gelewe het na Jesus toe en laat Hom toe om beheer van jou lewe oor te neem.

Die HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) sê van die woord ‘bekeer’ onder andere die volgende:

Bekeer: V.d. slegte na die goeie oorhaal.  Tot inkeer bring.

HAN 2:37  Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander  apostels gevra: “Geagte volksgenote, wat moet ons doen?”

HAN 2:38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God.

   Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.

HAN 2:39 Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal nader roep.”

HAN 3:19  Kom tot inkeer en maak reg met God sodat julle sondes uitgevee kan word. 

Om dan op te som:

Is jy aanvaarbaar vir ons Here?

Natuurlik is jy aanvaarbaar vir ons Here.  Jesus het dit deur Sy kruisdood bewerkstellig.

Hy het ook deur te sorg dat jy Sy evangelie hoor, jou ook na Hom geroep.

Nou hang dit van jou af…

Gaan jy jou bekeer? 

Met ander woorde, gaan jy jou rug draai op die lewe wat jy tot nou toe gelewe het, of gaan jy maar so met jou rug na Jesus gedraai, voort lewe?

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.