EK IS DIE HERE

“EK IS DIE HERE”

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra my of ek dalk LEV 19:27 kan verduidelik.
Ons lees daar:

LEV 19:27  Julle mag die rand van julle hoofhare nie rond wegskeer nie. Ook mag jy die rand van jou baard nie skend nie.

Hier dan is hoe ek hierdie gedeelte uit die Woord verstaan:

Laat ek dadelik eers begin deur te sê en dit is ook waarom ek hierdie skrywe ook met jou deel, dat gelukkig het hierdie en baie, baie ander dinge wat jy in die wet van Moses sal lees, geen betrekking op jou en my wie Christene is nie.

Christene is nie deel van die Ou Verbond wat ons Here met die Israeliete gesluit het nie – maar ons as Christene is deel van die Nuwe Verbond/Testament.

MRK 14:23 Hy het ook die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee en hulle het almal daaruit gedrink.
MRK 14:24 Hy sê toe vir hulle: "Dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet.

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte so:
MRK 14:23  Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle, en hulle het almal daaruit gedrink.
MRK 14:24  En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed, die bloed van die Nuwe testament, wat vir baie uitgestort word.

HEB 9:15 Daarom is Hy ook die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en ons sodat almal wat geroep is, die ewige erfdeel kan ontvang wat God vir hulle beloof het. Want Christus het gesterf om hulle te verlos van die straf op die oortredings wat onder die eerste verbond begaan is.

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

HEB 9:15  En daarom is Hy Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.

Nou, wat LEV 19:27 aanbetref –
Ons lees:

LEV 19:27  Julle mag die rand van julle hoofhare nie rond wegskeer nie. Ook mag jy die rand van jou baard nie skend nie.
LEV 19:28  Julle mag ook ter wille van ‘n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE.

My verduideliking sal ook vir jou heeltemal sin maak as jy ook onthou, hoékom ons Here vir hulle gesê het, dat hulle dit nie mag doen nie.

Ons Here sê aan die einde van vers 28, dat Hý en Hý alleen die HERE is:
LEV 19:28  … Ek is die HERE.

Toe die Israeliete naby en in die beloofde land gekom het, het hulle te doen gekry met baie volke en baie van hierdie volke het hierdie soort ding aan hulleself gedoen om ontsag vir hulle afgode te toon en ook sommer, dat die ander mense kon sien in wie en hoé hulle glo.
Amper iets soos ons wat byvoorbeeld ‘n kruisie aan ‘n goue of silwer kettinkie om die nek sal dra.
Ek byvoorbeeld het ‘n houtvissie wat teen my rekenaar gesit is.

Ons Here wou nie dat die Israeliete iets doen, wat hulle dalk sou kon vereenselwig met die ander nasies se aanbidding van hulle gode nie.

Want jy sien, so gee ons Here die rede waarom hulle dit nie mag gedoen het nie:

LEV 19:28  … Ek is die HERE.

Daar is nog twee ander plekke in die Woord waar jy ook van hierdie en soortgelyke dinge lees naamlik:

LEV 21:5  Hulle mag op hul hoof geen kaalte maak en die rand van hulle baard nie wegskeer en in hulle vlees geen insnyding maak nie.

Want jy sien, so sê die Here, as jy aanhou met lees:

LEV 21:6  Heilig moet hulle aan hulle God wees en die Naam van hulle God nie ontheilig nie; want hulle offer die vuuroffers van die HERE, die spys van hulle God; daarom moet hulle heilig wees.

Asook:
DEU 14:1  Julle is kinders van die HERE julle God; julle mag julle ter wille van ‘n dooie nie stukkend kerwe of ‘n kaalte tussen julle oë maak nie.

Want sê ons Here as jy verder lees:

DEU 14:2  Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God, en jou het die HERE uitverkies om sy eiendomsvolk te wees uit al die volke wat op die aarde is.

Ek het ook ‘n ander gedagte uit die Woord geskryf wat sake rondom hierdie aspek, wat die Christen aanbetref nog meer verduidelik en ek stuur dit met groot liefde op aanvraag aan jou.  Die naam daarvan is:

“Hoe heerlik!  Jy en ek is vry …”

Groete,
Sakkie