EK DRA JESUS SE EVANGELIE UIT AL IS DIT SOMS ONDER MOEILIKE OMSTANDIGHEDE

EK DRA JESUS SE EVANGELIE UIT AL IS DIT SOMS ONDER MOEILIKE OMSTANDIGHEDE

Sakkie Parsons

Ek hoop dat hierdie skrywe elkeen sal bemoedig wat werklik ‘n passie vir die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus het en met wie dit, wat hierdie lewe aanbetref, soms nie goed gaan nie – dat juis dit wat hulle soms ondervind, ook hulle bemoediging en vertroosting sal wees.

Ek wil jou vandag iets wys wat by my opgekom het terwyl ek weer so gesit en dink het oor baie pos wat ek ontvang van mooi kinders van ons Here wat in moeilike omstandighede beland het, terwyl hulle vir ons Here na die beste van hulle vermoëns in hulle omstandighede vir ons Here se koninkryk probeer werk.

Sommige van hulle kan dan nie verstaan nie.
Hier probeer hulle na die beste van hulle vermoë tot eer van ons Here te lewe en so op ander eerlike wyses vir ons Here siele wen maar kyk nou net hoe swak, soms haglik, in vergelyking met ander mense in die wêreld om hulle, gaan dit met hulle.

Eers wil ek begin deur met jou te deel wat my groot held Paulus sê ons altyd moet doen en dan wil ek jou ‘n wonderlike les uit sy lewe wys waar hy die daad by die woord gevoeg het. 
Hy skryf:

EFE 5:19-21 
19  Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here,
20  terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus,
21  en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.

Een ding wat jy altyd vind by Christene wie met opregte harte ‘n passie het om siele vir Jesus te wen is:
“They walk the walk of the talk that they talk” en by Paulus was dit natuurlik nie anders nie.

Nou wil ek jou op iets wys:
Paulus wie eens op ‘n tyd Christene vervolg en medepligtig aan moord op baie Christene gewees het, is nou ‘n wáre apostel van Christus en terwyl hy na die beste van sy vermoë vir ons Here met ‘n opregte hart lewe en werk, kry hy die volgende opdrag van ons Here:

HAN 16:9  En Paulus het ‘n gesig in die nag gesien—daar staan ‘n Macedóniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedónië en help ons!
HAN 16:10  En toe hy die gesig gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedónië te gaan, omdat ons versekerd was dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig.

Nou kan jy my maar glo as ek vir jou sê, dat ‘n mens stig nie sommer ‘n gemeente vir Jesus Christus  in ‘n dorp, stad, of waar ookal in ‘n paar dae, as niemand daar al van Christus gehoor het nie – maar Paulus en Silas kon, omdat hulle harte werklik reg voor ons Here was en ons Here geweet het, dat Hy hulle kon gebruik het soos wat Hy hulle daar moes gebruik het.

Jy kan beswaarlik dit vandag doen – dit is nou ‘n gemeente binne ‘n paar dae stig waar daar nie een gewees het nie – al is daar mense in die dorp waar jy ‘n gemeente wil stig wat al van Christus gehoor het.  Ek weet waarvan ek praat en as jy my nie glo nie vra maar die herder van jou gemeente waar jy nou aanbid.

Paulus is egter opreg in sy voorneme en in so ‘n geval, kan en gaan ons Here jou gebruik op die beste moontlike wyse wat gaan help dat die verlore mense om jou moet aandag gee en die waarheid wat jy verkondig moet glo en Jesus aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker en jou so help om skatte vir jouself in die Hemel te vergader.

Terug by Paulus in Macedónië, vir wie ons Here nie net by daardie geleentheid kon gebruik het nie, maar hom nog steeds vandag vir ons voorhou oor wat gedoen kan word, as jou hart suiwer op Jesus en Sy evangelie ingestel is.

Hulle het nie baie tyd nie en die hele Macedónië lê nog wit van die oes wat afgehaal moet word en daarom gaan ons Here vir Paulus en sy metgesel, omdat hulle opreg gewillig is, op die vinnigste wyse moontlik gebruik om binne ‘n paar dae die eerste gemeente in Macedónië te vestig.
Gaan lees die hele gebeurtenis in Handelinge 16.  Ek hou jou hier net voor wat ek vir hierdie skrywe as relevant beskou:

HAN 16:20-40 
20 en hulle voor die regters gebring en gesê: Hierdie manne bring ons stad in opskudding, omdat hulle Jode is,
21  en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is.
22  En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regters het hulle klere laat afskeur en bevel gegee om hulle met stokke te slaan.
23  En toe hulle hul baie slae gegee het, het hulle hul in die gevangenis gewerp en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle sorgvuldig te bewaak.
24  Hy het toe, omdat hy so ‘n bevel ontvang het, hulle in die binneste gevangenis gewerp en hulle voete in die blok vasgemaak.
25  En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; (onthou jy wat jy hier bo gelees het, wat Paulus geskryf het in EFE 5:19-21) en die gevangenes het na hulle geluister.
26  En skielik kom daar ‘n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak.
27  En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy ‘n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het.
28  Maar Paulus het met ‘n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.
29  En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer.
30  En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?
31  Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.
32  En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.
33  En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.
34  Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle ‘n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.

As hulle nie mishandel was en onskuldig in die tronk gegooi was nie, sou al daardie mense nie tot bekering gekom het nie maar ons Here het geweet wat Hy in Paulus en Silas gehad het.
Nie net gebruik ons Here hulle toe op daardie wyse om die eerste gemeente in Macedónië te stig nie maar ons Here, om dit so te stel,  maak hulle nog by dit alles oorwinnaars oor hulle vyande, om so vir hulle nuwe bekeerlinge te wys waartoe die God in staat is wie hulle nou aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker:

35  En toe dit dag word, stuur die regters die geregsdienaars en sê: Laat daardie manne los.
36  En die tronkbewaarder het hierdie woorde aan Paulus oorgebring: Die regters het laat weet dat julle losgelaat moet word; gaan dan nou uit en reis in vrede!
37  Maar Paulus sê vir hulle: Hulle het ons in die openbaar onveroordeeld geslaan, ons wat Romeinse burgers is, en ons in die gevangenis gewerp, en wil hulle ons nou in die geheim uitwerp? Volstrek nie! Laat hulle self kom en ons uitlei.
38  En die geregsdienaars het hierdie woorde aan die regters oorgebring, en dié het bang geword toe hulle hoor dat hulle Romeine was.
39  Daarop het hulle gekom en hulle gesmeek en uitgelei met die versoek om uit die stad te vertrek.
40  En nadat hulle die gevangenis verlaat het, het hulle na die huis van Lídia gegaan; en hulle het die broeders gesien, hulle bemoedig en weggegaan.

Kom ons kyk nou net weer na met dit wat vars in ons geheue is uit die hoek uit van waar Paulus hulle gestaan en kyk het  – maar sonder hulle groot geloof.  Hulle kon geredeneer het:
“Hoe op die aarde kan ‘n mens ‘n gemeente vir ons Here stig, as Hy dan nou toelaat dat ons in die tronk gegooi word en dan nog met flenters geslaande liggame en geskeurde klere!!!
Dit nadat Hyself vir ons gestuur het om hier ‘n gemeente te kom stig.”

Het Paulus en Silas so geredeneer?  Nee.  Wat het hulle gedoen?

HAN 16:25 En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister

So, ek wil jou bemoedig.  Jy, wie in die weë van ons Here lewe, al gaan dit soms moeilik en soms, báie moeilik, terwyl jy hard werk om siele vir ons Here te wen en al kan jy selfs nie menslikgewys aktief vir ons Here werk nie maar jy lewe jou lewe so, dat die mense Jesus in en deur jou kan sien.
Jy is besig om vir jou skatte in die Hemel te vergader.  Terwyl jou swaar op hierdie aarde maar ‘n baie kort tydjie is in vergelyking met die  Ewige Lewe wat vir jou wag:

1PET 1:6-9 
6 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge,
7  sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;
8  vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap,
9  en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.

Ek het meer as een keer verwys na skatte in die Hemel wat jy en ek kan vergader.  So laat ek net soos ek al in die verlede verduidelik het, weer iets oor hierdie saak vir jou noem:

Kan ek na iets hier op aarde kyk en besluit – ‘Dit neem ek as ‘n skat saam Hemel toe’ – en dit dan doen?

Die antwoord is dan natuurlik soos ek dit sien, ‘n baie besliste; Nee.

God sê dan ook in Sy Woord:

1TIM 6:7  Alles in aanmerking geneem, het ons tog niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons sal ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie.

Tog kom Jesus en sê vir ons:

MAT 6:19-21  
19 “Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar motte en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie.
20  Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie.
21  Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Jy sien, volgens wat ek in hierdie verband verstaan werk dit so:

Ek kan niks saam met my Hemel toe neem nie, máár ek kan tog vir my skatte in die Hemel vergader.
Elke mens wie jy help om by Jesus uit te kom en wie Jesus dan aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker, is ‘n skat wat jy tot in alle ewigheid vir jou in die Hemel vergader het.

Ja, aan elkeen aan wie jy en ek die Evangelie van Jesus Christus alreeds verkondig het en nog gaan verkondig, en wie Jesus dan aanneem as Verlosser en Saligmaker en Hom dan die res van hul lewens volg tot in die Hemel, is ‘n skat waaraan ek en jy deel het.

Elke mens wie jy en ek help om staande te bly totdat Jesus hulle kom haal, en Hom dan so die res van hul lewens volg tot in die Hemel, is ‘n skat waaraan ek en jy deel het.

Elke mens wie jy en ek weer uit die stof van hierdie wêreld ophelp en nog gaan ophelp, en dan vir Jesus die res van hul lewens volg tot in die Hemel, is ‘n skat waaraan ek en jy deel het en dit is so ‘n kosbare skat, dat Jesus Sy lewe vir daardie skat wat jy in die Hemel vergader gegee het.

Vir almal wat werklik hard vir ons Here werk en met wie dit nou nie so goed gaan soos byvoorbeeld met die “prosperity preachers“ nie, wil ek bemoedig.
Jy is maar net deel van die vervulling van wat Jesus oor ons geprofeteer het:

JHN 16:33  Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

Dan kom Paulus en bevestig Jesus se woorde en hou ook sommer in gedagte wat jy hierbo aangaande hom gelees het as jy lees wat hy skryf:

1KOR 4:11-13 
11 Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond,
12  en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit;
13  word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe.

Hoe wonderlik!
Ons kan midde in ons omstandighede – hoe swak dit ookal mag wees, terwyl ons die Evangelie van Jesus Christus verkondig,  jubelend in die gees getuig:

2 KOR 4:6-9
6  Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.
7  Maar ons het hierdie skat in erdekruike, (dit is in ons stoflike liggame) sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.
8  In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie;
9  vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.

Hoe heerlik om dan in die gees na jou omstandighede te kyk, terwyl jy jou oë stip op Jesus hou in jou lewe en dan te lees:

ROM 8:28-31 
28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
29  Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;
30  en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.
31  Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?

Kom ons loof ons Here in ons omstandighede en werp al ons sorge op Hom.
Onthou ook altyd:  Jy, terwyl jy werk om siele vir Jesus te wen, is die duidelikste bewys wat jy het vir die wêreld om jou – dat Jesus ‘n verloregaande siel vir die Hemel wil en kan red.

Groete,
Sakkie