EK GROET JOU, GESEËNDE VROU! DIE HERE IS MET JOU!

EK GROET JOU, GESEËNDE VROU! DIE HERE IS MET JOU!

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:

“Ek wil graag by jou hoor – Iemand sê dat nêrens in die Bybel staan dat ‘n vrou ‘n mens is nie?
Ek is baie ongelukkig maar kort verse om hom verkeerd te bewys.”

Ek deel graag met jou my antwoord aan die dame. Een van die redes waarom ek hierdie antwoord met my lesers deel, is om uit te lig dat mense wat die Woord misbruik vir allerlei belaglike redenasies, niks anders is as mense wat hulleself jammerlik as dwase deur satan laat misbruik nie.

Dit klink vir my en ek hoop tog so, dat ek verkeerd is, dat die persoon jou dalk emosioneel mishandel.  As dit so is, kan dit jou psigies groot skade berokken en behoort jy geen kontak tussen hom en jou meer toe te laat nie.

Hier vir nou is my antwoord aan jou:

‘n Mens moet regtig nie ‘n dwaas probeer antwoord as hy sulke sotlikheid soos hierdie kwytraak nie.
Ek kon nou baie voorbeelde uit die Woord gebruik het om te ondersteun wat ek nou gesê het maar ek volstaan met die volgende:

SPR 26:4  Moenie ’n dwaas antwoord volgens sy dwaasheid nie anders word jy net soos hy.

Ons lees in die Bybel:

GEN 2:21-24 
21 Toe het die Here God die mens baie diep laat slaap. Terwyl hy slaap, vat Hy een van die mens se ribbebene (God neem deel van die mens) en vul die plek weer op met vleis.
22 Van die ribbebeen maak die Here God toe (nog ‘n mens) ’n vrou en bring haar na die mens toe.
23 “Uiteindelik is dit die regte metgesel!” sê die mens. “Sy is regtig deel van my. Sy sal ‘vrou’ genoem word, want sy is uit die man geneem.”
24  Dit verklaar waarom ’n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een mens word.

Ek wonder wat dink die “iemand” wat sy Ma, uit wie hy gebore is, dan is – as sy nie ‘n mens is nie?

Ek kan maar net met jammerte in my hart sê:
Die arme mens, want hy is ‘n mens, omdat hy uit ‘n mens gebore is maar blykbaar te dwaas is om te besef, dat as sy ma nie ‘n mens is nie, hy ook nie ‘n mens kan wees nie.

Jy noem dat jy baie ongelukkig was en geen wonder ook nie.
Die Woord vertel ons in geen onseker taal hoe vernielend, selfs verwoestend dit vir ‘n mens se gees en/of selfbeeld dit kan wees om met ‘n dwaas oor sy sotheid te redeneer:

SPR 17:12 Dis beter om ’n beer teë te kom wat van kleintjies beroof is, as om ’n dwaas met sy sotheid te konfronteer.

Die Woord leer ons verder, dat dit gewoon net totaal nutteloos is om ‘n dwaas te probeer reghelp wat sy dwaasheid aanbetref:

SPR 17:16  Dit het geen nut om vir ’n dwaas geld te gee om wysheid te koop nie. (dit is om selfs uit jou pad te gaan om hom reg te help nie)
Hy het geen behoefte aan wysheid nie.

As jy my nie glo nie, gaan jy ongelukkig later tot jou eie geestelike vernieling – en watter duur skoolgeld om te betaal, dit verseker ontdek:

SPR 23:9  Moenie ’n dwaas reghelp nie.
Jou goeie raad behandel hy met minagting.
(want hy weet nie van beter nie en hy wil in sy dwaasheid ook nie van beter weet nie.)

My ondervinding in hierdie lewe is, dat mense wat sulke belaglike stellings maak en die Woord misbruik om hulle dwaashede te staaf, gewoonlik dink dat hulle baie slim is om sulke stellings te maak en hoe absoluut tragies!
Hulle is selfs nog erger en meer tragies as ‘n dwaas:

SPR 26:12  Daar is meer hoop vir ’n dwaas (van wie se karakter jy hier bo gelees het) as vir iemand wat dink hy is baie slim.

So, behandel die gemors waarmee jy gekonfronteer was, met die minagting wat dit verdien en vergeet dit.  Terwyl jy, prys die Naam van ons Here, met heerlike blydskap onthou:

GAL 4:4-6 
4 Maar in die volheid van die tyd het God sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore, onder die wet,
5  sodat Hy hulle wat onder die wet is, kan vrykoop, ja, sodat ons (alle vroue en mans wat Hom aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker) tot kinders aangeneem kan word.
6  En omdat julle (jy en ek wat Hom aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker) sy kinders is, het God die Gees van sy Seun gestuur om in ons te lewe. Die Gees in ons roep voortdurend na God: “Abba!” – wat die Aramese woord is vir “Vader”.

Hoe wonderlik!
God Almagtig kon op allerlei wyses Sy verlossingswerk vir die mens hier op aarde begin het, maar Hy het verkies om die mens self te betrek en dan by name ‘n vrou, ‘n jong meisie met die Naam Maria:

LUK 1:26-35
26 Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël na Nasaret, ’n dorp in Galilea, gestuur
27  na ’n jong meisie met die naam Maria. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef, ’n afstammeling van koning Dawid.
28  Gabriël het aan haar verskyn en gesê: “Ek groet jou, geseënde vrou!  Die Here is met jou!”
29  Verward en ontsteld het Maria gewonder wat die engel se begroeting kon beteken.
30  “Moenie bang wees nie, Maria,” het die engel gesê, “want God het besluit om jou te seën!
31  Jy sal swanger word en ’n seun hê en jy moet Hom Jesus noem.
32  Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee.
33  Hy sal vir ewig oor Israel regeer; en sy koningsheerskappy sal nooit eindig nie!”
34  Maria het vir die engel gevra: “Maar hoe kan ek ’n kind hê? Ek was nog nooit by ’n man nie.”
35  Die engel het geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou toevou. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig en die Seun van God genoem word.

Ons, wie volgelinge van Jesus Christus is, het en hoe wonderlik, ons Here se Woord wat ons alles vertel wat ons nodig het om deur hierdie lewe hemel toe te stap – en ek sluit dan my skrywe aan jou af met twee van die sekerhede wat ons het teen al die dwaasheid wat verkondig word:

1JHN 5:19  Ons weet dat ons van God afkomstig is en dat die hele wêreld in die mag van die bose vasgevang lê. (waar hy, die bose baie mense misbruik om as dwase allerlei gemors te verkondig)

1 JHN 5:20  Ons leef ook met die wete dat die Seun van God gekom het en aan ons die vermoë gegee het om die ware Een te herken. En ons leef in ’n hegte verhouding met Hom, die Ware Een, naamlik God se Seun, Jesus Christus. Hy ís die ware God, en Hy is die ewige lewe.

Groete, en veral al die Christendames wat hierdie gedagte uit die Woord gelees het, groet ek spesiaal met die engel se groet aan Maria:

LUK 1:28… “Ek groet jou, geseënde vrou! Die Here is met jou!”

Groete,
Sakkie