EK IS SO JAMMER MAAR DIE DUIWEL HET MY DIT LAAT DOEN

EK IS SO JAMMER MAAR DIE DUIWEL HET MY DIT LAAT DOEN

Sakkie Parsons

Ek het met ‘n persoon oor die internet gesels oor: Hoe mense so maklik die duiwel die skuld gee, as ons opsetlik sondig en bly sondig – en dan, om dit so te stel, uitgevang word – jy weet mos, iets sê soos: “Ek is so jammer maar die duiwel het my dit laat doen. “ 

Ek wil jou vandag wys, dat so baie van ons, wéét iets is nie reg nie – maar ons wil dit so doen, so ons is dan gewoon net moedswillig en doen dit so – en as ons dan betrap word en dit kom aan die lig, dan gebruik ons hierdie verskoning: “Ekskuus vergewe my, want die duiwel het my dit gemaak doen.”

Ek wil jou egter daarop wys, dat die duiwel jou nié kan maak iets doen nie, want jy het ‘n wil van jou eie.

Ook ons Here gaan jou nie maak Hom dien en volg nie, want Hy het jou met jou eie wil geskape en Hy respekteer jou eie wil, net soos wat Hy wil, dat jy Sy wil moet respekteer.

Maar kom ons begin by die begin.

Die Woord sê, dat ons die duiwel moet weerstaan en hy sal van ons weg vlug:

JAK 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Die eerste wat ons moet doen, is:

JAK 4:7  Onderwerp julle dan aan God; 

Maar ek kom terug hiernatoe.

Ek wil eers begin met:

JAK 4:7  .. weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Ek het oor die jare in kerkdienste en onder Christene soms – en as dit nie so hartseer was nie, kan ek dit selfs lagwekkende wyses noem, gesien van hoe mense byvoorbeeld satan bestraf en dan het ek by myself gedink dat satan nou sy maag vashou soos hy lag. Want –

Hoe sê die Woord moet ek satan weerstaan en hy dan van my wegvlug?

Wel die Bybel is baie duidelik daaroor maar so baie mense sien dit, so lyk dit vir my eenvoudig net nie raak nie en baie wíl dit nie so sien nie, want dan gaan die bestrawwing van satan hulle nie so indrukwekkend laat lyk, soos wat hulle glo hulle lyk nie – en dit geld natuurlik veral vir die sogenaamde duiwelbesweerders. Dit is nou al daardie mense wat rond gaan en links en regs net duiwels uitdryf, sommer uit ware Christene ook, ens. Maar kom ons gaan na die Woord en dan kyk ons sommer hoe Jesus ons leer hoe dit gedoen moet word en Hy stel dan sommer self vir ons die Voorbeeld ook.

Ons lees:

MAT 4:2-11 

2 En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.

3  En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.

4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

5  Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan

6  en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.

7  Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.

8  Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid,

9  en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.

10  Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.

Sien jy hoe absoluut eenvoudig dit vir elke kind van ons Here is – jy wie die Gees van God inwonend in jou het, om satan te weerstaan – maar nie net te weerstaan nie, hom ook van jou weg sal laat vlug?

Jesus het elke keer vir hom  gesê en dan die Woord kwoteer en toe Jesus dit nou vir ons mooi gewys het, hoe ons moet begin as ons satan bestraf wanneer hy ons aanval, sê Jesus ook vir ons, hoé ons Hom dan met daardie woorde van ons moet wegstuur:

MAT 4:10  Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: …

So, wat is hoe ek die Woord verstaan die régte en ook énigste wyse om satan te weerstaan, dat hy van jou wegvlug?

Kom ek deel met jou ‘n praktiese voorbeeld uit my eie lewe:

Baie jare terug, nie lank na my bekering nie, het ek Romeine 8:28 my leuse in die lewe gemaak.

So, as satan my aanval met:

“Hoekom het jou liefdevolle God jou blind gemaak?”

Dan is my antwoord:

In die naam van Jesus, satan gaan weg van my af, want daar staan geskrywe: 

Romeine 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”

Dit het nog altyd vir my gewerk, so ek kan nie sien hoekom dit nie vir jou ook sal werk nie – maar dan moet jy weet hoe om jou Swaard (die Woord/Bybel) behendig teen satan te kan gebruik en dit kan jy net doen as jy die Woord gereeld bestudeer, met ander woorde met jou Swaard in oefening bly, want dit is jou Wapen teen satan, soos Jesus dit vir ons gedemonstreer het:

EFE 6:17  En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Geesdit is die woord van God

Ek het genoem:

Ek wil jou dan nou daarop wys, dat die duiwel jou nié kan maak iets doen nie, want jy het ‘n wil van jou eie.

Ook ons Here gaan jou nie maak Hom dien en volg nie, want Hy het jou met jou eie wil geskape en Hy respekteer jou eie wil, net soos wat Hy wil, dat jy Sy wil moet respekteer.

Net soos wat ons Here nie in jou sal woon as jy Hom nie toelaat deur jou hart vir hom oop te maak nie:

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe (en ons sal verewig gelukkig saam wees) en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

Net so, kan satan nié van jou as kind van God besit neem, of jou ‘hierdie’ of ‘daardie’ laat doen as jy hom nie toelaat nie.

Die satan wag, dat jy hom ‘n kans in jou lewe gee en dan neem hy sommer heeltemal oor.

Dan is dit dat iemand byvoorbeeld iets boos doen en dan iets soos die volgende sê:

“Ek weet nie wat in my gevaar het nie.”

Die antwoord is eenvoudig.

Hy/sy het hom/haar deur sy/haar eie wil te gebruik, satan toegelaat.  Dit is so eenvoudig soos dit.

Ek het aan die begin van hierdie skrywe vir jou kwoteer:

JAK 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Toe vir jou genoem, dat ek terugkom na:

JAK 4:7  Onderwerp julle dan aan God;

Jy het nie die spreekwoordelike kat se kans om satan te weerstaan as jy nie die eerste gedeelte van Jakobus 4:7 gedoen het nie – gewoon omdat jy nie satan in die Naam van Jesus kan bestraf, as jy nié vir Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker en Hy dan nie deur Sy Heilige Gees in jou woon nie.

Want dan steur satan hom so min aan jou soos wat hy hom aan die duiwelbesweerders en die seuns van Skeva in Handelinge 19:13-16 gesteur het.

En dan help dit nie hoe hard jy skreeu as jy die duiwel probeer uitdryf nie, of hoé jy ook al tekere gaan nie, jy het sleg verloor nog voor jy begin het:

HAN 19:13-16

13  En sommige van die rondtrekkende Jode, duiwelbesweerders, het dit gewaag om die Naam van die Here Jesus te noem oor die wat bose geeste gehad het, en te sê: Ons besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig!

14  Dit was sekere sewe seuns van Skeva, ‘n Joodse owerpriester, wat dit gedoen het.

15  Maar die bose gees het geantwoord en gesê: Jesus ken ek, en van (‘n Christen wie Jesus se Heilige Gees inwonend in hom het) Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?

16  Toe spring die man in wie die bose gees was, op hulle en oormeester en oorweldig hulle, sodat hulle naak en gewond uit daardie huis gevlug het.

Het jy al vir Jesus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker?

Is Jesus Here in jou lewe?

As jy dit nog nie gedoen het nie, het jy tot hier gelees om ook nou weer vir die tweede keer vandag te lees:

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe (en ons sal verewig gelukkig saam wees) en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

Jesus wil jou bemagtig om van vandag af vir satan te wanneer hy jou weer aanval:

“Satan, In die Naam van Jesus (want Jesus is nou die krag wat in jou is) gaan weg van my af, want daar staan geskrywe: (en dan kwoteer jy die Skrif wat van toepassing is)en daarom gaan ek net die Here my God aanbid en Hom alleen dien.”

As jy dit vandag besluit het, of dalk weer opnuut besluit het –

Geniet dan nou jou lewe in Christus.

Onthou om baie met ons Here in gebed te gesels en onthou om goed in oefening met die hantering van jou Swaard/die Woord, jou énigste wapen teen satan te bly.

Vir almal wat hierdie gedagte uit die Woord gelees het en opnuut of weer ‘n besluit geneem het, om nié satan beheer in jou lewe te gee nie, laat ek dan met hierdie gedeelte uit ons Here se Woord.

Skryf dit neer en plaas dit waar jy dit gereeld kan sien, want ons Here het in die verband vir jou en my in Sy kosbare Woord laat skryf:

1KOR 16:13  Waak (teen satan), staan in die geloof, wees manlik, wees sterk. (en gebruik die krag van Christus in jou en die Swaard/Woord van ons Here in jou hart teen satan, as hy jou aanval.)

Groete met Jesus liefde,

Sakkie.

kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.