EK IS KLEIN GEDOOP, MOET EK WEER GEDOOP WORD?

EK IS KLEIN GEDOOP, MOET EK WEER GEDOOP WORD?

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra: “Ek is klein gedoop, moet ek weer gedoop word?”

Ek wil dan so begin:

Eerstens lees ons in Handelinge van die eerste bekeerdes en die duidelike opdrag as volg:

HAN 2:37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê:  “Wat moet ons doen broeders?

HAN 2:38 En Petrus sê vir hulle:  “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Op hierdie manier volg ons Jesus se voorbeeld deur onderdompeling en word so verenig met Hom in Sy dood en opstanding."

ROM 6:4  “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

Tweedens moet ons besef dat die doop nie die sleutel na die hemel is nie.

Ek gaan verseker nie hemel toe, net omdat ek my, volgens my reg laat doop het nie.

Jy gaan ook nie hel toe omdat jy nie gedoop is, of omdat jy verkeerd gedoop is  nie.

Die bepalende faktor, om dit so te stel, oor wat jou eindbestemming gaan wees, is of jy werklik Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker. Met ander woorde, is Jesus wérklik Here in jou lewe. Ek gee een voorbeeld uit die Woord:

JHN 3:16-18 
16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”

Ek is klein gedoop. Ek het gekatkiseer en is aangeneem en voorgestel maar toe ek my bekeer het, het ek gevoel dat ek groot gedoop behoort te word. Want, volgens wat ek die Woord verstaan, wil ons Here dat dit ‘n besluit moet wees wat ék neem.

Dan ook – Al die mense wat Jesus na Hom geroep het in Sy wandel hier op aarde, het Hy in die openbaar na Hom geroep en hulle moes in die openbaar die stap neem om Hom te volg of nie. Verder sê Jesus van Sy volgelinge die volgende:

HAN 1:8  “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.”

Het jy gesien?

Jesus sê nie dat ek dalk, of miskien Sy getuie sal wees nie. Hy sê al Sy kinders sal Sy getuies wees.

Vir my was my doop die eerste stap van gehoorsaamheid en die begin van die uitlewing van my getuienis vir Hom.

Vir my is die doop ‘n mededeling/verklaring/stelling in die openbaar aan alle mense en geeste en magte:

“In hierdie voorstelling van die begrafnis van my ou mens en die opstanding van die nuwe mens, getuig ek:

“Ek glo, dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het.
Ek glo dat Hy begrawe is.
Ek glo dat Hy uit die dood opgestaan het.
Ek het hierdie Jesus, God wat mens geword het, aangeneem as my Verlosser en Saligmaker. 
Die ou Sakkie is nou dood. 
Ek is nou ‘n nuwe bloedgewaste kind van God, ‘n dissipel van Jesus.”

ROM 6:4-8 
4 “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.
5  Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan Sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan Sy opstanding;
6  aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.
7  Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.
8  As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe,”

Oor die jare het die kerk oral, al hoe meer, dinge uit die Woord geneem, of vir die mens se gerief verander en gesê dat dit nie meer vandag van toepassing is nie, en na my mening haar getuienis en haarself verswak.

Of jy jou moet laat oor doop omdat jy klein gedoop is, is op die ou end ‘n saak van jou gewete. 

My sienswyse van hierdie saak is dit:

As jy werklik Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, neem die heerlike stap van gehoorsaamheid en maak die wonderlike mededeling/verklaring/stelling wat ek gemaak het, aan die hele wêreld.

Soos ek reeds gesê het, is dit uiteindelik ‘n gewetensaak tussen jou en ons Here.

Wat jy ook al besluit, is dit ook net nodig om te onthou dat ‘n mens ook verkeerd gedoop kan word.

HAN 19:1-6 
1 “En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind
2  en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie.
3  En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes.
4  Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus.
5  En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus.
6  En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.”

Wat myself aanbetref sou ek hierdie kwessie só opsom:  Ek sou nie hel toe gaan net omdat ek my nie groot laat doop het nie, maar dit was heerlik, wonderlik om daardie mededeling/verklaring/stelling aan die hele wêreld te maak:

In hierdie voorstelling van die begrafnis van my ou mens en die opstanding van die nuwe mens, getuig ek:

“Ek glo, dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het.
Ek glo dat Hy begrawe was.
Ek glo dat Hy uit die dood opgestaan het.
Ek het hierdie Jesus, God wat mens geword het,  aangeneem as my Verlosser en Saligmaker.  Die ou Sakkie is nou dood.  Ek is nou ‘n nuwe bloedgewaste kind van God, ‘n dissipel van Jesus.”

KOL 2:12  “omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.
KOL 2:13  En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het.”

Vir my was en is my doop/begrafnis van die ou Sakkie op Woensdagaand 25 April 1973, een van die heerlike hoogtepunte in my geestelike lewe.

Ek sluit af, amper soos ek begin het.

Eerstens moet ons besef dat die doop nie die sleutel na die hemel is nie. Jy gaan ook nie hel toe omdat jy nie gedoop is, of omdat jy verkeerd gedoop is  nie.

Die bepalende faktor, om dit so te stel, oor wat jou eindbestemming gaan wees, is of jy werklik Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker. Met ander woorde, is Jesus wérklik Here in jou lewe.

Wat jy ook al besluit.

Ek sou my plig versuim, as ek nie aan jou uitwys, dat die Woord ook vir ons wys, dat hoe nader ons aan ons Here se Woord leef, hoe beter gaan ons ontvangs wees as ons Voor Hom verskyn.
Ek verduidelik dit in ‘n ander gedagte uit die Woord wat ek geskryf het, wat ek op aanvraag aan jou sal stuur.

Die gedagte uit die Woord se naam is:
“Die derde Hemel en ons loon.”

 

Groete,

Sakkie