EK MAAK SO PA

EK MAAK SO PA

Sakkie Parsons

Iemand het my, my siening gevra van Matheus 21:28-32.

Ek deel graag met jou hoe in hoofsaak ek hierdie gedeelte sien.  Ek sê ‘in hoofsaak’, want daar is sekerlik ook ander maniere om na hierdie gedeelte te kyk maar al die verduidelikings wat ek al gehoor het, het dieselfde kern.
Ek kwoteer ook die Nuwe Lewende Vertaling, omdat dit na my mening so ‘n fenomenale vertaling is.
Hier dan is die gedeelte:

MAT 21:28-32 
28 “Maar wat dink julle hiervan?” sê Hy toe vir hulle.  “’n Man wat twee seuns gehad het, het na die eerste een toe gegaan en vir hom gesê: “My kind, jy moet vandag in die wingerd gaan werk.”
29  “Ek is nie lus nie,” was sy antwoord, maar later het hy spyt gekry en tog gaan werk.
30  Die pa gaan toe na die ander een toe en gee hom dieselfde opdrag.  Die antwoord toe:  “Ek maak so, Pa,” maar hy het tog nie gaan werk nie.
31  “Wie van die twee was die gehoorsame een.?”
Hulle antwoord was: “Natuurlik die eerste een.”
Toe sê Jesus vir hulle: “Ek verseker julle: Die korrupte tollenaars en die prostitute sal voor julle in God se koninkryk ingaan.
32  Want Johannes het na julle toe gekom en vir julle die regte pad aangewys, maar julle het sy prediking nie aanvaar nie.  Die tollenaars en die prostitute het dit egter aanvaar.  En selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en Johannes geglo nie.”

Onthou nou, dit is Jesus wat hierdie verhaal vertel en as ons Here iets vertel, kan jy verseker aan elke woord aandag gee, want elke woord is daar met ‘n baie spesifieke doel.
Om mee te begin.  As ek na ander kere kyk waar Jesus van ‘n ‘wingerd’ praat, kan ek met sekerheid sê, dat die wingerd wat hier van gepraat word, die sendingveld om jou en my is waarin ons daagliks beweeg.

Kom ons kyk eers na die eerste seun:
Die enigste ooreenkoms tussen hierdie twee seuns, was dat hulle dieselfde Pa gehad het.
Kyk nou hierdie eerste seun se oneerbiedigheid, eintlik kom die woord ‘minagting’ in my hart op as ek dit lees.

MAT 21:29  “Ek is nie lus nie,” was sy antwoord, …

So is daar baie mense vandag.  Hulle het gehoor:

MAT 21:28  … “My kind, jy moet vandag in die wingerd gaan werk.”
MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die
Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te
onderhou wat Ek julle beveel het.

Dan hoor jy aste ware in die lewens wat hulle lewe:
“Vir Christen wees en getuienis uitlewe, wel daarvoor is ek nie lus nie.”

Dan, en ek ken ‘n hele paar sulke mense, kom baie van hierdie mense agter, dat die lewe wat hulle lewe eintlik leeg en doelloos is en hulle is spyt oor die vermorste jare.  Hulle keer dan terug na Jesus en lewe na die beste van hulle vermoë vir Jesus.

Kom ons kyk nou na die tweede seun:
Kyk na sy antwoord:

MAT 21:30  … “Ek maak so, Pa,” …

Die soort antwoord wat ‘n goed opgevoede kind sal gee.  Let ook op na die respekvolle aanspreek vorm van ‘Pa’

Dan lees ons:

MAT 21:30  … maar hy het tog nie gaan werk nie.

Nou moet ons onthou vir wie Jesus hierdie verhaal vertel.
Die aanloop tot hierdie verhaal begin daar in Matteus 21:23.

MAT 21:23  En toe Hy in die tempel gegaan het, kom die owerpriesters en die ouderlinge van die volk na Hom terwyl Hy besig was om te leer, en hulle sê: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee?

Jesus praat hier met kerkmense.  Mense wat sabbat vir sabbat kerk toe gegaan het.  Mense van aansien in die kerk.  Mense selfs met die een of die ander posisie in die kerk en dan as Hy klaar vir hierdie kerkmense die verhaal vertel het, sê Jesus vir hulle:

MAT 21:31  … Toe sê Jesus vir hulle: “Ek verseker julle: Die korrupte tollenaars en die prostitute sal voor julle in God se koninkryk ingaan.”

Jy sien – daar is mense wat Sondag vir Sondag in die kerk sit en dalk êrens in die verlede gesê het: ”Ek maak so Pa.”
Ja, hulle het dalk êrens in die verlede die voorneme gehad om werklik ‘n getuie vir Jesus te wees maar die meeste wat hulle hulleself deesdae verwerdig om vir ons Here te doen en dit is ook net hulle en die ander mense wat hulle om die bos lei, wat dink dat hulle dan iets vir ons Here doen, is as hulle Sondag hulleself mooi aantrek en kerk toe ry.  Soos my dogter Alta sou sê, hulle “impress” glad en geheel nie ons Here nie.

Weet jy wat is egter so heerlik wonderlik van ons Here wie ons dien –
Dit maak nie saak in watter groep jy is nie.
Miskien het jy êrens in die verlede gesê:
“Ek het nie lus nie” en leef jy nog in daardie toestand.
Of dalk het jy eens op ‘n tyd gesê:
“Ek maak so Pa” maar die beste wat jy toe tot nou toe gedoen het was om ‘n front van Christen wees voor te hou.
Ons Here is so ontsettend lief vir jou en my en Hy stel so intens in ons belang, dat Hy by geleentheid in Sy Woord as voorbeeld vir ons laat skryf het:

JER 1:5  Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig;

Toe gaan Hy, God Almagtig, nog verder, Hy gee Sy enigste Seun en Hy word volkome mens en gaan hang vir al die verkeerd in ons lewens aan die kruis op Golgota.
In verband met daardie liefdesdaad van ons Here lees ons in die Woord:

JES 53:1-6 
1 Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?
2  Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.
3  Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.
4  Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.
5  Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
6  Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.

Weet jy?
As jy hierdie Jesus wat dit gedoen het, aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, wil ek nou vir jou sê:

Niemand, geen ander mens of mag of krag kan jou uit die hand van hierdie liefdevolle Here ruk nie – maar jy en ek is na ons Here se beeld geskape en deel van ons beeldskap, is dat ons, soos ons Here, ‘n ‘wil’ van ons eie het.

Moet nie hierdie ‘wil’ van jou gebruik om jou rug op so ‘n liefdevolle Here te draai nie.
Laat staan daardie ‘ek het nie lus nie Pa’ houding.
Ook as jy dalk êrens in die verlede gesê het; “Ek maak so Pa” en dit nie werklik gedoen of bedoel het nie –

Hoe wonderlik!
As gevolg van ons Here se groot liefde vir jou, kan jy vandag sê:
“Ek hoor dat U sê.
MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

“Ja Here ek hoor my opdrag, om in die wingerd te gaan werk, en ek maak so Pa.”

Weet jy wat is nou so wonderlik?
Jy hoef nie ‘n goeie prediker te wees nie.
Jy hoef nie ‘n goeie sanger te wees nie.
Miskien is daar eintlik niks wat jy volgens jouself in die gemeente opset kan doen nie maar jy het ‘n lewe en glo vir my, die beste preek, evangelieboodskap en getuienis boodskap wat ons aan die wêreld kan gee, is die lewe wat ons lewe.  Want dan kom mense na ons toe, omdat hulle wil hoor wat ons het, wat hulle nie het nie.

MAT 5:14-16 
14 Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie;
15  en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.
16  Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.

Groete,
Sakkie