Is ek met my swakheid of verslawing gedoem?

Iemand het met my gepraat oor ‘n verslawing in die persoon se lewe. Ek stuur vir jou ook hierdie antwoord wat ek aan die persoon gestuur het.

Heel eerste wil ek vir jou sê dat, volgens hoe ek die Bybel verstaan, is jy natuurlik nie gedoem of dan verdoem nie. Selfs nie al is jy ‘n moordenaar op pad uit hierdie lewe uit nie:

LUK 23:38-43
38 “En daar was ook ‘n opskrif bokant Hom geskrywe in Griekse en Romeinse en Hebreeuse letters: HY IS DIE KONING VAN DIE JODE.
39  En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons.
40  Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? —
41  ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.
42  En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.
43  En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”

Dit beteken natuurlik nie omdat ek aan iets verslaaf is, of ‘n sonde in my lewe het, dat ek nou maar so kan voortgaan nie. Nee, ek moet daaraan werk. Ek moet met God se hulp daarvan ontslae raak.

Natuurlik wil God my help, en wat Hy gedoen het, was om Sy Seun te stuur om die prys wat ek moes betaal, naamlik die doodstraf, op Hom te neem:

JHN 3:16  “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
JHN 3:17  Want God het Sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.”

As ek nou wérklik berou het oor dit wat ek gedoen het, ja, selfs oor dit wat ek nog steeds doen omdat ek daaraan verslaaf is, en ek neem dit na God toe, kan ek dit doen terwyl ek juig, omdat ek onthou wat God deur die profeet Jesaja gesê het:

JES 1:18-20 
18 “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.
19  As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.
20  Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.”

Dit beteken nie dat ek nou maar kan bly sonde doen nie omdat God dan nou so genadig is nie. Paulus stel dit so:

ROM 6:1-12
1 “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?
2  Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?
3  Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in Sy dood gedoop is nie?
4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.
5  Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan Sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan Sy opstanding;
6  aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.
7  Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.
8  As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe,
9  omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie.
10  Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.
11  So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.
12  Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.”

Ek wil afsluit deur vir jou te vertel hoe ek na die stryd wat ek stry kyk, en hoe ek na die kruis wat ek moet dra, kyk.

As satan my aanval met een van my swakhede, dan is dit nie lekker nie, maar dit maak my ook opgewonde, want hy is nie tevrede met my nie en ek het ‘n God wat nou baie medelye met my het.

Elke keer as die kruis wat ek dra vir my te swaar wil raak, dan steun en kreun ek onder die gewig, maar daar is ook ‘n heerlike vrede in my hart, want ek het ‘n God wat met groot medelye Sy skouer onder my kruis indruk en my help dra:

HEB 4:13-16 
13 “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.
14  Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.
15  Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie  met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
16  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”

Ek sal nie hel toe gaan omdat ek verslaaf is aan die een of die ander nie, soos byvoorbeeld rook nie. Ek sal nie hel toe gaan omdat ek ‘n swakheid in my lewe het nie, soos byvoorbeeld ‘n humeur nie.

Ek mag in die hel beland omdat ek niks daaraan probeer doen nie, en dit maar heerlik vertroetel.

Want op die einde van die dag is daar iets wat uitstaan soos ‘n paal bo water:

1KOR 3:16  “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
1KOR 3:17  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.”

1PET 1:15  “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,
1PET 1:16  omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”

As ek nou nog die “cherry” op die koek  mag sit –
As ek dink dat dit wat vir my gegee is net te veel vir my is, dan onthou ek ook dat my God in Sy Woord vir my sê:

1KOR 10:13  “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”

Dan trap ek my swakheid met mening vas, omarm my kruis met nuwe ywer en storm die toekoms met ‘n glimlag, want as my God dink ek kan dit doen, dan kán ek dit doen.
                 
Groete,
Sakkie