AS EK MET ‘N PROBLEEM VIR JESUS NADER

AS EK MET ‘N PROBLEEM VIR JESUS NADER

Sakkie Parsons

Ek wil graag met jou deel wat ek weer ontdek het toe ek die gedeelte gelees het.
Hier volg die gedeelte:

JHN 9:1-7 
1 Terwyl Jesus wegstap, het Hy ‘n man gesien wat van sy geboorte af
     blind was.
2  Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het nou eintlik gesondig, hierdie man self of sy ouers, dat hy blind gebore is?”
3  Jesus het geantwoord:”Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word.
4  Ons moet aanhou om die werke te doen van Hom wat My gestuur het terwyl dit nog dag is;  die nag is in aantog, wanneer niemand meer kan werk nie.”
5  Terwyl Ek nog in die wêreld is,is Ek die lig vir die wêreld.
6  Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en klei met die spoeg aangemaak.  Hy het die klei op die man se oë geplak
7  en vir hom gesê:”Gaan was jou in die bad van Siloam.” (Siloam beteken gestuurde.) Hy het gevolglik gegaan en hom gaan was, en op pad terug kon hy sien !

Die eerste ding wat ek hier sien, is getrou aan Sy karakter, het Jesus nie die mens met ‘n probleem wat op Sy pad gekom het, net so aan sy eie lot oorgelaat nie.
As ek met ‘n probleem vir Jesus nader, kan ek seker wees, Hy sal my Sy volle aandag gee.

JHN 9:1  Terwyl Jesus wegstap, het Hy ‘n man gesien wat van sy geboorte af blind was.

Onmiddellik kom daar ook iets anders na vore in die gedeelte:

JHN 9:2  Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het nou eintlik gesondig, hierdie man self of sy ouers, dat hy blind gebore is?”

Vir Sy dissipels het die man nie net ‘n probleem nie, nee hy of sy ouers is ook die óórsaak van die probleem.
Baie keer sien ons byvoorbeeld ‘n bedelaar en baie maklik sê ons dan, dat dit sommer slegtigheid is.  Ek weet selfs van gevalle waar mense hulleself geblameer het vir iets wat in hulle lewens gebeur het, waarmee hulle niks te doen gehad nie.

Dan was daar ook die keer toe ek ‘n diens in Port Elizabeth waargeneem het en ‘n man ‘n blinde duiwel uit my wou dryf.
Die meeste van ons, sodra ons ‘n probleem sien, wil ons van daardie molshoop ‘n berg maak.
As ek as voorbeeld van so ‘n bietjie galge humor mag gebruik maak –
Daar gaan ek na Port Elizabeth, op uitnodiging van die Pastoor van die gemeente om die Evangelie te verkondig en ‘n man sien ek is blind en storm my en wil net daar en dan ‘n blinde duiwel uit my dryf.

Kyk nou wat gebeur in hierdie geval.
Die dissipels sien ‘n probleem en wil terstond die probleem nog groter maak.  Hulle wil sonde ook nog bysit maar kyk vir ons Jesus –
Hy kyk by die man se gebrek verby en sien ‘n wonderwerk wat wag om te gebeur.

Partykeer voel jy dalk ook soos ‘n probleem wat net groter gaan word.
Gee nou dan net volkome oor in die hand van Jesus, wat jou so liefhet, dat Hy bereid was om vir jou te sterf en as satan jou wil wysmaak dat Hy nie meer in jou belangstel nie,  dan gebruik jy net jou gesonde verstand en sê vir jouself:
“Dit is heeltemal onsinnig om te dink dat Jesus, na alles wat Hy vir my deurgemaak het, my nie Sy volle aandag sal gee nie, as ek met my probleem na Hom toe gaan nie.”
Dan bestraf jy satan in die Naam van Jesus Christus, want hy is ‘n dief wat jou vrede wil steel en Jesus wil jou baie graag help.
Jesus sê dan ook in die verband:

JHN 10:10  Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig.  Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, om dit oorvloedig te hê.
JHN 10:11  Ek is die Goeie Herder.  ‘n Goeie herder offer sy lewe op vir die skape.

So as jy ‘n probleem het, wat jy voel jou wil oorweldig.  Neem die probleem na Jesus,
want glo vir my, by Hom is daar werklik vrede.
Geen wonder dan ook nie, dat God in Sy woord, van ons wonderlike Jesus
sê:

JES 9:5   Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee.  Hy sal die heerser wees met die koninklike titels:  Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
JES 9:6   Sy heerskappy sal voortdurend uitbrei en nooit ophou nie.  Vanaf die troon waarop sy voorouer Dawid gesit het, sal Hy regverdig en reg regeer.  Die toewyding van die HERE die Almagtige sal dit waarborg.

Nou moet jy net nog dit ook vandag besef –
As jy Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, maak dit nie saak hóé vrot jou verlede was nie. Dit maak nie saak wát jou probleme op die oomblik is nie.
Jesus sê vandag vir jou:

MAT 11:28  Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik.

In wat ek nou gaan sê, praat ek nie van hoorsê nie, ek beleef dit daagliks.
Ek sê nou nie dat jou lewe nou net maanskyn en rose gaan wees nie maar as jy dit wérklik glo en úítleef wat ek nou met jou gedeel het, sal jy daardie heerlike vrede in jou hart hê, wat net van ons Here af kan kom.

JHN 14:27  Ek laat vir julle vrede na, my vrede deel Ek met julle.  Ek gee nie soos die wêreld gee nie.  Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie.

Is dit nie heerlik om dit te weet nie?

Ek sê nie dit gaan altyd verander soos jy wil dat dit verander nie – maar ek sê verseker, jy sal vrede, SY vrede in jou lewe ervaar, omdat jy dit in jou eie lewe glo en weet.

Nou kan jy in volkome vrede die res van hierdie dag en die res van jou lewe
geniet.
                 

Groete
Sakkie