EK SAL JOU NOOIT BEGEWE EN JOU NOOIT VERLAAT NIE

EK SAL JOU NOOIT BEGEWE EN JOU NOOIT VERLAAT NIE
Sakkie Parsons

Liewe Vriend/Vriendin

Ek vra dat jy die volgende verhaal wat Jesus self vertel het sal lees en daarna deel ek graag met jou ‘n wonderlike getuienis en gebeurtenis om ons HERE innig te dank en te prys vir hierdie wonderwerk.

Twee wonderlike dinge staan vir my dadelik uit wat hierdie getuienis aanbetref:
Eerstens is, dat net soos met die barmhartige Samaritaan in Jesus se verhaal, weet ons ook nie wat hierdie barmhartige Samaritaan in hierdie verhaal se naam is nie.

Tweedens, dat jy deur hierdie getuienis bemoedig kan word, dat as ek Jesus Christus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker en ek hou my oë deur hierdie lewe stip – ook in krisistye – op Hom, Hy sal ons vasgryp, soos wat hy ook vir Petrus gegryp het dat Petrus nie verdrink het nie.  Ja, net so sal Hy ons Sy kinders gryp, dat ons nie in ons omstandighede sal verdrink nie.

Hier volg nou die getuienis van Tannie Sannie van Rensburg maar lees net eers gou die gedeelte uit die Woord:

LUKAS 10:25-37  ’n Samaritaan word die voorbeeld van naasteliefde
25 Eendag het ’n wetskenner na vore gekom om Jesus te toets deur Hom hierdie vraag te vra: Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?”
26 Jesus het geantwoord: “Wat sê die wet van Moses? Wat lees jy daarin?”
27 Die man het geantwoord: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand.’ En: ‘Jy moet jou medemens liefhê soos jouself.’”
28 “Reg!” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit en jy sal lewe!”
29 Maar die man wou homself regverdig en vra toe vir Jesus: “En wie is my medemens?”
30 En Jesus antwoord: “’n Joodse man was op reis van Jerusalem na Jerigo toe hy deur rowers aangeval is. Hulle het sy klere uitgetrek, hom aangerand en halfdood langs die pad laat lê. En toe is hulle vort.
31 “Toevallig kom daar ’n Joodse priester verby, maar toe hy die man daar sien lê, het hy aan die ander kant by hom verbygegaan.
32 “So het ook ’n Leviet daar aangekom, die man een kyk gegee en ook aan die ander kant verbygegaan.
33 “Toe het ’n Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry.
34 Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit. Toe het hy die man op sy eie donkie gehelp en hom na ’n herberg geneem en daar verder versorg.
35 Die volgende dag gee hy vir die herbergier twee silwermuntstukke en vra hom om die man te versorg. ‘As die rekening meer as dit is,’ het hy gesê, ‘sal ek die verskil betaal wanneer ek weer hierlangs kom.’
36 “Nou, watter van hierdie drie sou jy sê, was ’n naaste vir die man wat deur die rowers aangeval is?” het Jesus gevra.
37 Die man het geantwoord: “Die een wat aan hom medelye bewys het.” Toe het Jesus gesê: “Gaan nou, en doen jy dieselfde.

Hier volg die getuienis wat ek graag met u deel:

Liewe Sakkie,

Ek vertel jou kortliks wat met my mammie gebeur het en hoe ons HERE haar beskerm en bewaar het, toe jy en soveel andere ernstig vir haar gebid het.

Ek was in die bed met longontsteking toe my jongste broer my bel en in sy mooi sagte manier vir my sê:  “Mammie is weg, almal soek na haar”

Dinsdagnag die 29ste Mei, die dag met Mammie se 92ste verjaarsdag, het sy by my broer-hulle in Krugersdorp oornag sodat hy haar die volgende dag dokter toe sou neem.  Sy geniet altyd naweke geweldig baie by hulle en hulle het haar ook so lekker bederf met haar verjaarsdag.

Maar die Woensdagoggend toe my broer haar kom wakker maak, was sy nie in haar kamer of die badkamer of die huis of die erf nie – Sy was net weg!  Hulle het haar naarstiglik begin soek en vir hulle as gesin was dit ‘n geweldige skok om haar oral te soek en haar nêrens in die omgewing te vind nie.  Nie by die ouetehuise nie, nie by die hospitale nie, nie in die strate nie.

Die kameras van die Ouetehuis oorkant my broer se huis het gewys sy is 11.30 die nag by die hekke uit en het in die straat begin afloop in haar nagklere – kaalvoetjies.  Dit was 5 grade in die middel van die ysige koue winternag.

Dadelik is almal gebel om baie ernstig vir haar te bid. 
Die polisie, sektor polisie, Emmanuel Tehuis waar sy bly, haar kinders en kleinkinders en oral oor het mense na haar begin soek. Ek was ook op my knieë en het ons HERE gevra om vir haar engele te stuur soos wat Hy vir JESUS gestuur het in die tuin van Getsemané in die donker nag om Hom te versorg. So het daar ‘n stroom van ernstige gebede deur familie en geliefdes vir moedertjie opgegaan na ons HERE.  Ek is só ontsettend dankbaar teenoor elkeen!

Teen 11 uur voormiddag is sy gevind deur my broer se kinders. 

‘n Swartman wat oppad Pretoria toe was, het haar opgetel in die vroeë oggendure en na die Jusaf Dadoo Hospitaal in Krugersdorp geneem. 

Soos ‘n engel het hy uit sy pad gegaan om moedertjie te help.  Hy het nie sy besonderhede gelaat sodat ons hom kan bedank en vergoed nie maar ons het hom en sy familie geseën en gevra dat hy in hierdie lewe sowel as die ewige lewe vergoed sal word soos net ons HERE dit self kan doen. 

As jy nou dink Sakkie, mense ry verby iemand wat langs die pad loop – hulle dink die persoon is dalk vol dwelms of drank en wil ook nie betrokke raak nie.  Dit het my laat dink aan die verhaal wat JESUS vertel het om naasteliefde uit te beeld – Die barmhartige Samaritaan. Mense het hom geïgnoreer daar langs die pad waar hy lê en bloei het – maar ‘n Samaritaan het hom kom help en na die herberg geneem om sy wonde te versorg.  So het hierdie man ook gedoen en ek is hom só dankbaar!  Moedertjie se mooi gesiggie was stukkend geval maar deur ons liefste HERE se groot groot genade het sy niks gebreek nie.  Sy is oorgeplaas na Krugersdorp hospitaal waar hulle toetse gedoen het net om vas te stel dat sy niks makeer nie.

Tans is sy weer veilig in Emmanuel Tehuis waar hulle so mooi na haar omsien en versorg.  Die seerplekke op haar gesig is besig om gesond te word en ek staan net in verbasing oor dit wat ons HERE vir haar en vir ons gedoen het. 

Om te dink Sakkie, sy het op 92 so iets geweldigs oorleef.  Sy het niks gebreek nie.  Sy het nie siek geword nie.  My broer-hulle bly naby ‘n dam en as ek dink dat sy daarin kon val in die donker of wat anders met haar kon gebeur dan sidder ek.  Ek wil hier ook net noem dat moedertjie in die vroeë stadium van dimensie is, op medikasie is, en dat dit is die eerste keer dat so iets met haar gebeur.  Sy kuier en slaap omtrent elke naweek by my broer-hulle en ken die omgewing baie goed. Terwyl ek vir haar gebid het, het ek Psalm 23 gebid wat haar geliefde Psalm is en wat sy altyd uit haar kop uit opsê. Veral vers 4 wat sê: “Al gaan ek deur ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: U stok en staf dié vertroos my.”

Ek is ons liefste HERE ewig dankbaar.  In ons diepste nood help Hy ons daardeur. 
Hy het ons elkeen se hand baie stewig in Syne en Hy het ons belowe dat maak nie saak waardeur ons in hierdie wêreld gaan nie, HY sal ons nooit begewe en ons nooit verlaat nie.  HY sê vir ons in Jesaja 43:1-3  “Ek het jou by jou naam geroep – jy is Myne.  Wanneer jy deur diep water gaan, sal Ek by jou wees.  Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie.  Wanneer jy deur vuur stap, sal jy nie verbrand nie.  Die vlamme sal jou nie verteer nie.  Want Ek is die HERE jou God..”  

As ek terugdink aan hoe ons HERE moedertjie gehelp het, die swartman se naasteliefde, die vinnige reaksie van mense om haar te help soek, hul opregte gebede en hulle omgee-liefde – dan kom die Skrifte by my op dat ons Here self elkeen sal vergoed en ook – dat Hy ons nooit in die steek laat nie en nooit sal verlaat nie.

Dankie dat ek hierdie gebeurtenis van Wonderwerke en Naasteliefde met jou kon deel Sakkie.

Liefdegroete,
Elsabé Cronjé

OPB 22:12  Jesus sê:  “Kyk Ek kom gou!  My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het.

HEB 13:5 …Onthou dat God die versekering gegee het:  “Ek sal jou nie los nie.  Ek sal jou nie in die steek laat nie.”

 

Groete,

Sakkie