EK WEET DAAR IS DINGE IN MY LEWE WAT EK AANHOUDEND AAN MOET WERK
Sakkie Parsons
In baie van ons lewens is daar – kom ons noem dit afdelings – wat nie heeltemal in lyn is met dit wat God van ons verlang nie.
Ek weet daar is dinge in my lewe wat ek aanhoudend aan moet werk. Ek is ook dankbaar teenoor ons Here vir Sy genade dat ek bewus kan wees van die dinge wat nog nie heeltemal reg is nie.
Wat vir my so bemoedigend is, is dat ek weet ek kan en sal daardie dinge in my lewe wat nog nie vir my God vreugde gee nie, ook regkry deur die krag, hulp en genade wat tot my beskikking is deur die kruisdood en opstanding van Jesus.
Hebreërs 13 vers 21
21God het vir Jesus Christus weer uit die dood teruggebring. Hy is die Groot Herder van sy skape omdat daar deur sy bloed ’n ewige verbond van krag geword het. Mag God, van wie ons vrede kom, vir julle alles gee wat nodig is om te doen wat Hy wil hê. En mag Hy in julle lewe al die dinge bewerk wat vir Hom vreugde gee. Dit doen Hy deur die krag van Jesus Christus, aan wie ons die eer moet gee tot in ewigheid. Amen.
As iets met my gebeur en ek sien deur my optrede, of deur my denke dat ek nou weer verkeerd optree of dink. Dan voel ek aanvanklik sleg daaroor maar dadelik onthou ek dat dit nie so in my lewe hoef te wees nie en dat ek in my die Krag het om hierdie probleem of swakheid in my lewe te oorwin. Dan pak ek die probleem in my lewe weer met nuwe ywer aan.
Hebreërs 12 vanaf vers 1:
Ons is soos atlete wat op die atletiek baan hardloop in die wedloop wat God vir ons bepaal het. Al hierdie mense wat voor ons geleef het en op God vertrou het, is soos die skare toeskouers wat langs die baan staan om ons aan te spoor. Laat ons dan ontslae raak van enigiets wat ons op die baan kan hinder, veral die sonde wat aan ons vasklou, en laat ons met al ons krag hardloop. 2Hou julle oë altyd op Jesus, want Hy lei ons om op God te vertrou en Hy sal ons leier bly tot die einde toe. Hy was gewillig om die skandelike dood op die kruis te sterf ter wille van die vreugde wat voorgelê het. Nou sit Hy in die ereplek in die hemel aan die regterkant van God. 3Dink aan Hom, dan sal julle moedhou en nie tou opgooi nie. Watter haat en kritiek van sondige mense het Hy nie verdra nie!
4Julle het nog nie in die stryd teen die sonde tot die dood toe moes veg nie.
Aan die einde van hierdie wedloop wag daar nie ‘n goue medalje nie. Nee, iets oneindig meer waardevol!
Die ewige lewe en daarmee saam:
1 Korintiërs 2 vers 9:
9Dit is wat in die Skrif bedoel word waar daar staan dat God vir die wat Hom liefhet dinge voorberei het wat wonderliker is as enigiets wat ’n mens al ooit gesien of gehoor het. ’n Mens kan nie eers in sy verbeelding vir homself so iets voorstel nie.
Ek sluit af en laat my groot held Paulus die laaste woord spreek. Alhoewel ek hom in elk geval omtrent al die praatwerk laat doen het.
2 Korintiërs 7 vers 1:
Liewe vriende, dit is vir ons wat God hierdie dinge beloof het. Daarom moet ons wegbly van enigiets wat sondig is, of dit nou in ons liggaam of in ons gees is. Ons moet vir God die eerbied hê wat Hy verdien en onsself heeltemal aan Hom gee om aan Hom alleen te behoort.
Geniet hierdie heerlike dag.
Groete,
Sakkie