EK WEET NIE MEER HERWAARTS OF DERWAARTS NIE

EK WEET NIE MEER HERWAARTS OF DERWAARTS NIE

Sakkie Parsons

Ek is baie lief vir geskiedenis. Veral antieke geskiedenis.
Ek deel graag met jou wat ons Here op my hart gelê het nadat ek iets uit die romeinse geskiedenis gelees het.
Ek kan ongelukkig nie meer die Generaal se naam onthou nie maar daar word die volgende vertel:
Die Romeine was in Jesus se tyd op aarde die magtigste volk in die bekende wêreld en het in alle windrigtings hulle leërs uitgestuur om so ver hulle gaan volke te onderwerp.
Die Generaals het dan op ‘n baie gereelde basis boodskappers na Rome teruggestuur om verslag te gee van hoe hulle vorder en of ver bevele gevra oor wat hulle in sekere omstandighede moes doen.
Hulle het gewoonlik ‘n kaart by hulle gehad van in watter rigting hulle moes trek en die volke wat hulle teëkom moes onderwerp.
By geleentheid het hierdie een Generaal so ver gevorder dat hy die volgende boodskap aan die Keiser in Rome moes stuur en ek gebruik hier my eie woorde, om na die beste van my vermoë sy boodskap met jou te deel:

“Ons mars nou van die kaart af.  Kan U aan my instruksies stuur van wat ek nou moet doen?”

Hierdie generaal het nou nie meer herwaarts of derwaarts geweet nie en in sy geval, het hy duisende soldate gehad wat hy moes lei.

So dikwels kom ek en jy in ons lewe op ‘n plek waar ons van die bekende kaart wat ons ken afbeweeg het op die pad na ons ewige bestemming.

Ons is nou op onbekende terrein en ons voel soms ons weet nie herwaarts of derwaarts nie maar hoe geseënd is ons nie teenoor die ongelowige wêreld om ons nie!

Van hulle, die ongelowige wêreld om ons, lees ons:

JOH 10:25  Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo My nie. My optrede is in die Naam van my Vader; hierdie dinge bevestig wie Ek is. Maar julle glo nie
JOH 10:26  omdat julle nie van my skape is nie.

Hoe absoluut heerlik!!!
Ons hoef nie herwaarts of derwaarts te weet nie.  Ons Generaal stap voor en Hy weet presies hoekom, waarom en waarheen!

JOH 10:27-29 
27  My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My.
28  Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand steel nie.
29  My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie.

Hoe Heerlik, heerlik, heerlik!
Ek bly net naby my Aanvoerder en hou my oë vasgenael op Hom.

HEB 12:2  ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!
HEB 12:3  Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie. Onthou: swaarkry is deel van God se opvoedingsprogram

Ek weet ook baie goed, dat as ek dit nie doen nie en my deur ander dinge laat lei, ek ‘n wesenlike kans staan om verlore te raak:
Daarom:

1TIM 1:19  Hou styf vas aan jou geloof, en hou altyd jou gewete skoon. Want sommige mense het opsetlik hulle gewete eenkant gestoot en as gevolg daarvan het hulle geloof skipbreuk gely.

Groete,
Sakkie