EK WIL GRAAG ‘N CHRISTEN WORD

EK WIL GRAAG ‘N CHRISTEN WORD …

Sakkie Parsons

Iemand het aan my ‘n vraag gestuur, wat min of meer  so gaan:

“Ek wil graag ‘n Christen word maar ek weet nie hoe om te werk te gaan nie en as ek die regte dinge gedoen het, hoe sal ek weet, dat ek wel ‘n Christen is?”

Ek wil begin deur te sê:
Ek is so baie, baie bly om só ‘n vraag aan my te lees, want jy sien –
Jou vraag sê vir my heerlik hard en duidelik, dat jy ons Here se klop aan jou hart ook hard en duidelik hoor.
Die enigste wat jy moet doen en deur hierdie skrywe aan my, is dit vir my duidelik, dat jy geen probleem gaan hê om dit te doen nie.

Jy moet net jou hart vir ons Here oopmaak, wat nou aan jou hart se deur klop.
Hy sê aan ons:

OPG 3:20   Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet.
OPG 3:21  Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon sit.

Om mooi te verstaan hoekom ons Here aan die deur van jou hart klop, moet ek die volgende met jou deel:

Die meeste mense glo dat daar ‘n God is maar daardie geloof kan en sal hulle nie van die hel red nie.
Weet jy selfs satan glo dat daar ‘n God is maar dit gaan hom natuurlik nie van die hel red nie.

JAK 2:19  Dink jy steeds dis genoeg om net te glo dat daar een God is?  Wel, die demone glo dit ook – en hulle sidder, so bang is hulle!

By dit alles, bestaan alle ander godsdienste daaruit, dat jy as mens eerste na God moet uitreik maar ons Christene se godsdiens, is die enigste godsdiens, waar God eerste na die mens uitgereik het en dit nog steeds doen, daarom hoor jy Sy klop aan die deur van jou hart.
Want en hoe wonderlik!!!
Daar het ‘n dag gekom, net meer as 2,000 jaar gelede, waarvan die Woord getuig:

GAL 4:4  Maar toe, op die regte tyd, het God sy Seun gestuur.  Hy is uit ‘n vrou gebore, onder die wet, sodat Hy hulle wat onder die wet is, kan vrykoop.  Ja, sodat ons tot kinders aangeneem kan word.

Ons Here het na ons, die mens uitgereik.

Hy het dit deur Jesus Christus moontlik gemaak, dat die liefdesverhouding wat tussen die mens en God bestaan het en deur die sondeval verwoes gewees het, weer herstel kon word.

Net ‘n volmaakte offer kon die sonde wat skeiding tussen ons volmaakte God en die mens maak uitwis en in die hele heelal was daar net een volmaakte offer, die enigste
volmaakte offer wat gebring kon word en dit was Jesus Christus, God wat mens geword het.

JHN 1:1  Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.  Die Woord was by God,, en die Woord was self God.

JHN 1:14  En die Woord het mens geword en by ons kom woon.  Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ‘n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

Hoe heerlik om te weet –

1KOR 5:7  Verwyder hierdie slegte invloed onder julle uit sodat julle weer nuut en skoon kan wees, want dit is tog wat julle in wese is.  Ook vir ons is daar immers ‘n Paaslam geslag – Christus.

Hier is, om dit so te stel,  die heerlike unieke goddelike wonder van die Christen godsdiens:

Buiten om jou hart se deur vir Jesus oop te maak en Hom in te nooi en aan te neem as jou Verlosser en Saligmaker is daar niks wat jy hoef te doen om seker te wees dat jy gered is en die ewige lewe het nie.
Ons Here het klaar alles gedoen!

JHN 3:16  God het die mensewêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

JHN 3:17  God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word.

JHN 5:24  Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe.  Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.

Daar is werklik nie ‘n ander manier om ‘n liefdesverhouding met ons Here te begin en van die hel gered te word nie.

HAN 4:12  Daar is geen redding by iemand anders nie.  Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om gered te word nie.

Wil jy oorgaan uit die geestelike dood na die ewige lewe?

Wil jy seker maak dat jy vIr ewig in die hiernamaals gaan lewe en nie vir ewig ‘n verskriklike dood in die hel sterf en tog nooit sterf nie?

Wel die enigste manier om dit te doen is om in jou eie woorde, of in die voorbeeld wat ek nou met jou gaan deel vir Jesus iets soos die volgende in werklike opregtheid te sê:

“Jesus, ek hoor die klop aan die deur van my hart.
Ek besef nou, dat sonder U in my lewe is ek, ‘n sondige mens, verlore.
Jesus ek neem U aan as my Verlosser en Saligmaker en ek vertrou nou my lewe aan U toe.”

Nou soek jy, as ‘n saak van groot dringendheid, ‘n gemeente wat die hele Bybel as die Heilige Woord van ons Here aanvaar.
Besoek die gemeente op ‘n dag dat daar ‘n erediens aan ons Here is en maak na die diens ‘n afspraak met die herder van daardie gemeente vir verdere leiding.

Iemand vra:

“Hoe kan ek verseker weet dat ek nou ‘n kind van ons Here is, as ek regtig in opregtheid alles ter harte geneem het en daarvolgens gehandel het, wat jy geskryf
het?”

Dit is Heerlik eenvoudig –
God Sê dit en het dit in Sy Woord vir ons laat skryf en God lieg nie.

NUM 23:19  God is nie ‘n mens dat Hy sal lieg nie.  Hy is nie ‘n mens wat ‘ekskuus’ sal sê nie.  Het Hy al ooit iets gesê wat Hy nie gedoen het nie?  Het Hy iets belowe wat Hy nie nagekom het nie?

Daar is ‘n gedeelte in die Woord, waar ons Here, wat nie kan lieg nie, alles, om dit so te stel wat ek nou met jou gedeel het, pragtig saamvat.

JHN 1:12  Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Dalk lees iemand hierdie gedagte uit die Woord, wat nog nie Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie.
Dan wil ek nou aan jou sê –

Jesus klop nou aan die deur van jou hart, daarom het jy tot hier gelees.
Nou is die Vraag aan jou:

Gaan jy oopmaak, of gaan jy die geklop ignoreer?

OPG 3:20   Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet.
OPG 3:21  Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon sit.

Groete,
Sakkie