ELKE BELOFTE IN DIE WOORD IS MYN

BELOFTES IN DIE BYBEL

Sakkie Parsons

Iemand het vir my geskryf en gevra:
“Graag wil ek as dit enigsins moontlik is, ook weet hoeveel beloftes van God daar in die Bybel aangeteken is.”

Ek wil begin deur te sê dat ek nie ‘n idee het van hoeveel beloftes daar in die Woord is nie maar ek het darem hierdie heerlike wete – Daar is geweldig baie wonderlike beloftes in die Woord van ons Here!  Hierdie beloftes is vir ons van onskatbare waarde en absoluut betroubaar.  Hierin skenk Hy ons Sy vergifnis en redding, Sy genade, Sy liefde, Sy goedheid en Sy trou en die allesoortreffende belofte van die Ewige Lewe saam met Hom:

JOH 3:16 God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Ons Here se beloftes skep vir ons geloof, hoop en ‘n opgewonde verwagting in ons harte!

Hoe kan ons hierdie beloftes wat God gemaak het bekom?

Alle beloftes is in Jesus Christus vervul en deur geloof en bekering tot Hom word ons kinders van God en erfgename van Sy beloftes:

GAL 4:29 Verder, omdat julle aan Christus  behoort, is julle die nageslag van Abraham en dus erfgename van die belofte!

Ek wil egter terwyl ons nou besig is met die onderwerp van beloftes in die Woord, met jou oor ‘n ander aspek van hierdie saak deel.

Ons moet versigtig wees om, ek wil amper sê, ons Here voor te sê of om ongeduldig te wees rondom hierdie of daardie belofte hier en nou in ons lewens te volbring volgens óns wil.  Ons houding moet een van nederige en diep dankbaarheid teenoor ons Here wees vir Sy wonderlike beloftes en liefde aan ons bewys aan die Kruis.

Die Here het byvoorbeeld vir Habakuk geantwoord op sy vraag dat hy geduldig moet wag vir God se belofte om tot vervulling te kom aangaande dit waaroor Habakuk Hom gevra het:

HAB 2:3 Die dinge wat Ek beplan, gaan nie nou dadelik gebeur nie.  Stadig maar seker breek die tyd aan wanneer die visioen waar sal word.  Wag geduldig, al voel dit of dit stadig gaan.  Wees seker dit gaan gebeur, dit sal nie onnodig talm nie. 

Sommige beloftes is aan spesifieke mense gerig en andere in die algemeen.
Ek haal twee voorbeelde aan van beloftes in die Woord aan alle mense:

JHN 3:16-18 
16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

1JHN 1:8-9 
8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.
9  As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Is dit nou nie twee van die wonderlikste dinge om in hierdie onsekere tye van kennis te neem nie?

Let ook op dat baie beloftes met ‘n voorwaarde of opdrag en verantwoordelikheid van ons kant gekoppel is.  Ek noem net ‘n paar voorbeelde:

JOH 3:36  Wie glo in die Seun, besit nou reeds die ewige lewe;  wie egter aan die Seun ongehoorsaam, is, sal die lewe nie ervaar nie, maar die oordeel van God rus op hom.

OPB 3:5 Almal wat aanhou oorwin, sal só met wit klere aangetrek word.  En Ek sal hulle name nooit uit die Boekrol van die Lewe vee nie, maar voor my Vader en Sy engele getuig dat hulle Mý mense is.

ROM 10:9-10
9 Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.
10 Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons gered.

JOH 10:9 “Ek is die hek;  as iemand deur My ingaan, sal hy beslis gered word.   Hy sal ingaan en uitgaan en groen weiding kry.”

Sommige beloftes is aan ‘n sekere persoon of volk gerig:

GEN 18:10-14 
10  En Hy sê: Ek sal oor ‘n jaar sekerlik weer na jou toe kom—dan sal jou vrou Sara ‘n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom was.
11  Maar Abraham en Sara was oud, ver op hulle dae; dit het met Sara nie meer volgens die reël van die vroue gegaan nie.
12  En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus hê nadat ek oud geword het en my heer oud is?
13  Toe sê die HERE vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook werklik baar nou dat ek oud geword het?
14  Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor ‘n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal ‘n seun hê.

Vandag kyk ek na die miljoene Jode oor die wêreld versprei en ek onthou die belofte aan Abraham en Sara en ek sê:
”Ons Here het belowe en die res is geskiedenis.”
Dan ook:

EXO 33:1  Verder het die HERE met Moses gespreek: Gaan heen, trek hiervandaan op, jy en die volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, na die land wat Ek met ‘n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het, met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek dit gee;
 

Vandag onthou ek al die ontberings wat die Jode oor duisende jare moes belewe en ek kyk na die land Israel en ek onthou die belofte van ons Here en ek sê:
”Ons Here het belowe en die res is geskiedenis.”

Weet jy wat is vir my so heerlik wonderlik van al die beloftes van ons Here in Sy Woord?  Ons Here sal en doen dit ook – Hy neem enige hoeveelheid van daardie geweldige baie beloftes, spesifiek of aan almal, en maak dit op jou of my van toepassing wanneer en soos Hy wil.
Ek gebruik ‘n voorbeeld van ‘n spesifieke belofte wat ons Here ook op iemand anders van toepassing gemaak het:

In JES 49:6 lees ons:

JES 49:6  Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.

Hierdie gedeelte handel eintlik oor ons Messias maar ons Here se Heilige Gees het dit in Paulus se hart, direk op hom, Paulus, van toepassing gemaak:

HAN 13:47  Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.

Hoe waar het dit nie in my groot held Paulus se lewe geword nie!

Hoe absoluut wonderlik!
Hoe absoluut heerlik!
Ons kan die Woord neem en teen ons hart vasdruk en uit volle bors daardie ou koortjie sing.

Elke belofte in die Woord is myn,
Elke hoofstuk, elke vers, elke lyn.
Almal seën uit Sy liefde rein,
Elke belofte in die Woord is myn.

Groete,
Sakkie