ELKE KEER AS GOD SE KINDERS BID, GEBEUR DAAR IETS – DEEL 2

ELKE KEER AS ONS AS KINDERS VAN GOD BID, GEBEUR DAAR IETS  – DEEL 2

Sakkie Parsons

Ek het reeds vir jou genoem dat as gevolg van iets wat iemand oor die TV kwytgeraak het, het ek besluit om ‘n paar gedagtes wat by my opgekom het, met jou te deel.
Vandag wil ek spesifiek met jou deel oor een stelling wat hy gemaak het en ek haal hom na die beste van my vermoë aan:
“All the sick in the days of the Gospels were healed.”
Na my mening is dit natuurlik nie waar nie.

Ek wil nou probeer om met die leiding van die Heilige Gees na die beste van my vermoë vir jou te verduidelik hoe ek hierdie en ander soortgelyke probleme sien.

Jy was dalk ook al siek en jy het vir jou laat bid en jy het self gebid en die probleem het ten spyte van die gebede voortgeduur en dalk selfs nog vererger ook.
Onthou ook as ek met jou deel dit wat in my hart is.
Ek het nie al die antwoorde nie.  Om die waarheid te sê, ek het baie min antwoorde maar ons Here het op my hart gelê om vir jou te sê, dat as jy dit wat ek met jou wil deel gelees het, jy nog steeds vrae sal hê maar jy sal ook vrede oor baie dinge hê.

Verdra my tog ook asseblief as ek begin met ‘n gedeelte uit ons Here se Woord, wat ek altyd gebruik in my eie lewe as ek iets nie verstaan nie en wat ek al baie gebruik het in pos wat ek vir jou gestuur het.

1KOR 13:9  Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.
1KOR 13:10  Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.

Asook:

1KOR 13:12  Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.

Onthou ook asseblief, dat my doel met hierdie skrywe aan jou is om jou en ander mense te help om nie in ‘n hopelose wanhoop te verval, soos die persoon wat vir my gesê het:
“Ag, God stel net eenvoudig nie in my belang nie, daarom verander niks nie.”

Soos ek reeds gesê het is dit na my mening nie waar dat alle mense in Jesus se tyd genees gewees het nie.  Om die waarheid te sê, nie eens almal wat in Sy nabyheid gewees het, was volgens die getuienis tot my beskikking genees nie.  Nie liggaamlik nie en ook nie geestelik nie.  Geestelik hier dink ek veral aan die Skrifgeleerdes en die Fariseërs, asook die ryk jong man.
Oor die liggaamlike genesing net die volgende voorbeeld:

JHN 5:2-9 
2 En daar is in Jerusalem by die Skaapspoort ‘n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus Betésda genoem word.
3  Daarin het ‘n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het.
4  Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het.
5  En ‘n sekere man was daar, wat agt en dertig jaar aan sy siekte gely het.
6  Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al ‘n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: Wil jy gesond word?
7  Die sieke antwoord Hom: Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan ‘n ander een voor my in.
8  Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop.
9  En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop. En daardie dag was dit sabbat.

As jy nou verder gaan lees sal jy duidelik kan sien deur alles wat gevolg het, dat Jesus
net die een persoon genees het, alhoewel daar baie ander siek en gebreklike mense
gewees het.

JHN 5:3  Daarin het ‘n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het.

Ek weet nie hoekom Jesus net die een persoon genees het nie maar ek weet verseker,
dat Jesus nie meer van hom gedink het as die ander nie, want net ‘n ruk later gaan
hang hy aan ‘n kruis, vir daardie genese man en al die ander wat daar gewees het en
vir jou en vir my.

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

MAT 18:11  Want die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is.

Al sit jy daar met dinge wat jy nie verstaan nie en al sit ek hier met my doring in my
vlees en dinge wat ek nie verstaan nie.

Weet jy hoe kyk ek in my dowwe spieël na die raaisel wat ek daar sien en nie verstaan nie?
Ek kyk met opgewonde afwagting na die onverstaanbare beeld en ek sien uit na die
dag wat ek in verrukking  my hande gaan saam slaan, as ek sien, oor hoekom my lewe
die pad op die manier moes loop, wat my lewe geloop het.

In die tussentyd lewe ek my lewe met volle heerlike wete.

ROM 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

Ek weet ook, dat elke persoon wat Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker verseker kan weet en op hom of haar van toepassing kan maak wat ek nou van myself gaan sê:

Elke keer wat ek met ‘n probleem na my Here toe gegaan het, het Hy geluister en nog elke keer het Hy my verhoor.  Ek het nie elke keer van die antwoord gehou nie.  Ek het selfs nie elke keer die antwoord gehoor of gesien nie maar soos ek by ‘n vorige geleentheid vir jou gesê het –
Elke keer as ons as kinders van God bid, gebeur daar iets.
Selfs as daar volgens dit wat ons kan sien, niks gebeur nie, kan ons verseker weet ons
is verhoor en daar is ‘n antwoord.
Daarom juig ek dit saam met die profeet uit:

HAB 3:17-19 
17 Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie—
18  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
19  Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes.

Groete,
Sakkie