ELKEEN WAT SY BROEDER HAAT IS ‘N MOORDENAAR

ELKEEN WAT SY BROEDER HAAT, IS ‘N MOORDENAAR

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg.

“Ek lees op facebook waar iemand na Jeremia 13 vers 23 verwys en hy se dat hier na die swart mense verwys word en hulle daarom nie kan verander nie. Wanneer jy n kansie jou kommentaar asb lief.“

Hier dan eers is die gedeelte wat ter sprake is:

JER 13:23  Kan ‘n Kusiet sy vel verander of ‘n luiperd sy vlekke? Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat gewend is om kwaad te doen.

So met die tong in die kies –
Die persoon se haat en of veragting vir mense wat nie dieselfde kleur as hy het nie, het hom toe gelukkig en dankie tog daarvoor, toe nie toegelaat om ook ‘n verduideliking te gee vir die luiperd en sy vlekke nie.
Haat vir ander mense is natuurlik iets boos wat van satan kom en derhalwe nie by ‘n ware kind van ons Here gevind behoort te word nie.
Ons moet die sonde haat maar soos ons Here, moet ons die sondaar liefhê.
Ons Here het alle sondaars, ook hierdie een wat hier skryf, so lief gehad, dat HY sy lewe vir ons gegee het.

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
JHN 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

1JHN 2:2  En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

Vir die godsdienstiges, let op ek sê nie Christene nie.
Want glo my, ‘n mens kan baie godsdienstig wees sonder om ‘n Christen, met ander woorde dissipel van Jesus te wees.
Ons – die ware Christen – kan soos die Jesus se Gees wat in ons woon nie ander mense haat of verag, net omdat ons Here dit goed gedink het om daardie mense in ‘n ander kleur te skape nie.
Vir ons Christene sê die Woord en hoe heerlik eenvoudig is dit nie om te verstaan nie:

1JHN 2:9  Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe.

1JHN 2:11  Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het.

1JHN 3:15  Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.

1JHN 4:20  As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?
1JHN 4:21  En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.

Nou weet ek, want ek het nie van vandag af met satan te doen nie, hoe sommige gaan redeneer, omdat hulle, hulle geestelike ore aan satan uitleen.
Dit gaan iets soos die volgende wees.
“Ou Sakkie daar staan, dat ek my broer moet liefhê en nie al hierdie ander mense van wie jy praat nie.”
Ek vergeet nou maar vir die oomblik, net vir die oomblik terwille van hierdie skrywe natuurlik, van al die ander mense wat Jesus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker wat nie van dieselfde kleur of taal as ek is nie en wie my, hoe wonderlik,  broer en suster is, wie ek jou kon voorhou en ek kwoteer maar net vir jou wat Jesus wat in my woon, vir my en elke ander ware Christen in wie Hy woon sê en van ons verwag.

MAT 5:43-45 
43 Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat.
44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;
45  sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.

Een van my groot leermeesters het by geleentheid vir my iets gesê, wat min of meer so gegaan het:
“As jy ‘n stelling oor wat in die Woord geskryf is maak en jy kan dit nie op wit en swart uit die Woord staaf nie, dan is dit op die beste jou siening en op die slegste, satan se siening.
Jy weet verseker dit is satan se siening, as die Woord, die stelling wat jy gemaak het weerspreek.  Oppas dan, satan is besig om deel van jou vriendekring te word.”
Ek kon nou baie gedeeltes uit die Woord geneem het, wat aste ware skreeu teen hierdie stelling wat jy aan my gestuur het maar ek volstaan met drie.

Ons Here is, om dit so te stel, nie ‘n morsjors nie.
Daarom sal Hy ook nie Sy kosbare tyd destyds gemors het om dit so aan ons te stel nie en Hy sou ook nie ons kosbare tyd wat Hy aan ons gee, ons vandag so laat mors het, deur ons so ‘n opdrag te gee nie, as dat ons Sy Evangelie aan alle nasies moet verkondig, as daar nasies is by wie dit ‘n vermorsing van tyd gaan wees nie.

MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
MAT 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

Hoe heerlik wonderlik om te weet, dat ons in die verlede suksesvol gewees het, dat ons nou  ook suksesvol in hierdie opdrag is en dit ook in die toekoms sal wees, want ek lees.

OPG 5:9  Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,
OPG 5:10  en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.

Hoe heerlik om te weet, dat ons God en Verlosser nie net vir jou en my nie maar vir die héle wêreld se mense Sy bloed gestort het.
Onthou wat ek geskryf het:
“Ons Here is nie ‘n morsjors nie.

1JHN 2:2-6 
2 En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
3  En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar.
4  Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie.
5  Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is.
6  Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.

Van watter gebooie word hier gepraat?

MAT 22:35-40 
35 En een van hulle, ‘n wetgeleerde, het ‘n vraag gestel om Hom te versoek en gesê:
36  Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Is dit nie wonderlik nie om te weet as ek dit doen, sê die Woord.

ROM 13:8  Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.
ROM 13:9  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
ROM 13:10  Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.

Eendag, baie, baie lank gelede, toe ek nog op skool was, maak een van die leerlinge ‘n stelling en hy begin dit deur te sê:
“My siening is …”
Die onderwyser het stil na die leerling geluister.
Toe antwoord hy die leerling en eindig deur te sê:
“So, jou siening stink.”
Met dit wat ek jou nou gewys het en dit is maar ‘n baie klein bietjie van wat ek kon gebruik het, kan ek maar net sê:
“ Die stelling/siening van die persoon wat jy aan my gestuur het, het vir my ‘n sataniese vrot stank.”

Jy mag dalk ook belangstel in die volgende dagstukkies.
Wie is my Naaste
Die gebeure in Numeri 12

            
Groete,
Sakkie