EN WAT VAN JOU, WIE SÊ JY IS EK?

EN WAT VAN JOU, WIE SÊ JY IS EK?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Was Jesus dood in die graf ?
Die tradisionele kerk leer Hy het neergedaal na die doderyk.  As dit so is, is ons godsdiens leuens.”

Ek wil graag my antwoord aan hierdie persoon met ‘n gedeelte uit ‘n lied begin wat ons altyd in die NG kerk na die geloofsbelydenis gesing het en dit begin so:

“Ewig onbegryplik Wese.  Vader, Seun en Heilge Gees…”

Hierdie woorde beskryf, met groot respek gesê, die Almagtige Alomteenwoordige en Alwetende GOD in my hart, baie goed.
Ek sal nooit met my klein verstandjie ons Here se Godheid, die Vader, Seun en Heilige Gees kan verduidelik nie.
Ek lees die Woord Soos wat ons Here wil dat ek dit moet lees en ek glo die Evangelie van Jesus Christus soos ons Here wil dat ek dit moet lees, met die geloof van ’n kind – Sý kind.
Ek lees in hierdie verband:

MAT 11:25  Toe het Jesus hierdie gebed gebid:
“Vader, Here van die hemel en die aarde,
Ek sê vir U dankie dat U die insig in hierdie dinge
van die slimmes en intelligentes weerhou het
en dit oopgemaak het vir hulle wat soos kinders geword het.
MAT 11:26  Ja, Vader, want U verkies hierdie manier van doen!

Op ‘n ander plek onderstreep Jesus aste ware wat Hy hier sê, wanneer Hy sê:

MRK 10:15  Ek verseker julle, wie God se koninkryk nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.”

So, ek kyk na Jesus en ek sien, dat Hy so volledig mens was, dat daar aangaande Hom geskryf staan:

LUK 2:7  Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, ’n seun. Sy het Hom (dit is Jesus) in doeke toegedraai en Hom in ’n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Dan lees ons later van hierdie Jesus wie se ma Hom as baba in doeke toegedraai het, om Hom teen die elemente te beskerm, dat Hy so volledig God is, dat die elemente aan Hom gehoorsaam is:

MRK 4:39-41
39  Jesus het opgestaan, die stormwind ernstig aangespreek en vir die see gesê: “Bedaar! Word kalm!” Toe het die wind gaan lê en daar het ’n groot rustigheid gekom.
40  Hy vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?”
41  Hulle was heeltemal oorweldig en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see luister na Hom!”

Hierdie Jesus, God wat mens geword het, van wie ons lees:

JOH 1:1-3 
1 Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.
Die Woord was by God, en die Woord was self God.
2  Hy was reeds in die begin by God.
3  Alles het deur Hom ontstaan,
en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.

JOH 1:14  En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

Ja, hierdie Jesus hou die hele wêreld in die palm van Sy hand en tog lees ons aangaande Hom in Sy menslike hoedanigheid, terwyl sy moeder hom nog borsvoed, hoe absoluut in beheer ons Here is:

MAT 2:13  Ná die vertrek van die sterrekundiges verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê: “Staan op en vlug met die Kindjie en sy ma na Egipte toe. Bly daar tot ek vir jou sê om terug te kom, want Herodes gaan die Kindjie probeer doodmaak.”

So, om die vraag en stelling wat aan my gemaak is te antwoord:

As ek alles wat jy nou gelees het, heerlik onder leiding van die Heilige Gees kinderlik glo, is dit maklik om ook te glo wat ek lees, as ek eers aangaande Jesus lees:

JOH 19:28-30 
28 Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”
29 ’n Kruik vol suur wyn het daar gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptak gesit en dit teen sy mond gehou.
30  Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!” Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.

Om dan te lees, dat nadat Hy Sy asem in Sy mensheid uitgeblaas het en hulle Sy liggaam in die graf geplaas het , die volgende aangaande Hom gesê word:

1PET 3:18  Ons moenie dink dis net ons wat onverdiend ly nie. Ook Christus het só gely toe Hy eens en vir altyd  vir ons sondes gesterf het.  Hy het nooit enige sonde gedoen nie; tog het Hy vir sondaars gesterf om julle by God te laat tuiskom. Wat sy liggaam betref, het Hy gesterf, maar wat sy gees betref, is Hy lewend gemaak.
1PET 3:19  Só het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en sy oorwinning daar aangekondig.

Hoe heerlik om dan nog verder van hierdie Jesus, die Woord wat mens geword het en wie se Liggaam in die graf gelê het en wie in daardie tyd..

1PET 3:19  … na die geeste in die gevangenis gegaan en sy oorwinning daar aangekondig.

Om dan nog verder van hierdie Jesus te lees:

MRK 16:5-7 
5 Hulle gaan toe in die graf in en daar op die regterkant sien hulle ’n jong man in wit klere sit. Hulle was heeltemal verskrik.
6  Hy sê toe vir hulle: “Moenie so skrik nie. Julle soek vir Jesus van Nasaret, die Een wat gekruisig is. Hy is nie hier nie. Hy is opgewek uit die dood! Kyk, hier is die plek waar hulle sy liggaam neergelê het.
7  Maar gaan sê julle vir sy dissipels, Petrus ingesluit: Hy gaan julle solank vooruit na Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien soos Hy vir julle gesê het.”

Natuurlik klink dit wat ek nou met jou gedeel het vir sommige mense na onsin en dit klink en is inderdaad onsin vir hulle wie nié Jesus Christus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker nie en daarom ook nie die Heilige Gees in hulle het om hulle kinderlik te help glo nie.
In hierdie verband sê die Woord dan ook self vir ons:

1KOR 1:18-25 
18 Ek besef hoe belaglik die boodskap van die kruis moet klink vir hulle wat verlore gaan. Maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God.
19  Soos die Skrif sê:  “Ek sal die wyse mense se wysheid tot niet maak;  en die skerpsinniges se briljante idees sal Ek van die tafel vee.”
20  Wat het dus geword van die filosowe, die boekgeleerdes, die debatvoerders van hierdie wêreld? God het bewys hoe inherent dwaas die wysheid van hierdie wêreld in werklikheid is.
21  Aangesien God in sy wysheid beskik het dat die wêreld Hom nooit deur menslike slimmigheid sou vind nie, het Hy dit goedgevind om deur die “dwaasheid” van ons prediking dié wat glo, te red.
22  Die Jode (dit is ‘n tipe van die een soort mens) wil wondertekens hê om die waarheid van die Goeie Nuus te bevestig en die Grieke (dit is ‘n tipe van ‘n ander soort mens) wil ’n vertoon van wysheid hê.
23  Maar ons verkondig die gekruisigde Christus. Vir die Jode is dit skokkend en vir die nie-Jode is dit absolute dwaasheid.
24  Maar vir ons almal wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, (prys die Naam van ons Here!) is die gekruisigde Christus die magtige kragwerking van God en die wonderlike wysheid van God.
25  Hier-die Goddelike “dwaasheid” is oneindig wyser as enige menslike wysheid en hierdie Goddelike “swakheid” is oneindig sterker as enige menslike kragvertoon.

Vir jou wie nou hier lees, vra Jesus vandag ook soos wat Hy by geleentheid vir Sy dissipels gevra het.  Daarom het jy hierdie gedagte uit die Woord tot hier gelees:

MAT 16:15  … En wat van julle, ook (jy wie nou hier lees) wie sê julle (ook jy wie nou hier lees) is Ek?”

Kan jy soos Petrus antwoord:

MAT 16:16  Simon Petrus het geantwoord: “U is die Messias, die Seun van die lewende God.”

As jy dit ook met sekerheid in jou hart kan antwoord, het jy hierdie heerlike wete:

MAT 16:17  Jesus het hom geantwoord: “Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, (ook jy wie nou hier lees) want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie.

Groete,
Sakkie