EVOLUSIE – GOD IS NIE TYDGEBONDE NIE

EVOLUSIE – GOD IS NIE TYDGEBONDE NIE

Sakkie Parsons

Voor ek my antwoord op die vraag hier onder met jou deel, wil ek net weer met jou deel hoe ek na die Woord kyk en dit lees en verstaan:
Ek lees die Woord soos ‘n kind en glo dit wat ek lees en verstaan soos ‘n kind.  Want dit is hoe Jesus, wie vir my aan die kruis Sy lewe gegee het, wil dat ek die Woord moet lees en verstaan:

MRK 10:15  Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

In hierdie verband sê Jesus by geleentheid vir Sy Vader:

MAT 11:25  In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.
MAT 11:26  Ja, Vader, want so was dit u welbehae.

Die vraag wat iemand aan my gestel het, het ek net kortliks as volg saamgevat:

Mense praat van die evolusie en die aarde wat miljoene jare oud is.  Hoe moet ek dit verstaan?

Ek deel dan nou met jou hoe ek met my kennis van die Woord en dit wat ek daar vind, iets, ‘n baie klein iets, so glo ek, verstaan want ek met my menslike verstand verstaan baie min, omdat daar, soos ek die Woord verstaan, baie min gesê word oor wat die skepping waarvan ek moet kennis neem vooraf gegaan het.

Ek weet egter verseker van een gebeurtenis wat baie seker êrens tussen GEN1:1 en GEN 1:31 plaasgevind het maar ek deel dit met jou ‘n bietjie later in hierdie skrywe.

Laat ek nou met jou deel wat ek, so glo ek, in die verband van die wetenskaplikes se miljoene en miljoene jare in die Woord sien en dan wil ek sommer byvoeg, dat ek nie te kenne gee dat ek nou al die antwoorde het nie.  Eintlik het ek baie, baie min maar dit wat ek glo ek het, deel ek met jou.
Kom ons lees dan nou GEN 1:4:

GEN 1:1-5 
1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
2  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.
3  En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.
4  Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis;
5  en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.

Eerste dan:

GEN 1:1  In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Ek weet nie hoe lank dit ons Here behaag het om dit te laat plaasvind nie.
Dit kon onmiddellik gewees het maar dit kon ook in duisend jaar of miljoene jare geneem het.
Ons lees in 2 PET 3:8

2PET 3:8  Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.

Wat Petrus vir ons Hier sê, is, dat die Almagtige God nie, om dit so te stel, tydgebonde is nie.

Terug by GEN 1:1-4
Ons lees, dat nadat ons Here die hemel en die aarde geskape het:

GEN 1:2  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.

Hoe lank die aarde woes en leeg was weet ek nie.  Dit kon ‘n oomblik of korter gewees het maar dit kon ook ‘n duisend of miljoene jare gewees het want:

2PET 3:8  Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.

Want God is nie tydgebonde nie en:
GEN 1:2  … en die Gees van God het gesweef op die waters.
Hoe lank dit gewees het weet ons nie – Dit kon ‘n duisend jaar of miljoene jare gewees het, want God is nie aan tyd gebonde nie.

Toe begin God met Sy skepping, waar Hy wou dat die mens in sy volmaaktheid moes lewe:

GEN 1:3-5 
3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.
4  Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis;
5  en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.

Oor die lengte van elk van die 6 dae en die 7de dag, kan mense nou sis of so sê maar ekself gaan nie sê die dag was so, of so lank nie, gewoon omdat die Woord nie vir my sê hoe lank daardie dae gewees het nie.  Ek weet net verseker, dat God vir my sê, dat daar 6 dae was waarin Hy die skepping begin en voltooi het en ek weet, dat God nie tydgebonde is nie.

Ek het aan die begin van hierdie skrywe genoem, dat ek verseker weet van een gebeurtenis wat plaasgevind het êrens tussen GEN 1:1 en GEN 1:31 en ons lees daarvan in OPG 12:7:

OPG 12:7-9 
7 En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer;
8  en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie.
9  En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.

Hoe weet ek verseker, dat die oorlog êrens tussen GEN 1:1 en GEN 1:31 plaasgevind het?
Omdat die engel wat eens in die hemel gewees het, in die gedaante van ‘n slang in GEN 3:1 na Eva in die paradys kom:

GEN 3:1  Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?

Ek het nou nie eens uitgekom by God se skep van Adam nie maar as jy die Woord glo, soos ek die Woord glo, weet jy, dat daar ‘n Adam gewees het en in die verband lees ons in die Nuwe Testament onder andere:

1KOR 15:45-47 
45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.
46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.
47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here (dit is Jesus Christus) uit die hemel.

Volgens wat jy nou gelees het was daar ‘n eerste Adam, die Adam in die paradys en ‘n tweede Adam, naamlik Jesus Christus.

Dan is dit mos net logies, dat as daar nie ‘n eerste Adam gewees het nie, kon daar ook nie ‘n tweede Adam gewees het nie en dit is mos heeltemal absurd.

Ek weet daar is baie wetenskaplikes wat nie glo dat daar ‘n eerste Adam was nie – maar dan, hulle glo ook nie in Noag en die ark nie – maar Jesus, (die tweede Adam) glo in Noag en sy ark en hoe ook anders, Hy was daar:

MAT 24:35-39 
35 Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
36  Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.
37  En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
38  Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het,
39  en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.

Onthou nou, dat die Woord is nie ‘n wetenskaplike boek nie en ek is ook nie ‘n wetenskaplike nie.
Ek is ‘n gelowige kind van God en ek sê van al die dinge in die wêreld waarvoor ek min of geen antwoorde het nie, soos my groot held Paulus dit ook by geleentheid gestel het:

1KOR 13:12  Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.

Nou in hierdie lewe glo en volg ek Jesus Christus soos ‘n kind, God se kind.

Wat ek wel in die Woord gevind het en ‘n passie het om met mense te deel is: Wat ek moet doen en hoe ek moet lewe om, as ek hierdie lewe uittree, ek in die hiernamaals die hemel in tree.

Die Woord is aste ware my padkaart na die Hemel en ek probeer om hierdie padkaart vir soveel mense as moontlik te wys.  Sodat hulle ook die pad na die Hemel kan vind en daarop bly, totdat hulle die Hemel instap.

Dit is mos die opdrag van ons Verlosser en Saligmaker wat elke dissipel van Hom gekry het:

MAT 28:18-20 
18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.
19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Hierdie bevel het Hy ons gegee na Sy opstanding uit die dood en net voor Hy na die hemel opgevaar het.

Ek weet nie almal van ons kan preek nie.
Nie almal van ons ken die Woord baie goed nie. (Wat baie jammer is)
Nie almal van ons kan in die openbaar getuig of bid nie.
Nie almal van ons kan sing nie en so kan ek aan en aan gaan – maar ons almal het ‘n lewe en dit is waar dit moet begin.
Lewe jou lewe so, dat die mense Jesus in en deur jou kan sien.

Met ander woorde.
Jy en ek is kinders van God en mede-erfgename van Jesus.

ROM 8:16  Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;

ROM 8:17  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Kom ons lewe so, dat die mense die familie ooreenkoms kan sien.

Groete,
Sakkie