GAAN DIE KONINKRYK DEUR DIE NOU POORT BINNE

GAAN DIE KONINKRYK DEUR DIE NOU POORT BINNE

Sakkie Parsons

Iemand stuur aan my die volgende gedeelte uit die Woord en sê dan met reg, dat ons Here mos nie iemand sal laat lieg en so deel van ‘n sondige daad wees nie.

NUM 23:19  “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie? “

Die gedeelte waaroor die persoon aan my geskryf het is die volgende:

2KRO 18:19  “En die HERE het gesê: Wie sal Agab, die koning van Israel, oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? En die een het so gesê, en die ander weer so.
2KRO 18:20  Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die HERE staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die HERE vra hom: Waarmee?
2KRO 18:21  En hy sê: Ek sal uitgaan en ‘n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so.“

Om mee te begin, moet ons een ding goed begryp:  Ons Here is alwetend en Hy het reeds voor die skepping presies geweet wat hier gaan gebeur en wat die uitslag van die gebeure gaan wees.

Nou goed, met dit dan in gedagte:

Wat my aanbetref, is daar min regeerders in die geskiedenis van Israel, wat boosheid aanbetref, wat met Agab kon kompeteer en glo my, daar was ‘n paar werklik bose regeerders. Agab het in sy boosheid vir hom 400 valse profete aangestel wat altyd geprofeteer het wat hy wou hê dat hulle moes profeteer. Daardie leuengees was reeds ‘n werklikheid onder hulle.

So, ek verstaan dat toe ons Here sê – want eintlik was dit nie ‘n vraag nie, dit was amper, om dit so te stel – ‘n stelling om uit te wys wie, of dan, wátter soort gees is die gees wat Agab se ondergang gaan bewerkstellig.

Want onthou nou, ons Here is Almagtig en het nie Self nodig om uit te vind wie die leuengees is nie.
Daarom lees ons: “En die HERE het gesê” en nie: “En die HERE het gevra?” nie.

2KRO 18:19  “En die HERE het gesê: Wie sal Agab, die koning van Israel, oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? …”

Toe ons Here dus sê:

2KRO 18:21  “… Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so.”

Dit was nie ‘n bevel nie maar ‘n bevestiging van wat gaan gebeur.

Alle, om dit so te stel, geeste kon toe sien wat ons Here al die tyd geweet het watter gees Agab se ondergang gaan bewerkstellig en ons Here het maar net bevestig presies deur wie, wat gaan gebeur.

Die beste wat ek hierdie laaste gedeelte kan verduidelik is:

Jy en ek kyk na ‘n rugbywedstryd op die TV. Dit is ‘n her-uitsending en ek het die wedstryd klaar gesien, maar jy het nie die wedstryd gesien nie.
Nou lê jou span aan pale toe en julle is ‘n punt agter en na hierdie skop gaan die eindfluitjie blaas.
Jy kan nie die spanning verdra nie en vra my:
“Sê tog wat gaan gebeur?”
Ek antwoord: “Ja, Piet gaan die bal tussen die pale deur skop.”

Ek het nie voorspel nie. Ek het nie ‘n bevel gegee nie. Ek het net gesê wat die werklikheid is en dit is presies wat ons Here hier in Sy alwetendheid gedoen het.

Hy het net die werklikheid bevestig.

Agab was ‘n verskriklike bose koning en ten spyte van wat hy van ons Here geweet het, wou hy nie ons Here dien nie.

Hierdie gedeelte bevestig maar net weer dat, ten spyte van die soort evangelie wat deur sommige verkondig word van eenmaal gered, altyd gered, is dit gewoon net nie waar nie.

Ons Here sal my nooit van Sy kant af los nie maar omdat ons Here my na Sy beeld geskape het en deel van daardie beeld is dat ek soos Hy ‘n wil van my eie het, en dat ons Here uiteindelik my wil respekteer waar dit op myself van toepassing is, net soos wat Hy ook wil dat ons Sy Wil moet respekteer.  Daar  kom egter verseker ‘n dag as ek aan en aan en aan en aan hou om Hom te wys dat ek Hom nie regtig wil dien nie, dat hy soos in Agab se geval, my dan los dat ek nou maar kan glo en doen soos wat ek deur my eie wil besluit het, dit is soos ek wil lewe.
Een soortgelyke voorbeeld hiervan kry ons ook in Romeine in die Nuwe Testament.

Ons lees:

ROM 1:22-32
22 “Alhoewel hulle daarop aanspraak maak dat hulle danig slim is, het hulle in werklikheid heeltemal in dwaasheid verval – in so 'n mate
23 dat hulle die verering van die onsterflike God met afgode vervang het wat sterflike mense en voëls en diere en slange uitbeeld.
24 Om hierdie rede het God hulle aan hulle eie sondige hartstogte oorgegee, met die gevolg dat hulle onsedelikheid begin bedryf het deur oor en weer immorele praktyke met mekaar se liggame te beoefen.
25 Hulle het immers so ver gegaan om die ware kennis van God te verkwansel vir die leuen en God se handewerk te vereer en te dien in plaas van die Skepper self – dié God wat vir ewig geprys behoort te word. Amen!
26 Dit is daarom dat God hulle oorgegee het aan hulle eie skandelike drifte. Selfs die vroue het die natuurlike seksuele verkeer verruil vir wat teen
die natuur is, naamlik dié met ander vroue.
27 Op dieselfde manier het die mans die natuurlike manier om seksueel te verkeer prysgegee en 'n brandende begeerte na mekaar begin koester. Mans het skandelike dade met mekaar bedryf. Gevolglik moes hulle in hulle eie persoon die duur prys vir hulle perversiteit betaal.
28 Inderdaad, omdat hulle geweier het om aan God die erkenning te gee wat Hy verdien, het Hy hulle oorgegee aan hulle skewe ingesteldheid. Gevolglik doen hulle allerlei onbehoorlike dinge.
29 Hulle lewe word gekenmerk deur elke vorm van ongeregtigheid, boosheid, grypsug, kwaadwilligheid; hulle is vol jaloesie, moord, twisgierigheid, skelmstreke, slegte bedoelings en skinderpraatjies.
30 Hulle steek kwaad, haat God en is arrogant, hooghartig en verwaand; hulle is vindingryk om slegte dinge te bedink en ongehoorsaam aan hulle ouers;
31 jy kan nie met hulle redeneer nie en ook nie op hulle reken nie; hulle is liefdeloos en sonder ontferming vir ander mense.
32 Hulle is bewus van God se bepaling dat mense wat met sulke praktyke besig is, die dood verdien. Tog is hulle nie net self aktief daarmee besig nie; hulle spoor ook nog ander aan wat daarmee besig is.”

Ons het gelees:

ROM 1:24  “Om hierdie rede het God hulle aan hulle eie sondige hartstogte oorgegee, …”

Asook:

ROM 1:26   “Dit is daarom dat God hulle oorgegee het aan hulle eie skandelike drifte. …”

En nog verder:

ROM 1:28 “Inderdaad, omdat hulle geweier het om aan God die erkenning te gee wat Hy verdien, het Hy hulle oorgegee aan hulle skewe ingesteldheid. …”

Beteken dit nou dat ons Here hulle as’t ware verlei het om te doen wat hulle gedoen het?

Nee!

Nooit!

Ons Here het, omdat hulle hul wíl so wou uitlewe, hulle net soos in Agab se geval, toegelaat om dan maar te lewe soos wat hulle wou lewe.

Nou, nadat ek in my antwoord op die vraag aan my met jou ietsie gedeel het oor een van die slegste konings wat Israel ooit gehad het, wil ek met jou ietsie deel oor een van die beste konings wat Israel ooit in die ou Testamentiese tyd gehad het.

Ons lees van hom onder andere:

2KON 18:1  “En in die derde jaar van Hoséa, die seun van Ela, die koning van Israel, het Hiskía, die seun van Agas, die koning van Juda, koning geword.”

Dan lees ons van Hiskía:

2KON 18:3  “En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE net soos sy vader Dawid gedoen het.”

Verder lees ons hierdie pragtige getuigskrif oor Hiskía:

2KON 18:5  “Hy het op die HERE, die God van Israel, vertrou, sodat onder al die konings van Juda ná hom en die wat voor hom gewees het, niemand soos hy was nie.
2KON 18:6  Ja, hy het die HERE aangehang sonder om van Hom af te wyk en sy gebooie onderhou wat die HERE Moses beveel het.”

Hiskía was die beste koning wat Juda ooit gehad het.

Jy het nou vandag hierdie gedagte uit die Woord oor die slegste koning van Israel en die beste koning van Juda tot hier gelees en weet jy?

Jy en ek is vandag op reis en ons gaan uiteindelik, óf eendag saam met Agab die ewigheid in die hel deurbring, óf ons gaan die ewigheid saam met Hiskía in die Hemel deurbring.
Ons Here wil dat alle mense, ook jy en ek, by Hom in die Hemel moet wees:

JOH 3:16 "God het die mensdom (dit beteken, alle mense) só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JOH 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense (alle mense wat Jesus aanneem) deur Hom verlos kan word.
JOH 3:18 Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof
gekom het in die enigste Seun van God nie.”

Ons Here weet natuurlik in Sy groot Alwetendheid, soos Hy dit ook van Agab geweet het, dat die meeste mense uiteindelik hul eie wil gaan gebruik om die hel te kies.

Luister wat sê ons Here in Sy groot Alwetendheid en weer konstateer Hy net die werklikheid, net soos Hy ook maar net in KRO 18:21 die werklikheid gekonstateer het, toe Hy destyds gesê het:

2KRO 18:21  “… Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so. “

Presies so konstateer ons Here net die werklikheid, toe Hy gesê het wat gaan gebeur, as mense met Sy Evangelie gekonfronteer word:

MAT 7:13 “Gaan die koninkryk deur die nou poort binne.  Want wyd is die poort, en breed is die pad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan.
MAT 7:14 Hoe bitterlik nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie!  Min is die mense wat dit kry!”

As jy vandag, op hierdie oomblik, nie seker is of jy op pad Hemel toe is nie, sê ons Here deur hierdie skrywe weer aan jou:

HEB 3:7  “Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle Sy stem hoor,
HEB 3:8  verhard julle harte nie …”

Die keuse lê geheel en al by jou.

Jy kan sommer net daar waar jy nou sit, in opregtheid die volgende kort gebed bid:

“Jesus help my dat ek seker kan wees, dat ek op pad na U in my Hemelse tuiste is.  Ek neem U aan as my Redder en Verlosser en ek dank U dat my lewe nou aan U behoort.”

Nou begin jy deur gereeld die Woord te bestudeer, gereeld met Jesus in gebed te gesels en by die eerste die beste geleentheid, raak jy betrokke by ‘n gemeente wat die hele Woord van ons Jesus as die onfeilbare Woord van God aanvaar.
Jy kan sommer dadelik betrokke raak deur op die laatste, hierdie Sondagoggend na ‘n erediens te gaan.

Groete
Sakkie