GEBORE UIT WATER EN GEES

GEBORE UIT WATER EN GEES

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf na aanleiding van een van my gedagtes uit die Woord wat ek uitgestuur het, die volgende:

“Na aanleiding van jou stelling in bogenoemde dokument naamlik: "In wat ek nou gaan sê, sê ek nie dat mense wat klein, of dan as babas gedoop is, op pad hel toe is nie. Jy gaan nie hel toe omdat jy nie gedoop is, of omdat jy verkeerd gedoop is nie."

My vraag dan: Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het:
"Johannes 3:5  Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie."

Ek deel graag my antwoord aan die persoon ook met jou.

In my bykans 40 jaar van vir ons Here werk, het ek ondervind, dat ons soms, om dit so te stel, die Evangelie verkondig van uit ons geestelik vriendelike omgewing en dat ons dan vergeet dat ons die Evangelie soms verkondig aan mense wat nie dieselfde soort ideale geestelike omstandighede het nie, maar gelukkig maak die Evangelie van Jesus ook vir die mense voorsiening wat nie in my idilliese geestelike omstandighede lewe nie.

In my antwoord op jou vraag, wil ek begin om eers te toon of die stelling wat ek gemaak het, volgens die Woord as die waarheid bewys kan word.  Want as my stelling nie deur die Woord as waar uitgewys kan word nie, is ek mos nie ‘n ware verkondiger van die Evangelie van Jesus Christus nie.

Hier dan weer is wat ek geskryf het:

“Jy gaan nie hel toe omdat jy nie gedoop is, of omdat jy verkeerd gedoop is nie. Jy gaan hel toe as jy sonder Jesus by die Hemelpoort aankom. Met ander woorde, as jy Jesus nie aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie en jy tree uit hierdie wêreld uit.”

Ek deel met jou die volgende voorbeeld uit die Woord, waar na my mening, albei hierdie groepe mense waarvan ek nou gepraat het verteenwoordig word.

Ons lees:

LUK 23:33 Toe hulle by die plek aankom wat Kopbeen genoem word, het hulle Jesus daar gekruisig, asook die misdadigers – een aan Jesus se regter- en een aan sy linkerkant.

Dan lees ons:

LUK 23:39-43
39 Een van die misdadigers wat daar gehang is, het Jesus aanhou beledig deur te sê: "Is jy dan nie die Messias nie? Red jouself en ook vir ons!"
40 Die ander een het hom egter bestraf en gesê: "Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan!
41 Ons het dit terdeë verdien, want ons verdien die straf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie."
42 Hy het verder gesê: "Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom."
43 Jesus se antwoord was: "Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees."

Een van daardie mans wat daar gehang het, het voor daardie aand sy oë in die hel oopgemaak en een van daardie mans wat daar gehang het, het voor die aand van daardie dag sy oë in die Hemel oopgemaak en hulle albei het een ding in gemeen wat hierdie skrywe aanbetref.

Nie een was gedoop nie maar die verskil wat verewig ‘n uitwerking op hulle toekoms sou hê was, dat die een het Jesus aangeneem as Verlosser en Saligmaker en die ander een het Jesus verwerp.

Daar kan baie redes wees waarom iemand nie na haar/sy bekering gedoop is nie.  Soos byvoorbeeld die man langs Jesus aan die kruis.
Daar kan ook baie redes wees waarom iemand verkeerd gedoop is, soos byvoorbeeld:

HAN 19:2-5
2 Hy het vir hulle gevra: "Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle begin glo het?"
"Ons het nie eens gehoor dat daar 'n Heilige Gees is nie," het hulle hom geantwoord.
3 "Met watter doop is julle dan gedoop?" het hy gevra.
Hulle het geantwoord: "Met die doop van Johannes."
4 Paulus sê toe: "Johannes se doop was 'n bevestiging dat 'n mens jou van jou sonde bekeer het tot God. Johannes het self vir die volk gesê hulle
moet in Jesus glo, dié Een wat hy gesê het ná hom kom."
5 Toe hulle dit hoor, het hulle, hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop.

Toe ek geskryf het wat ek geskryf het, het ek onthou, dat ek die genade ontvang het om aan baie mense uit baie bevolkingsgroepe te skryf en dat daar mense in lande lewe wat Jesus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker, wat dit selfs nie eens kan waag om dit vir hulle huisgenote te noem nie, wat nog te sê iemand te kry wat hulle sal doop.

Dan ook, selfs in hierdie land waar 78% van die bevolking bely dat hulle Christene is, word groot getalle mense verkeerd gedoop.

Sê ek nou die doop het min of geen waarde nie?

Nee!  Natuurlik nie en alhoewel daar ook ‘n ander sienswyse oor hierdie gedeelte naamlik JOH 3:5 is, verstaan ek hierdie gedeelte ook soos die persoon wat aan my geskryf het.
So, om mee te begin, daar staan dit en dit is Jesus, God wat mens geword het wat dit sê:

JOH 3:5 Jesus het geantwoord: "Ek verseker jou, as iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy so nimmer as te nooit in die koninkryk van God ingaan
nie.

Nou moet ons ook onthou aan wie Jesus hierdie Woorde sê:

JOH 3:1 Daar was 'n man uit die geledere van die Fariseërs met die naam Nikodemus, 'n leier onder die Jode.

Jesus sê dit nie aan iemand wat nie presies weet wat dit behels om Hom te volg nie.

Jesus sê dit ook nie vir iemand wat vir die een of ander rede verhinder word om Hom te volg soos wat Hy gevolg behoort te word nie.

Jesus sê dit vir iemand wat presies weet wat dit beteken om Hom te volg.

Só presies weet hierdie man wat die gevolge van volgeling van Jesus kan beteken, dat hy om dit vir homself maklik te maak om iets met Jesus te doen te hê, hy dit liewer skelm in die nag doen, sodat hy nie die argwaan van sy mede fariseërs homself op die hals kon haal nie.

JOH 3:2 Hy het een nag na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: "Rabbi, ons weet dat u as leraar van God af gekom het. …

Nou sê Jesus vir hom en ek gebruik hier my eie woorde om dit aan jou oor te bring soos wat ek dit sien:

Nikodemus, iemand wat My werklik volg, mag haar/homself nooit vir My skaam nie en ek dink so min van so ‘n mens se bekering, dat ek sê:

MRK 8:36-38
36 Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade?
37 Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie.
38 As jy jou vir My en vir my boodskap skaam te midde van vandag se ontroue en sondige mense, sal Ek, die Seun van die Mens, My ook vir jou skaam wanneer Ek terugkeer met die heilige engele, beklee met die heerlikheid van my Vader."

So, al is daar mense wat die hemel sal ingaan, omdat hulle nie gedoop is nie, of verkeerd gedoop is, gaan dit ‘n groot probleem wees, as ek wie die kennis en “geleentheid” het, Jesus, soos Nikodemus, aste ware met ‘n ‘in die nag sluip’ soort wyse wil volg, terwyl ek volgens my kennis van die Woord weet wat van my verwag word en my omstandighede van so ‘n aard is, dat ek kán doen wat van my verwag word.

As dit ons Here behaag het om aan my, soos aan Nikodemus, bekend te maak hoe ons Hom skaamteloos moet volg, moet ek besef, dat ek nie ons Here met ‘n soort van sluip in die donker geloof kan volg nie.

Dan verwag ons Here van my, om dit in die openbaar te doen en die eerste stap vir almal in die hele wêreld om te sien, dat ek ‘n dissipel van Jesus is, is juis deur my doop.
As ek soos Nikodemus al die kennis en geleentheid het, het ek geen verskoning om te sorg, dat van my kant af ek doen wat ons Here van my verwag nie.

JOH 3:5 Jesus het geantwoord: "Ek verseker jou, as iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy so nimmer as te nooit in die koninkryk van God ingaan nie.

Al die mense wat Jesus na Hom geroep het in Sy wandel hier op aarde, het hy in die openbaar na Hom geroep en hulle moes in die openbaar die stap neem om Hom te volg of nie.

Verder sê Jesus van Sy volgelinge die volgende.

HAN 1:8  maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Het jy gesien?
Jesus sê nie dat ek dalk, of miskien Sy getuie sal wees nie.  Hy sê al Sy kinders sal Sy getuies wees.

Vir my is een van die grootste buite Bybelse bewyse, dat Jesus se Evangelie ‘n openbare, in die daglig Evangelie is, juis die feit, dat satan dit regkry, dat so baie”Christene” ‘n soort skaamte het om in die openbaar te getuig, dat hulle Christene is.
Hulle het, om dit so te stel, ‘n soort ‘Nikodemus sluip in die donker’ geloof.

Sommige van ons, sal makliker aan almal wat wil luister vertel, vir watter rugbyspan ons ondersteun, as wat ons vir daardie selfde mense sal vertel, dat ons ‘n dissipel van Jesus is.

Vir my was my doop die eerste stap van gehoorsaamheid en die begin van die uitlewing van my getuienis vir Hom.

Met my doop, op die Bybelse manier, op Woensdagaand 25 April 1973, deur onderdompeling, het ek getuig in die openbaar aan alle mense, geeste en magte.

In hierdie voorstelling van die begrafnis van my ou mens en die opstanding van die nuwe mens, getuig ek:

*Ek glo, dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het.
*Ek glo dat Hy begrawe is.
*Ek glo, dat Hy uit die dood opgestaan het.
*Ek het hierdie Jesus, God wat mens geword het, aangeneem as my Verlosser en Saligmaker.  Die ou Sakkie is nou dood. 
*Ek is nou ‘n nuwe bloedgewaste kind van God, ‘n dissipel van Jesus.”

Ek het genoem dat ek nie net teenoor die mens nie maar ook teenoor “alle geeste en magte” hierdie getuienis bring –
Dat ek Jesus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker en dat ek nou Sy dissipel is.

LUK 15:7  Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor nege en negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.

As ek by ‘n doopdiens is en ek hoor hoe die persoon onderdompel word en ek hoor weer die water as die persoon uit die water kom, is een van die groot gedagtes altyd in my hart, van die weergalmende juigkrete wat daar deur die heelal in die geesteswêreld trek, as die persoon, of dan nuwe skepsel, uit die doopbad klim.

2KOR 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Ek moet nou ook nie dink en dit is baie belangrik, dat ons dit besef, dat bloot die feit, dat ek gedoop is en dit nog al in die openbaar deur onderdompeling, dat ek nou ‘n vrypas Hemel toe het nie.

Ek het in my lewe al ervaar dat ‘n droë onbekeerde die doopbad ingaan, en‘n nat onbekeerde anderkant uitkom.

Soos ons gesien het, as ek werklik die ou mens in die doopbad begrawe het, sal die mense om my ook die nuwe mens leer ken, omdat ek al hoe meer die vrugte van die bekering sal dra.

MAT 7:16-21
16 Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ‘n mens ‘n boom aan sy vrugte kan uitken.  ‘n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse af, of vye van dissels nie.
17 ‘n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ‘n siek boom slegte vrugte.
18 ‘n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra en ‘n siek boom goeie vrugte nie.
19 Elke  boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
20 So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.”
21 “Nie almal wat ewe vroom vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie.  Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.

Van watter vrugte word hier gepraat?

GAL 5:22-23 Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie 'n wet nie.

Nou wil ek net weer ten slotte noem:

Baie mense wat Jesus Christus aangeneem het, arriveer aan die anderkant van die graf, omdat hulle vanweë die een of ander rede nie by die doopbad uitgekom het nie en is en sal in die toekoms die Hemel ingaan, omdat hulle Jesus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker maar geen mens sal die hemel ingaan as sy/hy nie vir Jesus aangeneem het as Verlosser en saligmaker nie. 

As jy weet wat dit beteken om Jesus te volg en die geleentheid het om dit te doen en dit nié doen nie, moet jy duidelik kennis neem van JOH 3:5 maar as jy vanweë die een of ander rede vanweë redes waaroor jy nie beheer het nie, soos ek jou ook voorgehou het, nie gedoop is nie, weet ons dat dit ‘n liefdevolle God is wat ons omstandighede ken, wat ons inwag aan die anderkant van die graf.

Groete,
Sakkie