GEDAGTES OOR DIE HUWELIK

GEDAGTES OOR DIE HUWELIK

Sakkie Parsons

Ek het eendag na iets wat my vrou vir my gestuur het, so ‘n bietjie oor die huwelik gesit en dink en ek stuur nou vir jou, wat in my gedagtes opgekom het.
Ons Here het die huwelik ingestel, om die waarheid te sê, Hy het self die eerste een gereël.

GEN 2:21  Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak.
GEN 2:22  En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou…

Toe, toe Hy als klaar gedoen het, stel Hy die twee aan mekaar voor.

GEN 2:22-24 
22  En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens.
23  Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.
24  Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.

Terloops
Dit sommer so in die verbygaan.
Selfs al span ek my eie verbeelding tot die uiterste toe in, is dit vir my persoonlik nog steeds onmoontlik om iets van sommige soort huwelike, wat vandag toegelaat word, in ons Here se instelling van die huwelik te sien.

Net so een ietsie oor die vrou in die huwelik, anders gaan hierdie skrywe heeltemal te
lank raak.
Wanneer die Woord met die getroude vrou oor die huwelik praat, kan ‘n mens dit wat ons Here vir die vrou sê, in kort met die volgende gedeelte opsom:

EFE 5:22  Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.

Wat vir my persoonlik uitstaan in die bo genoemde gedeelte uit ons Here se Woord, is die volgende:

EFE 5:22 … soos aan die Here.

‘n Man mag nooit van sy vrou iets verwag wat ons Here nie van haar sou verwag nie.
Ek het byvoorbeeld nog nooit vir my vrou gevra om namens my te lieg om my uit ‘n probleem situasie uit te kry nie en omdat sy aan my onderdanig is soos aan die Here, dink ek ook nie sy sou dit doen as ek haar so iets sou vra nie, want ons Here sal nie van haar verwag om te lieg nie.
Die man is ook na my mening nie die hoof van die huis omdat hy ‘n beter spesie van die mens in ons Here se oë is nie, maar ter wille van orde – en met dit bedoel ek dat iemand die leiding moet neem in die gesin.  Anders sal dit ‘n geval wees van:
“To many chiefs and not enough Indians.”
Dit is ook vir my interessant, dat ons Here net een keer wat ek van weet, vir die vrou daaraan herinner dat sy haar man moet liefhê:

TIT 2:4  sodat hulle die jong vroue kan leer om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te hê,

Terwyl, wanneer ons Here met die man in Sy Woord oor die huwelik praat, Hy gedurig deur die man daaraan herinner om sy vrou lief te hê.
Om die waarheid te sê, en baie Christen mans sien nie die volgende in die Woord raak nie:
Ons Here voel so sterk oor die feit, dat die man sy vrou moet liefhê, dat Hy nie na ‘n man se gebed sal luister, wat sy eie vrou nié liefhet nie:

1PET 3:7  Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie. …

Die liefde wat ons Here verwag ‘n man vir sy vrou moet hê, is verseker nie ‘n oppervlakkige liefde nie.
Hierdie liefde wat ek vir my vrou moet hê, word onder andere so vir ons verduidelik in die Woord:

EFE 5:25  Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.

Ek moet, om dit so te stel, my vrou liewer hê as my lewe en as dit nie so is nie, moet ek daaraan werk, sodat ek in my huwelik kan bereik wat my Here van my verwag.

Groete,
Sakkie