GEEN VLOEK KAN OP ‘N KIND VAN ONS HERE RUS NIE

GEEN VLOEK KAN OP ‘N KIND VAN ONS HERE RUS NIE

“Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” 1JOH 4:4

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende:

“ … kan u asb vir my meer vertel oor die Skrif wat praat van dat God mense sal vervloek tot in die derde en vierde geslag?”

Ek moet dan begin om eers iets reg te stel. So ver ek weet is daar nie een gedeelte in die Woord waar ons lees dat ons Here mense vervloek tot in die derde en vierde geslag nie.

Daar is wel, as ek dit nou reg het, 4 gedeeltes waar ons Here sê dat Hy sal straf tot in die derde en vierde geslag en daar is darem ‘n baie groot verskil, tussen straf en vervloek.
Ek kwoteer die bekendste voorbeeld en dan kwoteer ek uit daardie, vir my persoonlik, die beste vertaling van die Bybel in Afrikaans, naamlik die NLV:

EKS 20:5 "Jy mag nie voor hulle kniel om hulle te aanbid nie.  Ek, die HERE jou God, is jou enigste God.  Ek laat die oortredings van dié wat My haat nie
ongestraf verbygaan nie.  Ek straf die derde en die vierde geslag daarna vir die sondes”

Verseker is daar nie ‘n gedeelte wat sê of selfs, na my mening suggereer, dat ons Here iemand sal vervloek tot in die derde en vierde geslag nie.

Ek sien dit so:
As ons Here iemand sou straf het die persoon ‘n probleem maar hy kan die probleem oorkom, deur in werklike berou ons Here om verskoning te vra vir sy vergryp, maar as ons Here jou sou vervloek, het jy, soos ek dit sien, letterlik ‘n helse probleem, want dan is, om dit so te stel, die hel jou voorland.

Ek dink egter so met die res van die skrywe van hierdie persoon in my agterkop, dat die persoon eintlik wonder of daar ‘n familie vloek op ‘n kind van ons Here kan rus.

Kom ek sê net gou iets oor die sogenaamde familie vloeke. Anders gestel, kom ek gee ‘n voorbeeld van een manier van hoe jyself byvoorbeeld, ‘n familievloek oor jou familie en nageslag kan bring:

As ek byvoorbeeld mense van ‘n ander kleur of taal haat en dit uitlewe, het ek, om dit so te stel, daardie haat vloek oor myself gebring en omdat my kinders my as hulle rolmodel het, is die kanse baie goed dat hulle ook met dieselfde haat vloek oor hulle koppe en in hulle harte gaan lewe en dit is maar net een van ‘n menigte vloeke wat ‘n mens oor haar/homself kan bring en oordra na haar/sy nageslag.

As iemand dalk dink, dat ek hierdie “straf, tot in die derde en vierde geslag,” wat sommige mense God se vloek noem, verkeerd verstaan en dat ons Here tog van Sy kant af mense straf tot in die derde en vierde geslag, wys ek maar net op die volgende:

DEU 24:16  “Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.”

Hieruit is dit vir myself in elk geval baie duidelik. Ons Here sal nie my kinders straf vir my sonde nie, maar ek kan, deur die manier wat ek lewe, deur my voorbeeld, of iets wat ek aan hulle doen, iets aan hulle oordra wat later soos ‘n vloek in hulle lewens sal manifesteer.

Die manier en volgens my, die enigste manier om werklik van ‘n sogenaamde familie, of enige ander vloek ontslae te raak, is om Jesus Christus aan te neem as jou Verlosser en Saligmaker. Want sien, as jy werklik vir Jesus aanneem as jou Verlosser en Saligmaker is jy ‘n nuwe skepsel. Anders gestel, jy is nou ‘n nuwe mens. Jesus, as jy Hom toelaat, neem dan al hierdie lelik, of dan vloeke as jy wil, weg.

2KOR 5:17  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”

Watter sogenaamde vloek daar ook van wie ook al kon gewees het, bestaan wat jou aanbetref, nie meer nie. Noudat jy Christus Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, sal geen vloek of wat wie dit ook al wil noem, ooit enige krag van watter aard ook al op jou hê nie omdat, wat dit ook al is, ás dit hoegenaamd iets is, moet eers by Christus verby kom en jy kan tog sien dat dit heeltemal onmoontlik is, vir solank Jesus in beheer van jou lewe is.

Want, jubel! – ons wat Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker:

GAL 2:20  “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”

Weet jy, ook nie eens dit wat jy in EKS 20:5 en op ‘n paar ander plekke in die Woord lees, kan meer op jou van toepassing wees nie, want Jesus het ook dit op Golgota, wat Sy volgelinge aanbetref, letterlik tot niet gemaak:

ROM 8:1  “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”

Om dan op te som:

Geen vloek van watter aard ookal, kan op ‘n kind van ons Here rus, of hoe jy dit ook al wil stel nie, en as satan self, of een van sy trawante – soos hierdie wat na my persoonlike mening sommer geestelike kwaksalwers is, wat so rondgaan en links en regs Jesus se volgelinge van hierdie of daardie vloek wat dan konsuis op hulle of een van hulle besittings is, wil bevry, na jou ook kom en jou wil bevry, dan bestraf jy hulle in die Naam van Jesus Christus omdat jy onthou:

1JHN 4:4  “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. “
                 

Groete,
Sakkie