GEHOORSAAMHEID AAN JESUS – DIE NUWE VERBOND

GEHOORSAAMHEID AAN JESUS – DIE NUWE VERBOND.

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Ek is op soek na woord oor die volgende onderwerp:
Wat behels absolute gehoorsaamheid aan die Woord en aan Jesus?”

Ek wil dan begin deur te sê, “absolute gehoorsaamheid aan die Woord en aan Jesus” eintlike vir my net absolute gehoorsaamheid aan Jesus is.

Ek lees aangaande die Woord:

JOH 1:1  Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.
Die Woord was by God, en die Woord was self God.

JOH 1:2  Hy was reeds in die begin by God.

JOH 1:3  Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.

JOH 1:4  In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig vir die mense.

JOH 1:14  En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

So, wanneer ek nou antwoord, antwoord ek teen daardie agtergrond.

Laat ek dan begin deur die eerste gedeelte van die vraag aan my te antwoord naamlik, hoe ek glo, wat beteken absolute gehoorsaamheid aan die Woord.

Absolute gehoorsaamheid vir my persoonlik aan die Woord beteken om alles wat in die Woord vir Jesus se volgeling geskryf is na die beste van my vermoë in my eie lewe van toepassing te maak.

Ek gaan jou nou skok deur te sê, dat daar is vandag baie min Christen teoloë wat nog absoluut gehoorsaam aan die Woord is en omdat denominasies se leerstelling deur hulle teoloë opgestel word, is daar ook baie denominasies wie nie absoluut gehoorsaam aan die Woord, of dan aan Jesus is nie.

Die geneigdheid, of is dit nou die mode van die laaste dae is om na hierdie of daardie in die Woord te wys en te sê, dat dit nie meer vandag op ons, die mens van vandag, of dan die moderne mens van toepassing is nie.

Hoe geweldig arrogant en groot in homself het die mens nie geword nie.

Want hy neem die Nuwe Testament wat deur Jesus sélf opgestel en in die Woord vir ons laat skryf is en torring en verander daaraan  wat hy wil, om dit te kry, soos hý dink, hoe ons Here dit eintlik vir vandag moes geskryf het maar daardie selfde mens sal jou nooit toelaat om aan sy eie testament te verander nie, gewoon omdat dit net ongehoord is om eens in daardie rigting te dink.

Ons Here se Nuwe Testament, is presies dit, ‘n testament maar ook ‘n nuwe verbond/ooreenkoms met die mens wat Hom aanneem as Verlosser en Saligmaker.

Daarom kon Paulus ook die voorbeeld van ‘n testament gebruik om te staaf wat hy sê toe hy geskryf het:

GAL 3:15 Broers en susters, ek gebruik nou ’n alledaagse voorbeeld. As ’n ooreenkoms, al is dit mensewerk, eers gesluit is, kan niemand dit ongeldig verklaar of iets daarby voeg (of daaruit haal) nie.

In die Ou Vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

GAL 3:15  Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs ‘n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe (of haal iets daaruit) nie.

Want die Nuwe Testament is presies dit.  ‘n Nuwe testament maar ook ‘n nuwe verbond wat Jesus Christus sélf opgestel het:

MAT 26:27-28  En Hy het die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee met die woorde: “Drink almal daaruit, 28 want dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet sodat hulle sondes vergewe kan word.

In die Ou Vertaling lees hierdie gedeelte so:

MAT 26:27  Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.
MAT 26:28  Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.

Jy kan hierdie woorde van Jesus ook gaan lees in MRK 14:24 en LUK 22:20 en Paulus herhaal hierdie woorde van Jesus in 1KOR 11:25.

Die skrywer aan die Hebreërs wys ons baie duidelik daarop dat jy en ek nou erfgenames is van dit wat in hierdie nuwe testament, wat ook ‘n nuwe verbond is, deur Jesus Christus opgestel en vir Christene van alle tye neergeskryf is.

HEB 9:15  Daarom is Hy ook die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en ons sodat almal wat geroep is, die ewige erfdeel kan ontvang wat God vir hulle beloof het. Want Christus het gesterf om hulle te verlos van die straf op die oortredings wat onder die eerste verbond (dit is die wet van Moses) begaan is.

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

HEB 9:15  En daarom is Hy Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, (dit is die wet van Moses) die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.

Kan jy nou sien, hoe geweldig dwaas arrogant dit is om sommer links en regs dit waarvan jy nie hou nie in Jesus se Nuwe Testament dood te krap en afmaak, dat dit nie meer op ons van toepassing is nie, omdat dit nou nie lekker mooi op jou en sommige mense in jou gemeente se ore sal val nie?

Of allerlei in te skryf om dit nou op ons van toepassing te maak?

So, vir my is absolute gehoorsaamheid aan die Woord om na die beste van my menslike vermoë volgens hierdie Nuwe Testament van Jesus, soos wat Hy dit vir ons opgestel het te lewe.

Nou wil ek graag met jou deel oor die tweede gedeelte in die vraag aan my naamlik, wat behels absolute gehoorsaamheid aan Jesus.

Eintlik kon ek ook gesê het, dat ek nou met jou wil deel, hoe ek hierdie nuwe verbond van ons Here met ons moet uitlewe, maar ek behandel die onderwerp soos wat die vraag aan my gestel was.

Ons lees:

MAT 16:24  Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom.

Dit beteken vir my persoonlik, dat in watter omstandighede ons Here my ook al toelaat om in hierdie lewe te lewe, dit in die eerste plek, vir my sal gaan, dat ek tot eer en verheerliking van Sy Heilige Naam sal leef en dit sluit in, dat ek absoluut niks bo Jesus in my lewe mag stel nie en waar ek in ‘n oomblik van swakheid faal, ek dadelik my sonde sal bely en daaraan werk om dit nie weer te doen nie.

Dit beteken in die tweede plek, dat ek die lewe wat Hy my gegee het na die beste van my vermoë in medemenslik liefde met my medemens, dit is elke mens met wie ek in aanraking mag kom  sal lewe.

In my reis hier op aarde terwyl ek Jesus volg, soms in moeilike omstandighede, moet ek onthou, dat Hy niks terug gehou het om dit vir my moontlik te maak om in die Hemel by hom te wees nie, nie eens Sy lewe nie:

FIL 2:6  Alhoewel Hy self God was, het Hy nie vasgeklou aan die Goddelikheid wat Hom toekom nie,
FIL 2:7  maar Hy het dit prysgegee:  Hy het ’n slaaf geword en aan mense gelyk geword.  En toe Hy as mens geleef het,
FIL 2:8  het Hy Homself nog verder verneder deur tot die dood toe gehoorsaam te wees, ja, tot die kruisdood toe!

So, wat sê ek is absolute gehoorsaamheid aan Jesus?

Iemand het eendag dieselfde vraag, net in ander woorde aan Jesus self gevra:

MAT 22:36-40 
36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”

37  Jesus se antwoord was: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’

38  Dit is die eerste en belangrikste opdrag.

39  Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

40  Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”

Om dan die vraag aan my naamlik:  “Wat behels absolute gehoorsaamheid aan die word en aan Jesus?“ saam te vat:

In my liefde vir Jesus mag ek niemand en niks bo Hom stel nie en in gehoorsaamheid moet ek na die beste van my vermoë leef volgens dit wat Hy in Sy Nuwe Testament aan my geskryf het – terwyl ek na die beste van my vermoë in medemenslik liefde met al die mense om my probeer saam lewe:

ROM 12:18  Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense.

Ek onderstreep alles wat ek in hierdie skrywe tot hier toe geskryf het met die volgende uit ons Here se kosbare Woord:

ROM 13:9  Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.”

ROM 13:10  Die liefde doen niemand kwaad aan nie. Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes.

Groete,
Sakkie