GELOOF IN DIE MESSIAS, JESUS CHRISTUS, IS ONS REDDING

GELOOF IN DIE MESSIAS, JESUS CHRISTUS, IS ONS REDDING

Skrywer:  Sakkie Parsons

Wie dan deur geloof vrygespreek word, sal lewe

Iemand skryf aan my en vra die volgende:

“Hoe het die mense in die Ou Testament in afwesigheid van Jesus, deur wie ons na die Vader gaan, Hemelstatus verkry?”

Ek wil dan begin deur ‘n stelling te maak wat sommige mense, wat nog swaar op die Mosaïese wet leun, ten minste weer op die minste, hulle wenkbroue vir my gaan lig.  Ek vertrou egter dat die Heilige Gees jou gaan lei om te sien dat ek die waarheid verkondig.
Baie mense dink dat in die ou Testamentiese tyd was die pad na die Hemel deur die Mosaïese wet, maar dit is natuurlik verkeerd.
Voor ek verduidelik hoe die mense in die Ou-Testamentiese tyd die ewige lewe kon beërwe, soos wat ek dit in die Woord vind, kom ons kyk net gou wat die Woord self oor my stelling hierbo sê en ek sal so hier en daar kommentaar lewer:
Hierdie skrywe is ook lank maar nie omdat ek so baie praat nie maar omdat die Woord so heerlik baie praat

Die Mosaïese wet kon die mense van die Ou Testament nie red nie. 
Die Mosaïese wet het deur al sy insettinge net mense bewus gemaak van sonde en só hulle attent gemaak op die sonde in hulle lewe.

ROM 3:20  Niemand sal dus op grond van wetsgehoorsaming voor God vrygespreek kan word nie.

Soos ons vandag in die geloof terug kyk na Golgota en wat Christus vir ons daar gedoen het, so het die gelowige mense van die Ou Testament aste ware in die geloof vorentoe gekyk na Golgota.
Hulle het nou nie alles, om dit so te stel, soos ons in detail gehad nie.  Hulle het egter geweet en die ware gelowiges het in geloof in afwagting geleef vir die dag dat die Messias sou kom, net soos jy en ek nou in afwagting leef, dat Jesus weer gaan kom –  maar ek kom daarby.

Vir nou eers kom ons terug na die Mosaïese wet met al sy insettinge ens:

HEB 10:1-10
Christus se offer oortref dié van die Ou Verbond
1 Die offerstelsel onder die wet van Moses is maar net ’n skadubeeld van die goeie dinge wat sou kom, nie ’n lewensgetroue weergawe daarvan nie. Die offers onder die ou stelsel is oor en oor herhaal, van jaar tot jaar, maar hulle kon dié wat hulle gebring het, nooit heeltemal reinig nie.
2 As die offers dit wel gedoen het, sou dié wat kom aanbid het, nadat hulle een maal gereinig is, geen skuldgevoelens meer oorgehou het nie en sou hulle mos opgehou het om offers te bring.
3 Maar nou gebeur net die teenoorgestelde. Hierdie jaarlikse offers herinner hulle juis jaar na jaar aan hulle sondes,
4 want die bloed van bulle en bokke (en watter deel van die mosaïese wet wat hulle ook al nougeset nagekom het) kan onmoontlik die sondes wegneem.
5 Daarom het Christus, toe Hy hierdie wêreld ingekom het, verklaar:
      “Diere- of graanoffers is nie wat U wou hê nie,
      maar die liggaam wat U vir My voorberei het.
6    U was nie tevrede met brandoffers of sonde-offers nie.
7    Toe het Ek gesê: ‘Kyk, Ek het gekom, o God,
      om u wil uit te voer – so staan dit van My in die Skrif geskryf.’”
8 Eers sê Hy: “Diere- of graanoffers of brandoffers of sonde-offers wou U nie hê nie en stel U nie tevrede nie” – alhoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word.
9 Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil uit te voer.” Hy skaf dus die eerste reëling af om dit met ’n tweede een te vervang.
10 Omdat God dit so wou hê, is ons geheilig deur Jesus se liggaam wat eens en vir altyd vir ons (dit is hoe dit werk vir alle mense van die begin af tot die einde toe, soos ek sal wys) geoffer is.

GAL 3:8-11
8 Verder het die Skrif vooruit gesien dat God nie-Jode (dit is nou jy en ek) deur geloof sou vryspreek. Daarom is die Goeie Nuus vooraf aan Abraham bekendgemaak: “Deur jou sal al die volke geseën wees.”
9 Almal wat glo, word gevolglik geseën saam met die gelowige Abraham.
10 Maar elkeen wat op die onderhouding van die wet vertrou om deur God vrygespreek te word, is vervloek. Die Skrif sê mos: “Vervloek is elkeen wat nie alles doen wat in die boek van die wet geskryf staan nie.”
11 Dit is dus duidelik dat niemand deur God vrygespreek word op grond van wetsonderhouding nie. Daar staan geskryf: “Wie deur gelóóf vrygespreek word, sal lewe.”

Voor ek nou met jou deel oor hoe die mense in die Ou-Testamentiese tyd die ewige lewe kon ontvang, kwoteer ek net veer die volgende relevante gedeeltes uit die Woord om dit net weer sterk onder jou aandag te bring, dat die Mosaïese wet met al sy insettinge aan niemand die redding en die ewige lewe kan laat ontvang nie.  Dit maak jou net bewus en herinner jou deurentyd aan jou sondige lewe, sodat jy jou leefwyse kan verander.

HEB 10:1  … Die offers onder die ou stelsel is oor en oor herhaal, van jaar tot jaar, maar hulle kon dié wat hulle gebring het, nooit heeltemal reinig nie.

GAL 3:3-5
3  … Hierdie jaarlikse offers herinner hulle juis jaar na jaar aan hulle sondes,
4 want die bloed van bulle en bokke (en watter deel van die Mosaïese wet wat hulle ook al nougeset nagekom het) kan onmoontlik die sondes wegneem.
5 Daarom het Christus, toe Hy hierdie wêreld ingekom het, verklaar: “Diere- of graanoffers is nie wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U vir My voorberei het.”

ROM 4:14  As jy dus beweer dat mense die wêreld as erfdeel sou kon verkry op grond van wetsgehoorsaamheid, het die geloof betekenisloos geword en het die belofte sy krag verloor.

Ek het gesê en toe HEB 10:10 gekwoteer, dat dit is hoe dit werk vir alle mense van die begin af tot die einde toe, soos ek sal wys.

Onthou jy?

HEB 10:10  Omdat God dit so wou hê, is ons geheilig deur Jesus se liggaam wat eens en vir altyd vir ons geoffer is. (Dit is hoe dit werk vir alle mense van die begin af tot die einde toe, soos ek sal wys).

Ek het ook gesê, dat die ware gelowige mense in die Ou-Testamentiese tyd in die geloof vorentoe na die belofte van Jesus se offer op Golgota gekyk het en so deur God geregverdig is, net soos wat ons deur die geloof vandag terug kyk na Jesus se offer op Golgota en so deur ons Here se genade deur ons geloof in Jesus Christus geregverdig word.

So, kom ek wys dit gou vir jou:
Daar heel aan die begin, kort nadat ons Here Adam en Eva geskape het, het God al die belofte van Jesus se verlossing op Golgota aan die mens gegee:

GEN 3:15  Van nou af sal jy en die vrou vyande wees. Dit geld ook vir jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop inslaan en jy sal hom (dit wys vorentoe na Jesus) noodlottig aan die hakskeen byt.”
In ‘n ouer Vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

GEN 3:15  En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.

So, reg van die begin af, kon niemand se werke hulle red nie.  Nee reg van die begin af, kon net die liefdevolle genade en geloof in God Almagtig en die Messias wat sou kom hulle red en vandag, totdat Jesus kom om ons te kom haal kan net God Almagtig se liefdevolle genade en geloof in God Almagtig en die Messias Jesus Christus wat gekom het en weer sal kom, ons red.

Géén werk wat iemand al ooit gedoen het kon en geen werk wat iemand ooit in die toekoms kan doen kan hulle red nie. 

Alles wat ooit moes gedoen word sodat iemand die Hemel kan beërwe, Het Jesus Christus op Golgota vir alle mense gedoen:

JOH 3:16-18 
16 “God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.
18  “Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.

Ek deel met jou voorbeelde uit die Ou Testament van mense wat geglo het in die Messias wat sou kom:
Ons lees van Abram:

GEN 15:6  Abram het op die Here vertrou en die Here het hom as regverdig gereken.

Sien jy?
Abram het nie die Mosaïese wet gehad nie, want Moses sou eers ongeveer 400 jaar later die Mosaïese wet van ons Here kry en hy het ook nie die een of ander groot werk gedoen nie. Hy het net God Almagtig en God Almagtig se belofte geglo:

GEN 12:3  En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.

Hierdie geloof in die Messias wat sou kom het byvoorbeeld vir Job onder uiters benarde omstandighede dit laat uitjubel:

JOB19:25  “Maar ek, ek weet dat my Verlosser leef, en dat Hy aan die einde op die aarde sal staan.”

Paulus skryf byvoorbeeld en gebruik Dawid as ‘n voorbeeld:

ROM 4:6-9
6 Koning Dawid het hiervan gepraat toe hy beskryf het hoe gelukkig die mens is wat sonder enige wetsprestasies tog deur God vrygespreek word:
7 “Gelukkig is daardie mense wie se oortredings nie gestraf word nie en wie se sondes uitgewis word.
8 Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde glad nie meer toereken nie!” (want Jesus het klaar die offer  gebring.  Nou moet ek wat in Hom glo, net in opregte berou my sonde bely en daar aan werk, om dit nie meer te doen nie)
9 Geld hierdie uitspraak net vir die Jode, of sluit dit ook die nie-Jode in?  Wel, wat dan van Abraham?  Ons het tog gesê dat hy op grond van sy geloof deur God vrygespreek is.

1JOH 1:9  As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.

Want ons weet mos, dat Jesus klaar die volmaakte offer gebring het en so het ‘n profeet van die Ou-Testamentiese tyd wat in die geloof vorentoe gekyk het aangaande sy Messias en jou en my Verlosser Jesus Christus geprofeteer:

JES 53:1-12
1  Wie het ons boodskap geglo? Aan wie het die Here sy reddende mag openbaar?
2  My dienaar het gegroei soos ’n loot wat uitspruit in die teenwoordigheid van die Here, soos ’n plant wat groei in droë grond. Hy was nie mooi of koninklik sodat hy ons sou aantrek, of met ’n voorkoms dat ons van hom sou hou nie.
3  Hy was verag en verwerp deur mense, iemand wat leed en pyn geken het. Hy was soos iemand vir wie mense die gesig wegdraai, verag en ons het hom nie geag nie.
4  Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het. Hy het ons pyn verduur. Ons het aan hom gedink as dat God hom slaan, kasty en teister.
5  Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes. Hy is gestraf sodat ons in vrede kan leef. Hy is geslaan sodat ons gesond kan word.
6  Almal van ons het weggedwaal soos ’n klomp skape. Ons het ons eie pad gevolg. En toe het die Here ons almal se skuld en sondes op hom laat neerkom.
7  Hy is geslaan en mishandel, maar hy het sy mond nie oopgemaak nie. Hy is soos ’n lam wat ter slagting gelei word.  Soos ’n skaap stil is voor sy skeerders, so het ook hý sy mond nie opgemaak nie.
8  Hy is verdruk, skuldig bevind, en weggelei na sy dood. Wie van sy mense het besef dat hy vir hulle sondes doodgemaak word?  Dat hy eintlik in húlle plek gestraf word?
9  Hy het niks verkeerds gedoen nie, en het nooit enigiemand bedrieg nie. Tog is hy soos ’n misdadiger begrawe, in ’n ryke se graf neergelê.
10 Maar dit was die Here se wil om hom te vermorsel en te laat ly. Al het die Here sy lewe ’n skuldoffer gemaak, sal hy ’n groot nageslag kry en nog lank lewe.  Die Here se plan sal as gevolg van Hom ontvou.
11 Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en tevrede wees. En deur alles wat hy beleef het,sal my regverdige dienaar dit moontlik maak vir baie om ook regverdig te word, want hy dra al hulle sondes.
12 Daarom eer Ek hom (sê die profeet, terwyl hy in die geloof vorentoe kyk na sy Messias se koms) as iemand wat groot en magtig is. Want hy was bereid om doodgemaak te word en as misdadiger beskou te word. Hy het die sondes van baie gedra, en vir sondaars gebid.

God is onveranderlik en so is ook die mens se redding tot die saligheid ook nog altyd onveranderlik.

Net deur God se liefdevolle genade en deur geloof in die Messias, Jesus Christus:

HAN 4:12 “Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om verlos te word nie.”

FIL 2:9-11
9 Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam.
10  Só sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig,
11  en elke tong sal bely:  “Jesus Christus is Here!”  En só sal God die Vader verheerlik word!

Groete,
Sakkie