IS GOD DAN ONREGVERDIG? DIE SIRKEL OM DIE KRUIS

IS GOD DAN ONREGVERDIG?

Die Sirkel om die Kruis

Sakkie Parsons

Na aanleiding van ‘n gesprek wat ek met iemand gehad het, oor of dit dan nie onregverdig van God is, om iemand wat byvoorbeeld op sy sterfbed tot bekering kom, ook totaal te vergewe en te red net soos daardie persoon wat sy hele lewe swaar vir God gewerk het.

Dit het vir die persoon so verkeerd gelyk, dat die twee persone, jy kan maar sê, dieselfde voordele kry.

In die verband wil ek graag iets met jou deel:

Ek het in 1973 tot bekering gekom en van toe af tot vandag kan ek nie van ‘n tyd in my lewe dink, buiten 1982, toe ek deur ‘n geweldige traumatiese tyd in my lewe gegaan het, wat ek nie vir ons Here gewerk het nie.
My pa weer was ‘n baie onbekeerde en genadelose mens wat vir niemand en niks ontsag gehad het nie.  Ek gaan nie eens probeer om sy lewe vir jou te beskrywe nie.  Genoeg as ek sê, hy was letterlik in en uit die tronk en ons was genadiglik taamlik vroeg in ons kinderlewe deur die welsyn van ons ouers weggeneem.

Toe, ‘n paar jaar voor sy dood, kom hy tot bekering en neem Jesus aan as sy Redder en Verlosser en ek het die eer gehad, om vir ‘n paar jaar een van die wonderlikste kinders van God te ken.

Ek sit toe eendag en ek dink so aan hom en toe kom die gedagte by my op:
Is dit nie ‘n bietjie onregverdig nie?

Daar sit hy nou lekker in die hemel en hy het net ‘n paar jaar vir ons Here gewerk en ek wat in my hele lewe nie ‘n aks van die verkeerd gedoen het wat hy gedoen het nie en by dit alles nog baie langer en meer as hy vir ons Here gewerk het, is nog steeds nie in die Hemel nie.

Nou wil ek met jou deel wat ons Here my geleer het maar lees eers hier hoe Jesus dit verduidelik:

MAT 20:1-15 
1 “Die koningsheerskappy van God is soos die eienaar van ‘n landgoed wat vroegdag uitgegaan het om loonarbeiders vir sy wingerd te huur.
2  Hy het met hulle op die gebruiklike daaglikse vergoeding ooreengekom en hulle toe gestuur om in sy wingerd te gaan werk.
3  Teen nege-uur gaan hy toe weer uit en kry ander wat op die dorpsplein rondstaan en niks doen nie.
4  Hy huur hulle toe ook en sê vir hulle:  ‘Ek sal julle aan die einde van die dag billik vergoed.’
5  Hulle het toe gegaan.  Teen twaalfuur en weer teen drie-uur die middag het hy dieselfde oefening herhaal.
6  Teen vyfuur die middag kry hy in die dorp nog ander wat rondstaan.  Hy vra hulle toe:  ‘Waarom staan julle die hele dag so rond en niksdoen?’
7  Hulle antwoord hom:  ‘Omdat niemand ons wou huur nie.’ Hy sê vir hulle:  ‘Gaan werk saam met die ander in my wingerd.’
8  Teen die aand het hy aan sy voorman opdrag gegee om die werkers te roep en hulle loon aan hulle uit te betaal.  ‘Begin by die laastes en eindig by die eerstes,’ het hy vir hom gesê. 
9  Dié wat teen vyfuur die middag gehuur is, kom toe en kry ‘n voldag se betaling.
10  Dié wat vroeër gehuur is, kom toe met die gedagte dat hulle meer sal kry, maar hulle kry toe ook maar die gewone dagloon.
11  Toe hulle hulle betaling kry, het hulle teenoor die eienaar geprotesteer
12  en gesê:  ‘Hierdie laatkommers het net ‘n uur gewerk en jy behandel hulle dieselfde as ons wat die ganse dag in die warm son moes swoeg.’
13  Hy reageer toe teenoor een van hulle:  ‘My vriend, ek behandel jou nie onbillik nie.  Het ek dan nie met jou vir die gewone dagloon afgespreek nie?
14  Neem dit en gaan.  Ek het dit goedgevind om vir die een wat laaste begin het, dieselfde te gee as vir jou.
15  Is dit dan teen die wet om met my geld te maak soos ek goeddink?  Of voel jy bitter omdat ek so gaaf (goed) is?’

Ons as mense wil altyd ‘n ding jy kan maar sê in volgorde doen.  So iets soos:
“First come, first serve.”

Die Engelse het ‘n verhaal wat hulle vertel van “King Arthur and his knights.”
In hierdie verhaal, as ek dit nou reg het, wil die koning nie een ridder voortrek bo die ander nie maar as hulle by ‘n tafel gaan sit, sit van die ridders naby hom en ander ver van hom af.  Om die probleem uit te skakel het hy van die lang tafel ontslae geraak en ‘n ronde tafel ingebring.

So is dit ook in God se koninkryk.
Niemand is vêr van die kruis af nie.  Ons is almal, jy kan maar sê, in ‘n kring om die kruis.

So gebeur dit dan nou dat die wat eerste is ook eintlik laaste is, want waar is dan nou die begin van die sirkel om die kruis?  So is dan ook die wat laaste gewees het , ook nou eerste, want waar is die begin van die sirkel om die kruis.

Omdat God, God is, is al Sy reddende liefde tot jou beskikking, maar ook is al Sy
reddende liefde tot my beskikking en so is ook al Sy reddende liefde tot die beskikking vir die persoon wat op sy sterfbed tot bekering kom.

Miskien is daar iemand wat dink dat ek dit darem nou te ver neem, lees dan gou hier:

LUK 23:39-43 
39  Een van die misdadigers wat daar gehang is, het Jesus aanhou beledig deur te sê:  “Is jy dan nie die Messias nie?  Red jouself en ook vir ons!”
40  Die ander een het hom egter bestraf en gesê:  “Het jy óók nie respek vir God nie,      alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan!
41  Ons het dit terdeë verdien, want ons ontvang straf vir die dinge wat ons gedoen het.  Hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”
42  Hy het verder gesê:  “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.”
43  Jesus se antwoord was:  “Ek verseker jou, jy sal vandag nog saam met My in die paradys wees.”

Jy kan sê as jy wil, dat hierdie man op sy sterfbed gewees het, of as jy dan wil, aan sy
sterfbed gehang het en Jesus sê vir hom:

LUK 23:43  Jesus se antwoord was:  “Ek verseker jou, jy sal vandag nog saam met My in die paradys wees.”

Onthou ook toe Jesus dit vir hom sê, toe staan Johannes die geliefde apostel ook daar in die sirkel om die kruis, maar Jesus sê nie vir hom, dat hy vandag saam met Jesus in die paradys sal wees nie, want Johannes se taak was nog nie klaar hier op aarde nie.
Nee, vir Johannes die geliefde apostel sê Jesus, al was hy baie lief vir Johannes – dat Hy
nog eers na Maria, die moeder van Jesus moet omsien.

JHN 19:25-27 
25 En by die kruis van Jesus het gestaan sy moeder en sy moeder se suster, Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdaléna.
26  En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun!
27  Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Dit is Jesus wat die prys vir ons redding betaal het en Hy het die volle prys vir elkeen betaal.

Dus – dit maak nie saak of jy net ‘n bietjie sleg is en of jy soos my pa baie sleg was nie.  Dit maak ook nie saak of jy vir ‘n kort tyd die satan gevolg het nie en of jy dit nou al vir ‘n lang tyd doen nie, Jesus het die volle prys vir jou en my en my pa en die man aan die kruis betaal.

Dit maak ook nie saak of jy ‘n lang lewe van ongeregtigheid agter die rug het en of jy
nog ‘n tiener is nie.

Dit maak nie saak of jou lewe nog voorlê en of jy aste ware op jou sterfbed lê nie.

Jesus sê vir elke mens wat wil luister:

OPG 3:20-22 
20  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.  As jy My stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet.”
21  Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op Sy troon sit.
22  Elkeen wat gewillig is om te luister, moet hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”

Verder sê ons Here ook:

JHN 1:12  Aan almal wat Hom (Jesus Christus) egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Die ou Vertaling stel dit so:

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

Indien jy wat nou hier lees dalk nog nie deel van die kring van Christene is nie, neem nou met ‘n opregte en dankbare hart vir Jesus Christus aan as jou HERE en jou Redder en hoe wonderlik – word so deel van die sirkel om die kruis, waar ek nie eerste is nie en jy ook nie laaste kan wees nie.

Groete,
Sakkie