GOD EIS REKENSKAP VAN ELKE ONVERSKILLIGE WOORD

GOD EIS REKENSKAP VAN ELKE ONVERSKILLIGE WOORD

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my ‘n brief waarin sy haar bekommernis uitspreek oor sekere dinge wat in haar denominasie deur byvoorbeeld een van die mense in een van die selgroepe verkondig word, naamlik dat die vrug wat Adam en Eva in die paradys geëet het, nie ‘n ware vrug was nie, maar dat dit simbolies is en sy wou toe my opinie hê.

Hier dan is hoe ek na hierdie probleem kyk:

Eers, sodat jy sal verstaan hoekom ek redeneer soos wat ek redeneer net die volgende:
Wanneer ek die Woord lees, probeer ek nie om dit so te stel, my slim hou, om hierdie of daardie in die Woord te lees wat daar glad nie geskryf staan nie. Ek lees die Woord soos Jesus wil dat ek die Woord moet lees.

MAT 11:25 „Toe het Jesus hierdie gebed gebid:  “Vader, Here van die hemel en die aarde, Ek sê vir U dankie dat U die insig in hierdie dinge van die danige slimmes en intelligentes weerhou het en dit oopgemaak het vir hulle wat soos kinders geword het.
MAT 11:26 Ja, Vader, want U verkies hierdie manier van doen!“

Dan kom Jesus, net ingeval iemand weer iets in Sy woorde wil lees wat Hy nié gesê of bedoel het nie, of die een of ander simboliek of wat ook al aan Sy woorde wil toedig wat van satan af kom en wat daarom natuurlik nie daar behoort te wees nie, so glo ek, ook soos in die vraag wat aan my gestuur is, en Hy vertel ons presies wat Hy met Sy woorde hierbo bedoel het:

MAT 18:2  „Jesus roep toe ‘n klein kindjie nader en laat dié tussen hulle staan.
MAT 18:3 Toe sê Hy:  “As julle nie wegdraai van julle sondige lewe en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie.“

Asook:

MRK 10:15  „Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.“

Nou dat jy weet hoe ek die Woord lees, kom ons kyk na die vrug wat Adam en Eva in die paradys geëet het:

Daar is baie ander onderwerpe waaroor ‘n mens kan redeneer rondom hierdie spesifieke vrug, maar ek bepaal my in my antwoord net by die vraag wat aan my gestel is naamlik of dit ‘n simboliese vrug was en of dit ‘n fisiese vrug was wat aan ‘n boom gegroei het.

Die eerste feit wat ek jou kan meedeel is dat daar op grond van wat hier geskryf staan, niks, absoluut niks na my mening in ons Here se Woord is wat jy eerlik kan gebruik om te sê dat die vrug ‘n simboliese vrug was nie.

Alles wat ek in die Woord lees, sê vir my dat daar ‘n fisiese boom, met fisiese vrugte gewees het.

GEN 2:9  „En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.“

Sien jy? Daar het, so lees ons :

GEN 2:9  „… allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; …“

Onder hierdie bome wat: “begeerlik was om te sien en goed om van te eet” en wat uit die grond voort gespruit het, was ook:

GEN 2:9  „… ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.“

Ek lees in die Woord wat Jesus vir ons gegee het waar Hy vir ons vertel dat ons Sy koninkryk soos ‘n kindjie moet ontvang, van bome wat uit die grond voortgespruit het. Ek lees van mooi vrugte aan hierdie boom, en ek lees dat die vrou fisies die vrug gepluk en geëet het, en toe van die heerlike vrug ook aan haar man gegee het wat ook geëet het“

GEN 3:6  „Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; (Want dit is mos wat die slang gesê het sal gebeur) en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.“

Ja, ek lees al hierdie feite in die Woord en ek sien dat daar nêrens iets is wat amper vir my sê dat dit ‘n simboliese vrug gewees het nie. Ek soek en ek kry nie eens iéts wat ek dalk eerlik kan gebruik om te sê, hier is die bewys, dat dit dalk ‘n simboliese vrug en nie ‘n fisiese vrug wat jy in jou hand kon neem, gewees het nie. Dan onthou ek ook weer hoe ek die Woord moet lees en in my hart ontvang. Onthou jy?

MRK 10:15  “Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

Dit het ook in elk geval nie gegaan oor wátse soort vrug dit gewees het nie.
Ons Here kon enige iets anders hier gebruik het, maar Hy het op ‘n vrug besluit want dit gaan hier om gehoorsaamheid en die keuse om tussen gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid teenoor ons Here te kies.

So, volgens wat Jesus wil dat ek die Woord lees en hoe ek dit dan ook doen, was dit ‘n ‘n kwessie van gehoorsaamheid, of ongehoorsaamheid om ‘n heerlike vrug wat jy van ‘n boom af kon pluk en in jou hand na jou mond bring en eet.

So met die tong in die kies – Ekself dink darem nie dat dit ‘n suurlemoenboom gewees het nie.

Nou wil ek net gou met jou deel oor hierdie mense, wat so los en vas met simboliek in die Woord omgaan.

Ek sê natuurlik nie vir een oomblik dat daar nie simboliek in die Woord is nie, ek gaan self in hierdie skrywe van simboliek in die Woord gebruik maak, maar as jy nie probeer slim wees en die Heilige Gees toelaat om jou te lei, sal jy ten opsigte van simboliek in die Woord weet, wanneer dit simboliek is en wanneer nie.

Ek gee ‘n voorbeeld om te wys hoe gevaarlik en boos dit kan wees wanneer jy simboliek wil sien waar daar nie simboliek is nie. Nie altyd nie, maar gewoonlik, dit is in elk geval my ondervinding, wil die mense wat die vrug in die paradys ‘n simboliese vrug wil maak, ook vir Adam en Eva simboliese mense maak. Sê nou dit was tog waar dat alles in en om die skrywe van die paradys eintlik simbolies is en geestelik verstaan moet word, ook Adam en Eva natuurlik. Ek lees in die Woord:

1KOR 15:45  „So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.“

As ek nou van my groot held Paulus se skryfstyl gebruik mag maak. Wat sal ons dan van al hierdie dinge sê? Is die tweede Adam nou dan ook net simboliek?

As dit, wat ons van die eerste Adam en alles rondom hom lees, net simboliek was, dan sou die kruisiging, sterwe, ter helle neergedaal, opstanding uit die dood , Hemelvaart en sit aan die regterhand van God die Vader, ook alles net simbolies wees, want, die tweede Adam is dan mos net soos die eerste Adam ook net ‘n simboliese figuur.

Mag ons Here in Sy groot genade my help, dat ek nooit eens amper in daardie rigting glo nie.  Hoe heerlik om soos ‘n kind te lees:

MRK 16:19  „Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God.“

ROM 8:34  “Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.

ROM 14:11  Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.
ROM 14:12  So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.”

Wie is hierdie God voor wie elke knie sal buig, en voor wie elke tong sal bely dat Hy God is?  Wat die bokke,  (ware simboliek van een tipe mense) gaan veroordeel en die skape (simboliek van die ware Christene), gaan beoordeel?

FIL 2:9  „Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n Naam gegee wat bo elke naam is,
FIL 2:10  sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
FIL 2:11  en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.”

So, vir diegene waaronder daar ’n geweldige klomp groot teoloë is wat los en vas simboliseer; en diegene wat los en vas hierdie en daardie uit die Woord haal omdat dit kwansuis nie meer vandag op ons van toepassing is nie; en diegene wat met allerlei nuwe openbaringe kom wat nie deur die Woord gestaaf word nie; en diegene wat met dinge te voorskyn kom wat die Woord, met ander woorde, wat God self tot ‘n leuenaar uitmaak, soos dat daar nie ‘n maagdelike geboorte was nie en al die ander drek wat daarmee saamgaan, ook hulle moet kennis neem van die volgende wat ons Here in Sy Woord vir ons laat skryf het:

MAT 12:35  „‘n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ‘n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn.
MAT 12:36 Dit verseker Ek julle, julle sal op die oordeelsdag rekenskap moet gee van elke onverskillige word wat julle sê.
MAT 12:37 Op grond van wat jy nou sê, sal jy eendag vrygespreek of veroordeel word.”

Vir elke ware Christen/volgeling/dissipel van Jesus wil ek weer die volgende uit die Woord sterk onder jou aandag bring:

MAT 7:15 “Pas op vir die vals profete.  Op die oog af lyk hulle soos onskuldige lammertjies maar in werklikheid is hulle gulsige wolwe.“

Ons Here waarsku:

2 PET 2:2-3
Wees gereed vir die vals leraars met hulle eie agendas
1 Maar daar was ook vals profete onder die volk Israel, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom.  Hulle sal dwaalleer oor God insmokkel, en selfs draai teen hulle Eienaar wat hulle gekoop het.  Hulle hoop om met hulle dwaalleer alles te vernietig, maar só bring hulle ‘n skielike vernietiging oor hulleself.
2 Baie mense sal agter hulle aanloop op hulle wilde paaie, en hulle sal veroorsaak dat mense sleg praat van die enigste ware Pad.
3 In hulle gejaag na rykdom sal hulle julle uitbuit met stories wat hulle uit die duim suig.  Maar hulle vonnis, waarop God lankal besluit het, wag om uitgevoer te word.  Ja, hulle vernietiging wag.

Ek het ‘n 'Gedagte uit die Woord' geskryf wat aansluit by hierdie skrywe en ek stuur dit graag op aanvraag aan jou of jy kan dit op die Webtuiste onder Epos-bediening lees.

Die skrywe se naam is:
“Die dwaasheid van die evangelie van die kruis vir sommige.”

Asook:

"Hulle sal optree asof hulle godsdienstig is"

Groete,
Sakkie