GOD IS GEES – LUISTER NA SY BELOFTE VANDAG

GOD IS GEES – LUISTER NA SY BELOFTE VANDAG

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en my gevra of God ‘n siel het.

Nou moet ek dadelik sê voor ek jou antwoord, dat daar mense sal wees wat nie met my saam stem nie maar ek deel met jou hoe ek die Woord in hierdie verband verstaan en onthou, dat ek net ‘n paar voorbeelde van hoe ek glo plaas om my siening te ondersteun maar ek kon natuurlik baie ander voorbeelde ook gegee het.  Ek wil egter nie hê dat die skrywe darem te lank is nie.

Vir my is dit duidelik dat God Gees is, omdat Hy in Sy Woord so sê:

JOH 4:24 God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid aanbid.”

Jesus is ook Gees, want Hyself sê:

JOH 10:29  My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie.
JOH 10:30  Ek en die Vader is één.”

Dan weet ons, dat Jesus wat een met die Vader is , om dit so te stel,  in die persoon van die Heilige Gees in ons woon:

2TIM 1:13-14
13 Hou vas aan die maatstaf van regte lering wat jy van my geleer het. En onthou in die geloof en liefde wat jy in Christus Jesus het, te lewe.

14 Bewaar met die hulp van die Heilige Gees wat in ons woon, die kosbare skat wat aan jou toevertrou is.

So, in jou woon God wie Gees is, in die persoon van Jesus Christus, wie ook die Heilige Gees is wat in jou, maar ook in my woon.

Daarom kan ons saam met my groot held Paulus getuig:

GAL 2:20  Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.

Lees net wat het Sy “die prys vir ons betaal,” alles behels:

JES 53:2-10 Die HERE se dienaar sal ly
2  My dienaar het gegroei soos ’n loot wat uitspruit in die teenwoordigheid van die Here, soos ’n plant wat groei in droë grond.
Hy was nie mooi of koninklik sodat hy ons sou aantrek, of met ’n voorkoms dat ons van hom sou hou nie.
3  Hy was verag en verwerp deur mense, iemand wat leed en pyn geken het soos iemand vir wie mense die gesig wegdraai, ‘n man van smart en bekend met hartseer.
Hy was verag, maar ons het nie omgegee nie.
4  Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het.
Hy het swaar gedra aan ons pyn.
Ons het al die tyd gedink hy ly omdat God hom straf.
5  Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes.
Hy is gestraf sodat ons in vrede kon leef.
Hy is geslaan sodat ons gesond kon word.
6  Almal van ons het weggedwaal soos ’n klomp skape.
Ons het God se paaie verlaat om ons eie te volg.
En toe het die HERE ons almal se skuld en sondes op hom laat neerkom.
7  Hy is geslaan en mishandel, maar hy het sy mond nie oopgemaak nie.
Hy is soos ’n lam wat ter slagting gelei word.
Soos ’n skaap stil is voor sy skeerders, so het ook hý sy mond nie oopgemaak nie.
8  Hy is verdruk, skuldig bevind, en weggelei na sy dood.
Wie van sy mense het besef dat hy vir hulle sondes doodgemaak word?
Dat hy eintlik in húlle plek gestraf word?
9  Hy het niks verkeerds gedoen nie, en het nooit enigiemand bedrieg nie.
Tog is hy soos ’n misdadiger begrawe, by sondaars in ‘n ryke se graf neergelê.
10 Maar dit was die Here se wil om hom te vermorsel en te laat ly. Al het die HERE sy lewe ‘n skuldoffer gemaak sal hy ‘n groot nageslag kry en nog lank lewe.  Die wil van die HERE sal in sy hand voorspoedig wees.
11 Na sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en tevrede wees.
      En deur alles wat hy beleef het, sal my regverdige dienaar dit oontlik maak vir baie om ook regverdig te word, want hy dra al hulle sondes.
12 Daarom eer Ek hom as iemand wat groot en magtig is. 
      Want hy was bereid om doodgemaak te word en as misdadiger beskou te word.
      Hy het die sondes van baie gedra, en vir sondaars gebid.

Hierdie Jesus wat hierdie verskriklike onmenslike behandeling deurgemaak het, sodat jy en ek die liefdevolle genade kan ontvang om die ewige lewe, as ons uit hierdie lewe die hiernamaals intree, vir ewig by Hom te mag wees.

Ja hierdie Jesus, wat al daardie verskriklikhede wat jy gelees het deurgegaan het, ja tot die dood ook oorwin het – deur op die derde dag na Sy kruisiging op te staan en uit die graf te stap.

Wel hierdie selfde Jesus het vir ons laat skryf en jy lees weer vandag persoonlik Sy eie Woorde aan jou – en terwyl jy hier lees, kyk jy moedeloos, ja dalk in wanhoop na jou eie lewe en omstandighede en die chaos en gemors in die wêreld om jou.  Onthou dan net wat Hy, wie se woorde jy nou gaan lees, vir jou redding verduur het en toe uit die dood opgestaan het en so ook die dood doodgemaak het, sodat jy en ek vir ewig mag lewe.

MAT 11:28-30 
28 “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik.
29  Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry.
30  Want my juk sal saggies op julle skouers rus en my las is lig om te dra.”

Luister net wat Hy, wie God is, en nie kan lieg nie vir jou sê, as jy Hom vandag glo en dit doen:

JOH 10:27-30
27  “My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My. 
28  Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand steel nie.
29  My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie.
30  Ek en die Vader is Een.”

Groete,
Sakkie