GOD HET DIE MENS GESKAPE NA SY BEELD

GOD HET DIE MENS GESKAPE NA SY BEELD

Sakkie Parsons

Ek was weer vir die soveelste keer, om dit sag uit te druk, die kop gewas omdat ek in ‘n skrywe onder andere daarop gewys het dat volgens wat ek in die Woord lees, Christene van verskillende kleure en of volke nie verhoed word om met mekaar te trou nie.
Want ons Here kyk en hy sien net mense se siele.
Hy maak nie onderskeid tussen verskillende velkleure as dit kom by wie deel van Sy heilige volk mag wees nie.
Na alles is my liggaam in elk geval tog maar net ‘n tentwoning wat ek hier op aarde gebruik op my pad Hemel toe.

2KOR 5:1  Ons weet dat wanneer ons aardse verblyf, wat net ’n tentwoning is, afgebreek word, ons ’n permanente blyplek by God het, ’n huis wat nie met hande gebou is nie, maar wat vir altyd in die hemel bestaan.
2KOR 5:2  In hierdie tentwoning swoeg en kreun ons, want ons verlang daarna om ons hemelse woning te betrek.

Hier dan my antwoord aan die persoon met ‘n paar veranderinge wat ek gemaak het en dan gesels ek verder met jou:

Toe ons Here die mens geskape het, het Hy net één menseras geskape.
Omtrent alles wat daarna verander en of verkeerd gegaan het, het gebeur omdat die mens verkies het om na satan te luister.  Soos die peste en die plae die gebreke, en misvorming en ja, ook die velkleur.
Terloops, niemand kan vandag bewys en sê Adam en Eva was hierdie of daardie kleur nie.
Gelukkig maak dit ook nie saak nie, want toe en hoe heerlik, net oor die 2,000 jaar gelede, het die volheid van die tyd aangebreek.

GAL 4:4  Maar toe, op die regte tyd, het God sy Seun gestuur. …

Dan skryf jy onder andere as volg:
“Geloof op sigself het niks met ras te doen of met God se Skepping nie. Hy het ook nie aan die kruis gesterf oor ras nie, nee;  dit was oor geloof 'n geveg tussen duisternis en lig wat reeds voor die grondlegging van hierdie aarde begin het.  Ons kan nie verskillende goed bymekaar gooi om ons eie antwoord te kry nie nee dit is nie reg nie en ek se dit met liefde.”

Dit klink amper na ‘n baie mooi redenasie maar weet jy – Geloof beteken niks as daar nie ‘n menseras is, waarin daar mense is wat die geloof hulle eie maak nie.

Ek lees nie in die Woord dat ons Here geloof liefgehad het toe Hy Golgota toe gestap het nie.  Ek lees dat hy die mens, alle mense so lief gehad het, dat Hy vir ál die mense in die wêreld Golgota toe gestap het.
Ja, die mens in sy geheel en ek noem net een voorbeeld:

JOH 3:16 “God het die mensdom só liefgehad (al die mense in die wêreld, ongeag van kleur of geslag) dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, (elke mens wat in Hom glo, ongeag van kleur of geslag) nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JOH 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, (nie om die mens in die wêreld te veroordeel nie, ongeag van kleur of geslag) maar sodat die mense (die mense in die wêreld wat Hom aangeneem het, ongeag van kleur, geslag, gebrek, misvorming of watter tekortkoming ookal) deur Hom verlos (gered) kan word.

Dan –
Vir my is dit net logies dat mense wat in die oë van ons Here tot dieselfde volk behoort met mekaar mag trou en almal wat Jesus Christus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker, behoort volgens ons Here tot dieselfde volk.

1PET 2:9 Dit geld egter nie vir julle nie, want God het júlle as sy volk gekies. Julle is ’n koninkryk wat uit priesters bestaan, ’n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ’n volk wat heeltemal God s’n is. Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is. Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in sy wonderlike lig ingeroep het.
1PET 2:10 “Vroeër was julle nie ’n volk nie; nou is julle egter die volk van God.
Vroeër het God geen ontferming aan julle bewys nie; nou hét julle egter sy ontferming.”

Nie net is ons almal wat Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker volksgenote van dieselfde volk nie, ons almal wat deel is van daardie volk, is ook mede-erfgename saam met Christus.

ROM 8:16 Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees dat ons God se kinders is.
ROM 8:17 En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in sy heerlikheid.

Dit is vir my heeltemal ondenkbaar dat mense van dieselfde volk  wat saam met Jesus mede-erfgenaam is en almal in dieselfde Hemel gaan woon, nie met mekaar mag trou nie.
Weet jy wat is vir my so hartseer as dit by baie mense wat hulleself Christene noem kom?
Omdat baie mense met hierdie vooroordeel in hulle harte oor ander volke loop, net die wat nie dieselfde kleur as hulle het nie natuurlik, sal hulle gou gal braak as ‘n Christen uit een volk met ‘n Christen uit ‘n ander volk trou maar dan ook net as die een Christen nie dieselfde kleur as hulle is nie.  Hulle het nie ‘n probleem daarmee as die Christen uit die ander volk ook dieselfde kleur as hulle is nie. Maar baie min Christene sal ‘n oog knip as ‘n Christen met ‘n ongelowige trou, as die ongelowige dieselfde kleur as hulle is.

Natuurlik – as die ongelowige ‘n ander velkleur het, dan, om dit so te stel, is dit ‘n perd van ‘n heel ander kleur.  Dan en net dan, om dit so te stel, is die hel behoorlik los.
Ja, dan sal hulle daarmee ‘n probleem hê en weet jy –
Die enigste rede waarom ‘n Christen -en ek benadruk Christen – nié met iemand anders mag trou nie, is, as daardie ander persoon nie ‘n Christen is nie.  Maar die riglyn wat ons Here in hierdie verband neergelê het, is in die tye waarin ons lewe  vir die meeste Christene gewoon nie ‘n probleem nie en daarom staan die Christene wat egskeidingsgetalle aanbetref nie ‘n millimeter vir die ongelowige wêreld agteruit nie.

Dit lyk vir my dat satan dit reg kry om sommige mense so met kleur te verblind, dat hulle die eintlike boosheid waarom Christene nie met ‘n ander persoon mag trou nie, glad nie raaksien nie.

2KOR 6:14-16 
14 Moenie saamspan met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duisternis?
15 Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial? Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen ’n gelowige en ’n ongelowige?
16 Watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode? Ons is mos die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het:
“Ek sal onder hulle woon en rondbeweeg,
en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”

Jy sinspeel daarop dat ek nie goed navorsing gedoen het oor wat ek skryf nie en ek plaas dit wat jy geskryf het net so oor:
“Dis baie gevaarlik as 'n mens nie ordentlik navorsing gedoen het oor 'n saak nie en dan soms uit onkunde oor 'n sekere saak 'n raad te gee.“

Ek het net die Heilige Gees en die Woord om my te lei.  Daarom staaf ek gewoonlik álles wat ek skryf uit die Woord en dan moet mense maar self besluit wat hulle daarmee gaan maak.

Tot so ver een van die soortgelyke briewe wat aan my gerig  was.

Soms skryf mense aan my en dan sal hulle byvoorbeeld die mens met byvoorbeeld die voëltjies vergelyk en dan is die redenasie byvoorbeeld:
“Kyk na die natuur, voëltjies vermeng ook nie, elkeen bly by sy eie, al woon hulle in dieselfde boom.”

So met die tong in die kies –
As ek dan nou ook van pluimvee mag gebruik maak.
Daar is ‘n Engelse gesegde wat sê:
“What is good for the goose is good for the gander.”
Daar is ook voëls wat ander voëls opvreet.
Moet ek nou kannibalisme goed praat!
Nee!  Natuurlik nie.
Want jy sien daar is ‘n wesenlike verskil in die wyse waarop ons Here die diere geskep het en die wyse waarop ons Here die mens geskep het.
Kom ek wys jou – Lees gou hier en ek haal dit aan uit die ouer vertaling:

GEN 1:25  En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.

Het jy gesien?
Die diere was geskape “ volgens hulle soort.”
Toe het ons Here die mens geskape.

GEN 1:26  En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
GEN 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

Sien jy die verskil?
Ons Here het die mens geskape volgens Sy beeld.  Ons is nie soos die diere volgens ons soort geskape nie, ons is na die Beeld van ons Here geskape.
Met groot respek gesê.
Elke mens is, as jy wil, na God se soort geskape.

GEN 1:26  En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, …

Ons Here het die diere een manier gemaak maar met ons Sy hoogste skepping, wat na Sy Beeld geskape is, het Hy anders te werk gegaan.
Hy het, om dit so te stel, die mens, alle mense, na Sy soort geskep.

Vir hierdie mens wat God na Sy beeld geskape het, het ons Here Sy seun gestuur.  Sodat hy, die mens wat na God se Beeld geskape is, nie verlore hoef te gaan nie.
Soos ek reeds genoem het, het al die booshede, peste, plae, gebreke en ja, ook al die verskillende kleure en ander kenmerke wat eie is aan ‘n spesifieke volk  voort gespruit uit die sondeval.
Ek lees en luister so na hoe baie Christene redeneer, om hulle, wat niks anders is as  rassisme, wat eintlik deur slegte gevoelens aangevuur word, goed te praat nie en ek voel om saam met my groot held Paulus uit te roep:

ROM 6:1  Beteken dit nou dat ons in die sonde moet voortlewe sodat die genade steeds oorvloediger kan word?
ROM 6:2  Hoegenaamd nie! Ons is immers dood vir die sonde. Dis tog onmoontlik dat ons nog langer daarin kan voortlewe!

Ongelukkig omdat die mens nou maar die mens is en nie alle mense soos Jesus na mense kyk nie, moet ek ook net noem dat as ‘n Christen paartjie wat lief is vir mekaar oor die sogenaamde kleurgrens wil trou, hulle net in gedagte moet hou, dat hulle by die druk wat satan op hulle huwelik gaan plaas, ook altyd druk van die een of ander aard, van die een of ander mens sal moet hanteer en baie van hierdie mense wat druk op hulle huwelik gaan plaas vanweë die kleur kwessie, gaan baie godsdienstig wees maar ongelukkig gaan hierdie mense se optrede ook baie ver van God geinspereerde optrede wees.  Dit is maar ongelukkig omdat die mens se sondige natuur is wat dit is.

Groete,
Sakkie