GOD HET INDERDAAD ‘N KOSBARE ERFPORSIE VIR SY KINDERS

GOD HET INDERDAAD ’N KOSBARE ERFPORSIE VIR SY KINDERS.

Sakkie Parsons

Ek wil hierdie Gedagte uit die Woord begin om vir jou hierdie wonderlike belofte uit ons Here so Woord te kwoteer:

JOH 14:3 “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Dit is wanneer ek in my uitdagende daaglikse omstandighede lewe met so baie ander dinge uit die verlede dat ek kan verstaan en ervaar dít waarvan ons Here praat toe hy gesê het:

JOH 14:27 
“Ek laat vir julle vrede na;
my vrede deel Ek met julle.
Ek gee nie soos die wêreld gee nie.
Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.”

Ja, dan onthou ek met daardie groot vrede in my binneste:

Wat ookal met my hier op aarde gebeur waarvan ek uit ‘n menslike oogpunt gesien, nie van hou nie –  Dit gaan verseker tot ‘n einde kom en hoe wonderlik om dan rustig te raak omdat ek weet ons Here het vir ons laat skryf:

ROM 8:28 
En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk
vir hulle wat Hom liefhet,
Hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Selfs as ek daarvoor moet wag totdat ek die Hemelse poort binne tree.
Wat maak dit tog saak?
Wat is die kortstondigheid van hierdie lewe as jy dit vergelyk met die ewigheid wat vir ons wag!
Wat dit aanbetref onthou ek dat ons in hierdie verband lees:

ROM  8:18

Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie.

OP 21:3-5 “Ek het toe ‘n kragtige stem van die troon af hoor sê:
‘Kyk, die tentwoning van God is nou onder die mense opgeslaan. 
Hy sal by hulle bly en hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God.  Hy sal elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie. 
Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie. 
Die ou dinge het eenvoudig verbygegaan. 
Hy wat op die troon sit, het toe gesê: ’Kyk, Ek maak alle dinge nuut…”
 

1KOR 2:9  Dit is wat die Skrif bedoel met die woorde:
“Wat geen oog gesien het;
wat geen oor gehoor het;
wat in niemand se hart
opgekom het nie –
dit het God voorberei
vir hulle wat Hom liefhet.”

Dink net aan die ongelooflike wonderlike grootse onmeetlikheid van hierdie belofte!

“Wat geen oog gesien het:”
Dink nou aan die mooiste iets wat jy al gesien het. 
Of probeer jou die mooiste iets indink wat jy vir jouself kan visualiseer en jy het nog nie eens begin om náby te kom van dit wat jy in al die onmeetlike variasies vir so lank of so veel keer as wat jy wil vir ewig sal kan sien nie.

“Wat geen oor gehoor het”:
Dink nou aan die mooiste wat jy al ooit gehoor het . 
Of dink hoe mooi moet die mooiste wees wat jy kan dink jy graag sou wou hoor en jy het nog nie eens begin om náby te kom van wat jy eendag in al die onmeetlike variasies vir so lank of so veel keer as wat jy wil vir ewig sal kan hoor nie.

“Wat in niemand se hart opgekom het nie”:
Dink byvoorbeeld aan die beste en wonderlikste omstandighede in alle opsigte wat jy jouself sou wou in bevind en jy het nog nie eens begin om náby te kom van wat jy eendag in al die onmeetlike variasies vir so lank of so veel keer as wat jy wil vir ewig sal kan belewe nie.

Ek weet ek het nou weer so ‘n bietjie aangegaan maar dit is so heerlik om oor hierdie dinge te skryf en getuig en ek sluit dan af met die volgende uit ons Here se kosbare Woord:

1PET 1:3-9:
3 Alle eer aan die God en Vader van ons Here Jesus Christus, want sonder dat ons dit verdien, het Hy sy ontferming aan ons betoon deur die proses te begin wat op ons weergeboorte uitgeloop het. Nou het ons regtig hoop omdat Jesus Christus uit die dood opgestaan het.

4 God het inderdaad ’n kosbare erfporsie vir sy kinders.
Hierdie erfporsie kan nie tot niet gaan of besmet word of verwelk nie;
God hou dit veilig by Hom.

5 En God sal ook júlle deur sy krag veilig bewaar sodat julle die verlossing sál ontvang deurdat  julle op Hom vertrou.
Julle verlossing sal in die eindtyd vir almal sigbaar word.

6 Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ’n rukkie laat swaarkry.
Beproewings laat die egtheid van geloof blyk

7 Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word.
Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word; en onthou:
Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud wat vergaan.
As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word.

8 Hóm het julle lief, al het julle Hom nooit gesien nie. Al sien julle Hom nou nie, vertrou julle op Hom; julle kan die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde bring nie.

9 Julle ervaar hierdie blydskap, want julle is reeds besig om julle finale verlossing, wat die doelwit van julle geloof is, te verkry. 

Groete,
Sakkie