GOD HET JOU LIEF – NEEM DIT AAN EN LEEF DIT UIT

GOD HET JOU LIEF – NEEM DIT AAN EN LEEF DIT UIT

Sakkie Parsons

Ek sit eendag en dink aan ons Here se liefde vir ons en ek blaai op die rekenaar deur my Bybel.  Toe kom ek weer op die volgende gedagte af en ons Here lê toe die volgende op my hart wat ek nou met jou deel.

Lees net eers die gedeelte wat my genoop het om dit wat in my gedagtes op gekom het te skryf:

1JOH 4:7-10 
7 Geliefdes, laat ons mekaar aanhou liefhê, want volmaakte liefde is van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik.

8  Elkeen wat nie só liefhet nie, ken God nie persoonlik nie omdat God liefde self is.

9 Op hierdie manier het God sy volmaakte liefde aan ons bekendgemaak toe Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan ontvang.

10 Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God iefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem.

Kom ons kyk net gou weer, al gaan ons steeds net ‘n effense blik kry van wat dit beteken waar ons gelees het:

1JOH 4:10 … maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem.

Ons lees:

JES 53:3-10
3 Hy (Jesus) was verag en verwerp deur mense, iemand wat leed en pyn geken het. Hy was soos iemand vir wie mense die gesig wegdraai, verag en ons het hom nie geag nie.

4 Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het. Hy het ons pyn verduur. Ons het aan hom gedink as dat God hom slaan, kasty en teister.

5 Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes. Hy is gestraf sodat ons in vrede kan leef. Hy is geslaan sodat ons gesond kan word.

6 Almal van ons het weggedwaal soos ’n klomp skape. Ons het ons eie pad gevolg.
En toe het die Here ons almal se skuld en sondes op hom laat neerkom.

7 Hy is geslaan en mishandel, maar hy het sy mond nie oopgemaak nie.
Hy is soos ’n lam wat ter slagting gelei word.  Soos ’n skaap stil is voor sy skeerders,
so het ook hý sy mond nie oopgemaak nie.

8 Hy is verdruk, skuldig bevind, en weggelei na sy dood.
Wie van sy mense het besef dat hy vir hulle sondes doodgemaak word?
Dat hy eintlik in húlle plek gestraf word?

9 Hy het niks verkeerds gedoen nie, en het nooit enigiemand bedrieg nie.
Tog is hy soos ’n misdadiger begrawe, in ’n ryke se graf neergelê.

10 Maar dit was die Here se wil om hom te vermorsel en te laat ly. (terwille van jou en terwille van my.)

Onthou jy wat die Woord vir ons vertel, hoe het Hy, Jesus, die smart en marteling aan die kruis ervaar het?

PSALM 22:16-19 
16 My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood.
17  Want honde het my omsingel; ‘n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe.
18  Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer!
19  Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.

Toe hang Hy daar aan ‘n kruis en Hy kyk so oor Sy moordenaars en vyande en na al die mense oor al die eeue – ook na jou en my – en ons lees:

JOH 19:28-30 
28 Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”
29 ’n Kruik vol suur wyn het daar gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptak gesit en dit teen sy mond gehou.
30 Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!” Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.

Hoe lyk hierdie liefde van God almagtig wat Hy aan ons geopenbaar het deur Sy Seun Jesus Christus en wat ons Here wil, dat ons teenoor Hom en ook ons geliefdes en naasbestaandes moet openbaar en dan teenoor hulle moet uitlewe?

Kom ons kyk eers hoe het Jesus self, wie vir ons in totaliteit, soos jy dit hierbo gelees het, dit teenoor ons uitgelewe het – hoe het Hy hierdie wet so kinderlik eenvoudig vir ons uiteen gesit:
Ons lees:

MAT 22:35-40
35 Een van hulle, ’n deskundige op die wet, het Hom toe met die volgende vraag probeer vastrek:
36  “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”
37  Jesus se antwoord was: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
38  Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
39  Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
40  Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.

Later kom my groot held Paulus onder die leiding van die Heilige Gees, omdat ons Here geweet het dat daar mense gaan wees wat ons Here se groot liefde nog meer gekompliseerd wil maak, met hier iets by te voeg of daar iets weg te neem en Paulus, die man aan wie ons Here die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het, skryf:

ROM 13:8-10 
8 Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê. As jy jou naaste liefhet, vervul jy die wet.
9  Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.”
10  Die liefde doen niemand kwaad aan nie. Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes.

Hoe lyk hierdie liefde wat God Self aan ons in die vlees kom openbaar het en nou van ons verlang om dit teen ons geliefdes en naaste uit te lewe?

Paulus verduidelik en sit dit so uiteen:

1KOR 13:1-10
Hoe onontbeerlik die liefde is
1 Al sou ek enige taal op aarde of selfs in die hemel kon praat, maar ek kom die liefde kort,
het ek ’n galmende trom of ’n klinkende simbaal geword.
2 En al sou ek die gawe van profesie hê, en sou ek alle geheime kon ontrafel,
en al die kennis ter wêreld hê, en al sou ek genoeg geloof hê om berge te verskuif,
maar ek kom die liefde kort, sou ek ’n ronde nul wees.
3 En al sou ek al my besittings vir die armes gee en selfs my liggaam opoffer sodat ek my daarop kon beroem, maar ek kom die liefde kort, sou dit my niks help nie.
4 Die liefde is geduldig en vriendelik, die liefde is nie jaloers nie, die liefde blaas nie sy eie beuel nie, is nie vol van homself nie.
5 Dit tree nie onwaardig op nie, stel nie sy eie belange voorop nie, is nie kort van draad nie,
hou nie boek van die kwaad wat hom aangedoen word nie.
6 Dit treur oor die onreg wat plaasvind, en juig as die waarheid seëvier.
7 Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles.
8 Die liefde sal nooit vergaan nie. Maar profesieë sal tot niet gaan, die spreek in tale sal ophou, en kennis sal verouder raak.
9 Ons ken maar net ten dele en ons profeteer maar net ten dele.
10 Wanneer die volmaakte egter gekom het, sal al die onvolmaakte uitgedien wees.

Weet jy, ek lees tot hier en ek dink:
Ek weet nie of ek ooit in hierdie lewe heeltemal teenoor almal om my ten volle, om dit so te stel, die toets heeltemal gaan slaag nie – maar as kind van ons Here gaan ek nooit so lank ek lewe ophou om daarna te strewe nie.

Saam met my groot held Paulus sê ek vir myself en ek gebruik sy woorde wat hy by ‘n ander geleentheid gebruik het en maak dit wat hierdie skrywe aanbetref op myself en ook in liefde op jou wie hier lees (as jy dit so in jou hart op jouself van toepassing wil maak), in die konteks van hierdie skrywe van toepassing.

FIL 3:12-14
12 Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!
13  Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na
dit wat voorlê.
14  Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee
.

Lees hier, want ek wil jou iets wys wat vir baie mense ‘n verborgenheid bly wat hulle nie sien as hulle hierdie gedeelte lees nie:

1KOR 13:13  Al wat altyd sal bly, is geloof, hoop en liefde – hierdie drie.
Maar die grootste hiervan bly steeds die liefde!

Luister mooi hierna:

1KOR 13:13 Al wat altyd sal bly, is geloof (in God, maar vir God is daar iets wat ek vir Hom en my naaste kan gee, wat ons Here hoër en groter aanskryf as geloof in Hom, en ons lees:) Maar die grootste hiervan bly steeds die liefde!

Ons lees:

13 Al wat altyd sal bly, is, hoop– (in God maar vir God is daar iets wat ek vir Hom en my naaste kan gee, wat ons Here hoër en groter aanskryf as hoop in Hom, en ons lees:)
Maar die grootste hiervan bly steeds die liefde!

Lees nou weer die hele vers:

1KOR 13:13 Al wat altyd sal bly, is (as jy ‘n ware Christen se dissipelskap sal afsny tot op die been, is hierdie alles omvattende drie eienskappe soos wat jy dit hier lees) geloof (in God), hoop (op God) en liefde – (vir God – en dan ook vir my geliefdes en naaste) hierdie drie.
Maar die grootste hiervan (so ver dit ons Here aangaan) bly steeds die liefde!

Ek sluit af met Romeine 13:8 uit ‘n ouer Vertaling:

ROM 13:8  Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.

Groete,
Sakkie