GOD HET ‘N BLYMOEDIGE GEWER LIEF

GOD HET ‘N BLYMOEDIGE GEWER LIEF

Sakkie Parsons

Iemand het vir my, my opinie gevra oor tiendes en aangesien baie mense vrae het oor hierdie saak, stuur ek vir jou my sienswyse.

Ek moes mooi te werk gaan om alles wat ek wou sê, in hierdie, nou ja, taamlike groot neutedop te sit.  Glo my ek kon nog heelwat geskryf het maar ek hoop, dit wat ek wel geskryf het, sal vir iemand van hulp wees.

Ek gaan nou begin met ‘n stelling wat jou dalk gaan verstom:

Ek glo nie in tiendes nie – Ek glo wel baie, baie beslis dat ons moet gee en as ons kan, sommer baie, baie meer as ‘n tiende. 

Volgens soos ek die Woord verstaan is tiendes gee deel van die wet en ons is nie onder die wet nie.
Tiendes is deel van ‘n ooreenkoms/kontrak/gelofte tussen die Jode en God.

EXO 24:4-8 
4 Moses het alles wat die HERE vir hom gesê het, neergeskryf.  Hy het vroeg die volgende oggend opgestaan en ‘n altaar aan die voet van die berg gaan bou.  Hy het rondom die altaar twaalf klippe ingeplant.  Dit was vir die twaalf stamme van Israel.
5  Daarna het hy jong Israeliete laat kom en hulle beveel om bulle vir die HERE te offer.  Dit was brandoffers en vredeoffers vir die HERE.
6  Hy het ‘n deel van die offerdiere se bloed in houers opgevang.  Die ander helfte het hy oor die altaar gesprinkel.
7  Daarna het Moses die Boek van die Verbond gevat en vir die volk daaruit gelees.  Hulle het weer almal soos een man geantwoord:  “Ons sal alles doen wat die HERE gesê het!  Ons sal daarna luister!”
8  Moses het toe van die bloed in die houers gevat en oor die volk gesprinkel.  Hy het gesê:  “Hierdie bloed bevestig die verbond wat die HERE met julle gesluit het toe Hy hierdie woorde vir julle gesê het.”

Kyk net weer na die volgende: (So lees die 1953 Vertaling:)

EXO 24:7  En hy het die boek van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees. En hulle het gesê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en daarna luister.
EXO 24:8  Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat die HERE met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde.

Baie duidelik was dit ‘n ooreenkoms tussen God en net Israel.
Om die waarheid te sê, voordat Jesus vir jou en my gesterf het, was ek en jy verlore, omdat die wet met al sy wette, ook die oor die tiendes net vir die Jode was.  Omdat net hulle en God by daardie verbond/wet/ooreenkoms betrokke was.

EFE 2:10-16 
10 want ons is God se handewerk.  Hy het ons in ons verhouding met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.
11  Dink daarom aan die tyd toe julle wat as nie-Jode gebore is, “onbesnedenes” genoem word – al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam.
12  Dink daaraan dat julle toe sonder Christus was, nie burgers van God se volk nie, uitlanders wat nie deel gehad het aan die beloftes van die verbonde nie.  Julle was sonder toekomsverwagting en sonder God in die wêreld.

13  Maar nou het julle, wat toe ver weg was, deur julle verhouding met Christus naby gekom.  Dit is moontlik gemaak deur Christus se dood aan die kruis (Christus se bloed).
14  Christus het inderdaad vrede tussen ons gebring. (Christus is inderdaad ons vrede)  Deur sy liggaam aan die kruis te gee het Hy die twee groepe één gemaak;  ja, die muur van vyandskap het Hy afgebreek.
15  Hy het ‘n einde gemaak aan die wet met sy voorskrifte.  Hy het vrede gebring deur in Homself die twee groepe tot een nuwe mensheid te maak.
16  Ja, deur sy dood aan die kruis het Hy die vyandskap beëindig.  Só het Hy albei groepe in een liggaam met God versoen.

Lees net gou weer hier.
1953 Vertaling:

EFE 2:12  dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

Sonder God in die wêreld!
“Verlore” sonder die wet maar nou ‘n uitverkore volk.

1PET 2:9  Dit geld egter nie vir julle nie, want God het julle as sy volk gekies.  Julle is ‘n koninkryk wat uit priesters bestaan, ‘n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ‘n volk wat heeltemal God s’n is.  Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is.  Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in sy wonderlike lig ingeroep het.

1PET 2:10  “Vroeër was julle nie ‘n volk nie;  nou is julle egter die volk van God.  Vroeër het God geen onverdiende liefde (barmhartiheid) aan julle bewys nie;  nou hét julle egter sy onverdiende liefde.”

Dit lyk vir my, dat Paulus in hierdie volgende gedeelte vir die mense sê, wat ook gehoor het, dat hulle moet só en hulle moet sús want dit is in die wet:

KOL 2:13-16 
13 Julle was eintlik dood omdat julle gesondig het en omdat julle sondige geaardheid nog nie weggeneem was nie.  God het julle egter saam met Christus lewendig gemaak toe Hy julle al julle sondes vergewe het.
14  Hy het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit van ons af weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker.
15  So het Hy die hemelse en aardse magte ontwapen.  Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer.
16  Moet dus nie toelaat dat enigiemand julle veroordeel oor wat julle eet of drink, of oor hoe julle sekere feesdae of die Nuwemaanfees of Sabbatte vier nie.

Jesus sê die volgende oor die wet:

MAT 5:17  Julle moenie die rede vir my koms misverstaan nie.  Ek het nie gekom om ‘n streep deur die wet of die profete te trek nie.  Nee, Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom.

Kyk net hoe lees die wet wat Jesus vervul het:
(1953 Vertaling)

MAT 22:36-39 
36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Daar is vir die kind van God volgens my beskeie mening net twee “moets” en dit het
jy nou net gelees.
Al die ander dinge doen jy omdat jy jou Here en jou naaste lief het.

Nêrens maar nêrens in die nuwe testament word daar gepraat van ‘n tiende wat jy moet gee nie.
Daar word verseker gesê:

1KOR 16:1  Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het.
1KOR 16:2  Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.

Jy sien, jy gee soos jou voorspoed is en heerlik deur jou liefde vir jou God en jou
naaste gedwing en as jy min wil gee gaan God jou nou nie met melaats slaan nie, met ander woorde Hy gaan jou nou nie slaan omdat jy nie meer as sê nou maar ‘n 20ste wil gee nie maar jy moet onthou:

2KOR 9:5-8 
5 Ek het dit dus noodsaaklik geag om die broeders te versoek om vooruit te gaan na julle toe en julle vroeër aangekondigde dankoffer vooraf in orde te bring, sodat dit gereed kan wees as ‘n dankoffer en nie as iets wat afgepers is nie.
6  Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.
7  Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.
8  En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.

Paulus praat van ‘n dankoffer wat gehaal sal word en nie van die mense se tiendes nie.
Ons moet verseker gee.
Ons mag baie gee en as ons nie kan nie, mag ons min gee.
My liefde vir ons Here, my medemens en die werk van ons Here is al wat my, om dit so te stel,  behoort te dwing om te gee, wat ek in liefde wil gee.

Niemand mag my dwing om ‘n sogenaamde tiende te gee nie.
Ons Here doen dit verseker ook nie.
Soos ek die Woord verstaan is dit nie Bybels nie en daarom, as iemand dit deel van die Evangelie van Christus maak, verkondig die persoon ‘n bose leuen.

Tiendes is volgens wat ek in die Bybel verstaan deel van die wet en ek is nie onder die wet nie.
Ek was voor my bekering nie deel van die wet nie, en het na my bekering ook nie deel daarvan geword nie.
Ek was voor my bekering een van die “verlorenes”
Vir die wat dink dat hulle nog dele van die wet moet nakom, wil ek net op die volgende wys:

GAL 3:24-27
24 Die wet het ons soos 'n kinderopvoeder opgepas totdat Christus gekom het. Ons is opgepas
     sodat ons deur te glo God se vryspraak kon ontvang.
25 Noudat die tyd van geloof gekom het, staan ons egter nie langer onder die toesig van 'n
     kinderopvoeder nie.
26 Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo.
27 Almal wat deur die doop met Christus één geword het, se lewe word nou heeltemal deur Christus
     bepaal.

Jesus sê, wat ek en jy moet onthou en doen is:

MAT 22:36-40
36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”
37 Jesus se antwoord was:  ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
38 Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
39 Die tweede, ewe belangrike opdrag is:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40 Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoof gebooie.”

Dan kom Paulus en onderstreep wat Jesus gesê het, as hy skryf:

1KOR 13:13  “Al wat altyd sal bly, is geloof, hoop en liefde – hierdie drie. Maar die grootste hiervan bly steeds die liefde!”

Jy sien, ek moet gee soos wat ek met liefde in my hart my voorgeneem het en nie soos ek gedwing voel om te gee nie. 
Ek wonder partykeer of ons nie ter wille van die god Mammon so hamer op die gedeelte in die wet nie.
Is dit nie dalk omdat die Christene probeer om twee here te dien nie, dat dit met baie van ons Christene gaan soos wat dit met ons gaan nie?

MAT 6:24  “Niemand kan tegelyk twee base dien nie.  Hy sal óf ‘n renons in die een hê en van die ander een hou;  óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een geringskat.  Om god én die geldgod (Mammon) saam te dien, is absoluut onmoontlik.

Jy sien, ek het tot die gevolgtrekking gekom, dat baie mense dien die Here omdat
hulle bang is vir die hel en nie omdat hulle regtig lief is vir ons Here nie.

So leer ons ook ons mense, dat ons moet gee as ons wil hê dat God ons moet seën

En so gee baie mense, nie omdat hulle lief is vir God en Sy mense nie – maar sodat hulle tog nie moet verarm nie maar veel eerder in oorvloed wil lewe. 
So asof ons God se guns kan koop met dit wat Hy ons in die eerste plek gegee het.

So kry jy dit dan dat baie mense onder ‘n soort dwang ‘n presiese tiende probeer uitwerk. 
Nie soseer omdat hulle vir God lief is nie maar omdat hulle wil floreer.

Ek sê, ek en jy is deel van die Nuwe Testament en dit is presies wat dit sê, “Nuwe
ooreenkoms/verbond/gelofte/testament.”

Jesus sê: (1953 Vertaling)

MAT 26:26  En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.
MAT 26:27  Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.
      Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, (die nuwe verbond wat God met sy volk verseël) wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.

Nou werk dit vir my so:

Ons gee soos wat ons floreer en dan, as ek kan, is dit onmoontlik om van my te verwag om net ‘n tiende uit te werk. 
So as jy besluit wat jy vir God wil gee, kyk net wat jy het en dit hoef nie geld te wees nie en bespreek dit opreg met daardie liefde in jou hart vir Hom, met jou  liefdevolle Vader en jy sal weet wat jy moet gee. 

En weet jy wat?
Ons Here gaan baie lekkerder volgens die Woord, voel oor dit wat jy dan gee, as ‘n biljoenêr wat ‘n gedwonge tiende gee.

Dit geld vir jou geld, tyd en naasteliefde en wat anders jy ook al wil gee.

Daar is mense wat nie geld het om vir ons Here te gee nie maar hulle gee so baie van hulleself en dit wat hulle gee is baie waardevoller in die oë van ons Here, is die duisende wat soms deur mense sonder die regte gesindheid gegee word.

Luister hierna: 
In die wet van Moses – in die Ou testament, was dit vir Israel verpligtend onder die ou verbond om ‘n tiende te gee.

In die liefdeswet van Jesus Christus in die Nuwe Testament, is dit vir die Christen onder die Nuwe Verbond ‘n voorreg om as volg te gee:

2KOR 9:7   … soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie.

Dan, terwyl die Christen op daardie wyse gee, hoe heerlik om te onthou:

2KOR 9:7   … want God het ‘n blymoedige gewer lief.

Die volgende dagstukkies wat ek geskryf het, kan help om hierdie sienswyse van my nog beter te verduidelik en ek stuur dit op aanvraag met die grootste liefde aan jou.

• Hoe heerlik!  Jy en ek is vry 
• Die wet deur Moses en die genade en waarheid deur Jesus
• Die liefde die vervulling van die wet
• Wie volop saai, sal ook volop maai.

Groete,
Sakkie