GOD SE WOORD IS DIE WAARHEID EN DIE ANTWOORD OP ELKE VRAAG

GOD SE WOORD IS DIE WAARHEID EN DIE ANTWOORD OP ELKE VRAAG

WAT GOD BESLUIT, VOER HY UIT.

Sakkie Parsons

Ek deel met jou ‘n paar vrae wat ‘n persoon my vra en dan onderaan die antwoorde soos ek dit uit die Woord van ons Here vind:

Daar is iets waaroor ek al baie lank wonder.
Ons glo in die Drie enige God die Vader, Seun en Heilige Gees.
En ons bid tot God deur Sy seun Jesus.
Ons vertrou God vir deurbrake in geloof waaroor ons bid
.

1. My vrae is, elke ander geloof het n ander god waarin hulle glo en tot bid, en vertrou dié god om hul gebede te verhoor en as hulle deurbraak ontvang vir hul gebed, hetsy enige iets waaroor hul gebid het, was dit dan bloot eenvoudig die noodlot?

Om mee te begin.

Enige mens wat glo in toeval en of die noodlot, plaas ‘n vraagteken op God se almag en alwetendheid.

Toeval en of noodlot as jy wil, insinueer tog dat niemand – en in die geval ons Here – nie in beheer daarvan is nie, maar en ek gaan my telkens probeer bepaal by net een voorbeeld uit die Woord om te staaf wat ek sê maar ek wonder of ek dit gaan regkry.

In hierdie geval, sê Jesus onder andere by geleentheid die volgende:

MAT 5:44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;
MAT 5:45  sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. (want Hy en Hy alleen het altyd die finale sê)

Ek onthou ook, dat die God wat die hele skepping in stand hou ook vir my laat skryf het:

JES 55:8  Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.
JES 55:9  Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

Ja, ek onthou, persoonlik in my eie lewe as ek dinge self wil ontrafel en ek het nie ‘n voorbeeld in die verband uit ons Here se Woord nie:

PRE 11:5  Soos jy nie weet wat die weg van die wind is, of hoe die gebeente in die skoot van ‘n swangere is nie, net so weet jy nie die werk van God wat alles doen nie.

JES 46:9  “.. Ek is God.  Daar is geen ander nie.  Ek is God.  Niemand is soos Ek nie. 
10 Ek maak die einde bekend vanaf die begin.  Uit die verlede, dit wat nog moet gebeur.  Wat Ek besluit, voer Ek uit.  Wat Ek wil, doen Ek.”

Vervolgens vra jy:

2. Waarom verskyn God nie meer aan mense soos in die Ou testament met Abraham, Isak, Jakob en Moses nie?
Waarom praat God nie hard sodat ons Sy stem kan hoor soos in daardie tyd nie? Hoe praat God met my?

Eerstens moet ons onthou, dat ons lees in die Woord van hoe ons Here in die Ou Testament met die mense gepraat het en soms dink mense, dat dit het sommer al om die ander dag gebeur maar ons moet onthou die gebeure wat in veral die Ou Testament opgeteken is, het soms letterlik honderde jare uitmekaar gebeur.
Lees net gou hier:

GEN 15:13  Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank.

Toe gaan daar letterlik honderde jare verby voor die verdrukking in Egipte begin het en dit duur vir 400 jare maar ons lees in die Woord net ‘n paar verse vanwaar die verdrukking na honderde jare in Egipte vir 400 jaar begin het, totdat Moses op die toneel verskyn het.
Daarna lees ons in ‘n paar boeke in die Woord, honderde jare se geskiedenis van Israel en hoe ons Here met hulle gehandel het en hoe hulle teenoor ons Here opgetree het maar die voorbeelde van waar ons Here met iemand letterlik in ‘n hoorbare stem gepraat het, het soms dekades en soms honderde jare uitmekaar gebeur.

So eerstens, het daar soms baie, baie jare verloop tussen die verskillende voorbeelde waar ons Here met iemand gepraat het en ekself sal nie sê dat ons Here nie meer vandag met mense in ‘n hoorbare stem praat nie, gewoon omdat ek nie weet nie, maar Hy hoef natuurlik ook nie met ons in ‘n hoorbare stem te praat nie.

Hy het nog nooit, wat ek kan onthou, met my in ‘n hoorbare stem gepraat nie.  Want ek het nie nodig dat Hy met my in ‘n hoorbare stem praat nie.

Want en hoe wonderlik is dit nie!
Vandag het ons Sy Heilige Gees wat in ons binneste, of dan in ons harte, met ons praat.

In die verband lees ons byvoorbeeld:

JHN 7:38  Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.
JHN 7:39  En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

Ek moet natuurlik so naby Sy Woord lewe as wat dit vir my menslik moontlik is.  Want hoe nader ek lewe aan die beginsels in Sy Woord vir ons, hoe duideliker hoor ek Sy stem in my binneste.

Vervolgens vra jy:

3. Die Woord sê dat ons, ons sondes moet bely, en moet bid vir vergifnis van ons sondes.
Wat van sondes wat ek nog nie bely het nie? Of sondes waarvan ek nie eens bewus is nie, of kan onthou nie? Of sondes wat ek nog gaan doen? Plaas hierdie onbelyde sondes nie my verhouding met God in gevaar nie?

Hier gaan dit suiwer oor my gesindheid, van hoe opreg en eerlik ek oor die sondes in my lewe wat ek begaan is.
Wat ek bedoel is: Hoe eerlik is ek oor die sonde in my lewe teenoor myself en teenoor ons Here.
Want as ek werklik eerlik teenoor myself is en regtig nie die sonde wil doen nie maar sekere sondes tog weer doen en ons Here kan in my hart sien, dat ek werklik ongelukkig is oor my sonde, is dit en ek wil amper skryf, maklik maar ek skryf, heerlik bevrydend maklik, want ons Here het deur Sy kruisdood dit vir ons so heerlik bevrydend maklik gemaak.
Ek lees:

1JHN 1:9  As ons ons sondes (in alle opregtheid) bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en (wanneer Hy in ons harte sien, dat ons opreg en eerlik in ons belydenis is) ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Daarom leer ons Here ons ook in die gebed wat Hy ons geleer het om te bid en kyk net hoe eenvoudig is dit, as ons dit in alle opregtheid doen met die wete, dat ‘n mens nie vir God om die bos kan lei nie en ek kwoteer hier net die gedeelte uit die gebed wat ons Here ons geleer het, die gedeelte wat in hierdie skrywe van toepassing is.
Kyk net hoe kort maar oneindig kragtig is die woorde wat ons in die verband moet bid nie:

MAT 6:12  en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

Dan vra jy oor hulle wat gesterf het:

4. Ek moet ook die vergewe wat teenoor my gesondig het, en hul vryspreek.
Maar wat van die mense wat my vergifnis nodig het, en ek hul vergifnis nodig het, wat alreeds afgesterf het?

As jy ons Here vergifnis in alle opregtheid gevra het, moet jy ook Sy vergifnis neem en dit in jou binneste joune maak.
Jy het geen beheer oor ander mense se binneste nie en verseker ook geen beheer wat jy kan uitoefen oor iemand wat reeds gesterf het nie.  Dan is dit sinneloos en ‘n vermorsing van jou tyd en jou energie, om daaroor te loop en top maar ‘wroeg’ is ‘n beter woord.
So los dit vir ons Here en as jy werklik opreg vir ons Here vir vergifnis gevra het vir jou sonde, dan hoef en behoort jy jou nie meer oor daardie sondes te bekommer en oor dinge uit die verlede te loop en wroeg nie.

Lees hier hoe sê die Woord, dat ons na ons verlede se verkeerd van ons en teen ons moet kyk:

FIL 3:14  Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

HEB 12:1-4 
1 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
3  Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom ve
rdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.
4  Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.

Natuurlik is dit nie maklik, eintlik moet ek sê, nie moontlik vir ons as swak mense om dit uit onsself te doen nie – en ook daarvoor het ons Here in Sy kosbare Woord ‘n heerlike en ook uiteindelik die enigste antwoord:

MAT 11:28-30 
28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en (dit is ‘n goddelike gegewe) Ek sal julle rus gee.
29  Neem my juk (dit is dissipelskap en alles wat daarmee gepaard gaan van Jesus) op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;
30  want my juk is sag en my las is lig.

Groete,
Sakkie