GOD SE WOORD IS ONS SWAARD TEEN DIE VYAND

GOD SE WOORD IS ONS SWAARD TEEN DIE VYAND.

Sakkie Parsons

‘n Dame skryf aan my dat daar in die Woord van iemand uit wie se mond ‘n swaard kom gepraat word en nou wil sy teen die agtergrond van “Jesus is liefde” weet hoe ‘n mens dit moet verstaan.

Ek wil dan begin deur te sê, dat daar baie plekke in die Woord is waarvan die ongewone, byvoorbeeld diere of wesens met meer as een kop en of een of meer horings en meer as twee oë gepraat word.  Dit is egter ‘n soort beeldspraak en/of gesigte wat die een of ander versinnebeeld.

Ek gaan egter dan nou konsentreer op die voorbeeld uit die Woord van die Persoon uit wie se mond ‘n swaard gaan –
Dit is Jesus self van wie gepraat word, uit wie se mond ‘n swaard gaan.
Ek kwoteer vir jou OPB 1:16.

OPB1:16  In sy regterhand het Hy sewe sterre vasgehou en uit sy mond het ’n skerp swaard met twee snykante gekom. Sy gesig het helder geskyn soos die son in al sy felheid.

Sommer vir die interessantheid daarvan –
Die 7 sterre in Sy regterhand waarvan jy nou gelees het byvoorbeeld is die 7 herders van die 7 gemeentes aan wie Openbaring oorspronklik gerig is en die Woord verduidelik dit self so vir ons net ‘n bietjie verder in OPB 1:20:

OPB 1:20  En dit is die geheim van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het en die sewe goue kandelare:
Die sewe sterre is die sewe voorgangers van die sewe gemeentes en die sewe kandelare is die sewe gemeentes self.”

Terug by die swaard met twee snykante wat uit Jesus se mond gaan.
Hier moet ek eers net noem dat die swaard destyds een van die, om dit so te stel, magtigste wapens in ‘n soldaat se hand gewees het en meer nog so, as daardie swaard aan albei kante vlymskerp gewees het.  Daarom sien ek dat die simboliek van die swaard verskeie kere in die Woord gebruik word en ek deel met jou 3 voorbeelde:

Hier profeteer Simeon oor die baba Jesus en dan sê hy aan Maria Jesus se ma:

LUK 2:34  Toe het Simeon hulle geseën en vir Maria gesê: “Hierdie Kind is bestem tot ’n val en opstanding van baie in Israel, en ’n teken wat weerspreek sal word. Hy sal ’n teken wees waaroor mense sal verskil.
LUK 2:35  So sal die diepste gedagtes van baie harte bekend word. Maar wat jou betref – daar sal ’n swaard deur jou siel gaan.”

Vervolgings:

OPB 2:12  Skryf aan die voorganger van die gemeente in Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het:
OPB 2:16  Kom dan tot inkeer; anders kom Ek baie gou na jou toe en sal Ek teen hulle oorlog maak met die skerp swaard van mý mónd.

Asook:

HEB 4:12  Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as ’n swaard wat twee skerp kante het. Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg. Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop.
HEB 4:13  Voor God kan absoluut niks weggesteek word nie. Ons staan kaalgestroop en weerloos voor dié Een aan Wie ons verantwoording moet doen.

So –
Waarom gebruik ons Here in Sy Woord die simboliek van ‘n tweesnydende swaard wat uit Sy, dit is Jesus, se mond gaan?

Want God almagtig het nie ‘n wapen van watter aard ook al nodig nie!
Prys die Naam van ons Here!
Hy spreek maar net ‘n Woord.
Hy het dan deur net ‘n Woord te spreek die hele skepping, wat die heelal insluit  tot stand gebring.
Onthou jy:

GEN 1:3 Toe beveel God: "Laat daar lig wees!" en dit was so.

In ‘n ouer Vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

GEN 1:3  En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.

Daarom is Sy Woord onder die leiding van die Heilige Gees ook die enigste wapen wat aan ons Sy kinders/soldate gegee word waarmee ons, onsself teen die aanslae van satan kan verdedig.
Ons lees:

EFE 6:17  Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se Wóórd.

Want jy sien, geen mensgemaakte wapen het teen jou en my eintlike vyand enige uitwerking nie.  Die mense wat my te na kom is maar net die werktuie in my eintlike vyand se hand en wie is hierdie vyand?

EFE 6:12-17 
12 Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat heerskappy in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes.
13  Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan.
14 Staan dus vas deur waarheid as ’n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan.
15  Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete.
16 Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.
17  Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se wóórd.

As ek onthou wat ek nou gelees het, maak die volgende gedeelte uit die Woord ook baie goeie sin wanneer ek lees:

2KOR 10:3-5 
3 Ons leef wel in ’n menslike liggaam, maar ons voer die stryd nie met menslike middele nie.
4  Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig.  Daarmee vernietig ons die argumente,
5  asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Ek sluit dan hierdie gedagte uit die Woord af met die volgende uit die Woord
wat ons verseker kan glo en wat elke ware kind van God reikhalsend na kan uitsien:

2PET 3:5-11 
5 Hulle vergeet opsetlik dat God lank gelede met sy woord die hemele geskep het, en dat Hy die aarde uit water laat opkom het en met water omring het.
6  En dit is ook met water dat Hy die destydse wêreld oorstroom en laat vergaan het.
7  God het presies só – deur sy woord – beskik dat die hemele en die Aarde deur vuur verteer sal word op die dag waarop goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.
8  Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.
9  Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie. Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle. Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie, en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom.
10  Maar die Dag van die Here sal so onverwags kom soos ’n dief.  Dan sal die hemele met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame in vuur opgaan en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.
11  Aangesien alles om ons só gaan wegbrand, moet julle leefstyl soveel meer aan God toegewy wees en moet julle naby aan Hom lewe!

Jy en ek, ons wie ‘n liefde vir Sy Woord het en wat na die beste van ons vermoë in die weë van ons Here deur hierdie lewe gaan, kan verkondig en
met groot afwagting ook daarna uitsien:

2PET 3:12  Sien uit na die Dag van God en maak dat dit nog gouer kom, die dag waarop die Here die hemele aan die brand sal steek en die hemelliggame in vlamme sal wegsmelt.
2PET 3:13  Maar ons sien uit na die nuwe hemele en ’n nuwe aarde, soos God belowe het. Dáár sal almal voor God reg lewe.

Groete,
Sakkie