GOD IS VOLMAAKTE LIEFDE

GOD IS VOLMAAKTE LIEFDE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Hallo Sakkie help asb ons wil net weet:  As jy sonde gedoen het, straf die Here jou daarvoor en dit is hoekom jy swaar kry?”

Laat ek begin om net eers te sê:

Dit is belydende Christene wat my die vraag gevra het en ekself is ‘n belydende  Christen en dit is dan as ‘n belydende Christen wat ek aan belydende Christene skryf hoé ons Here na ons kyk en dan met ons deel.

Eerstens, het ek al gehoor dat iemand in een of ander variasie die stelling maak:
God, of as jy nie in ons Here glo nie, dan, "Julle God is ‘n wrede God."

Nou –
Van die woord “wreed” sê die Woordeboek onder andere:
“Wreed": 1 Sonder meegevoel of medelye.  2 hard, ru, onbarmhartig, gevoelloos.”

Persoonlik is dit vir my totaal onmoontlik om eens amper in daardie rigting oor ons Here te dink.

Ek kan ook myself hoegenaamd nie indink, dat iemand kan sê jy is lief vir iemand en dan van daardie selfde persoon sê dat hy:
“Sonder meegevoel of medelye, hard, ru, onbarmhartig, gevoelloos ens is nie.”
Jy mag ontsag hê vir iemand vir wie jy so sien.
Jy mag so iemand vrees maar jy kan nooit lief wees vir iemand vir wie jy in jou hart ervaar as iemand wat:
“Sonder meegevoel of medelye, hard, ru, onbarmhartig, gevoelloos ens is nie.”
Wat nog te sê, lief wees vir ons Here, wat jy nog nooit eens gesien het nie maar in jou hart sien en ervaar jy hom soos wat jy nou gelees het.

Ek ken net ‘n liefdevolle God wat nog altyd vir my gedoen het net wat die beste vir my is:

ROM 8:28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Ons Here het my al gedissiplineer.

HEB 12:6 Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is;
Hy tug elkeen wat Hy as sy kind aanneem."

Ek het egter dit nog nooit as straf ervaar nie.

Iemand word vir ‘n misdaad gestraf en in byvoorbeeld die tronk gegooi, om daar te gaan betaal vir dit wat hy verkeerd gedoen het.
Ek kan nooit, nooit in der ewigheid, nooit betaal vir alles wat ek in my lewe in die oë van ons Here verkeerd gedoen het nie – maar hoe wonderlik om te weet!

Ons Here het klaar betaal vir alles wat ek al ooit gesondig het en nog sal sondig.

Lees net gou weer hier wat het Hy in Sy groot liefde vir jou en my verduur:

JES 53:3  Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.
JES 53:4  Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.
JES 53:5  Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Ek, dissipel van Jesus Christus, sal nooit die gemors waarin hierdie wêreld is en die tragedies wat soms plaasvind en waardeur ek, Sy kind, dan ook soms moet gaan, voor ons Here se deur gaan lê nie.
Vir een, al die hartseer en tragedies wat ons aan mekaar doen is as gevolg van ons sondige natuur.  

ROM 5:12 Toe Adam gesondig het, het sonde in die wêreld ingekom en deur Adam se sonde ook die dood. En so het die dood tot alle mense deurgedring, want
almal het gesondig.

Dan moet ek kind van God ook onthou, dat my dade het gevolge.
As ek ‘n lang pad met my motor aanpak en ek begin my reis met ‘n leë tenk, gaan dit tot gevolg hê, dat ek langs die pad gaan staan en dit kan weer op sy beurt ‘n legio ander gevolge hê, wat selfs tragies kan wees en dan kan ek mos nie, omdat ek nie my gesonde verstand, wat ons Here my gegee het gebruik het nie, nou sê dat dit plaasgevind het as gevolg van ‘n God wat:
“Sonder meegevoel of medelye, hard, ru, onbarmhartig, gevoelloos ens is nie.”

As iets my pad langs kom wat ek nie verstaan nie, sal ek dit nooit toeskryf as ons Here wat my straf nie.
Soms ervaar ek dit as ons Here wat my dissiplineer, om my net weer mooi in lyn te help en ander kere wanneer ek nie verstaan hoekom nou met my gebeur, wat nou met my gebeur nie en omdat ek verseker weet, dat die god van die bose veral op ons Here se kinders konsentreer, het ek hierdie heerlike sekere wete:

1 KOR 10:13 Onthou, die versoekings ( of beproewinge) wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking (of beproewing) te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking (of beproewing) sal Hy vir 'n uitweg sorg sodat julle dit kan verduur.

Ongelukkig is dit nou maar die mens se natuur.
Kyk maar na die mense om jou en sluit gerus jouself ook in by diegene na wie jy kyk.
Hoe gemakliker en lekkerder die meeste van ons deur die lewe gaan, hoe swakker word ons verhouding met ons Here.
Daarom, voordat jy dink:
“God straf my.”
Onthou dan:

JAK 1:2 My broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees.

JAK 1:3 Julle weet mos: Wanneer 'n mens se geloof 'n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard.

JAK 1:4 Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle, julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie.

As ek dit onthou, onthou ek ook sommer wat Jesus self ook vir ons in Sy Woord sê:

JOH 16:33 Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin."

Om dan in baie kort op te som:
Die, om dit so te stel, slegte dinge wat met ons, ons Here se kinders gebeur, gebeur na my mening hoofsaaklik as gevolg van drie redes.

Die eerste is:
Omdat ons in ‘n sondige wêreld lewe en die mens, nie net ek nie maar al die mense om my, ‘n wil van ons eie het en die meeste mense om my willens en wetens hulle wil gebruik om ongoddelik te lewe en ongoddelike dinge te doen, wat soms gevolge en soms selfs tragiese gevolge vir ons, Jesus se dissipels mag hê.

Tweedens: 
Dinge vind soms in ons lewens plaas omdat ons gewoon net verkeerde besluite neem en nie ons Here in die saak geken het nie en dan soms, selfs nadat ons Hom in die saak geken het, tog maar ons eie kop volg en verkeerde keuses maak.

Derdens:
Laat ons Here soms dinge toe in ons lewens, om ons naby Hom te hou, of om ons te dissiplineer:

HEB 12:6 Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is;
Hy tug elkeen wat Hy as sy kind aanneem."

Vandat ek egter tot bekering gekom het daar in 1973, het ek nog nooit iets in my lewe as “God se straf” ervaar nie.
Daarvoor, is my ervaring, het Hy my, Sy kind, heeltemal te lief en hoe nader ek aan Hom lewe en Sy liefde aan my naaste uitlewe, hoe wonderlik meer ervaar ek ook Sy liefde in my lewe.

1JOH 4:7 Geliefdes, laat ons mekaar aanhou liefhê, want volmaakte liefde is van God afkomstig. Elkeen wat só liefhet, is uit God gebore en ken God persoonlik.

1JOH 4:8 Elkeen wat nie só liefhet nie, ken God nie persoonlik nie omdat God liefde self is.

1JOH 4:9 Op hierdie manier het God sy volmaakte liefde aan ons bekendgemaak toe Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het sodat ons deur Hom die lewe kan ontvang.

1JOH 4:10 Dít is volmaakte liefde: nie dat ons vir God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun as versoeningsoffer gestuur het om ons sondes weg te neem.

Groete,
Sakkie