HANDEL DRYF MET DIE WOORD VAN GOD

HANDEL DRYF MET DIE WOORD VAN GOD.

Sakkie Parsons

Ek het al in die verlede oor hierdie onderwerp geskryf maar nadat ek iets gelees het, voel ek om net weer iets in hierdie verband met jou te deel.

Sekere predikers gebruik die Woord soms om te wys dat ons, as Christene, fisies, of dan byvoorbeeld finansieel altyd welvaart of oorvloed móét beleef – in Engels, ‘prosper’ as ons saak met ons Here reg is.
Na my mening is dit nie heeltemal waar nie.  Anders gestel, dit is eintlik sommer ‘n bose leuen.

Ek weet byvoorbeeld nie van een van die apostels met wie dit altyd, of end uit wat die tydelike aanbetref goed gegaan het nie.
Jesus sê byvoorbeeld van Homself die volgende:

MAT 8:19  ’n Skrifkenner kom toe na Hom toe en sê vir Hom: “Leermeester, ek sal U volg, maak nie saak waarheen U gaan nie!”
MAT 8:20  Maar Jesus het vir hom gesê: “Die jakkalse het gate en die voëls het neste, maar Ek, die Seun van die Mens, het geen tuiste waar Ek my kop kan neerlê nie.”

Dit klink nie vir my na die “prosperity preachers” se soort “prosperity” nie.

Paulus skryf by geleentheid:

2KOR 4:8  Op elke manier word ons onder druk geplaas,
maar ons is nie verpletter nie;
ons is verward,
maar nie wanhopig nie;
2KOR 4:9  ons word vervolg,
maar nie in die steek gelaat nie;
platgeslaan,
maar nie vernietig nie.

Dit klink verseker ook nie vir my na die “prosperity preachers” se soort baie-geld-lekker- lewe “prosperity” nie.

Nou sê ek nie dat Jesus se volgelinge almal altyd behoeftig sal, gaan en moet wees nie. Géénsins.

Wat ek wél sê, is dat na my mening die Woord se kriteria vir ”prosperity” verseker nie ten eerste finansies of iets in daardie lyn is nie – en daarom het ek soos Paulus ‘n probleem met mense wat met die Woord aste ware handeldryf, om geld vir hulleself of vir wie ook al te kry.
Jy weet, iets soos:
“As jy wil hê dat ons Here jou moet seën in jou finansies, moet jy eers gee.”
So asof jy ons Here kan omkoop met dit wat in elk geval aan Hom behoort.

Dit is vir my, soos om met die Woord handel te dryf, of sommer gewoon met die
Woord vir geld te smous.

2KOR 2:17  .. want ons is nie soos baie mense wat smous met die woord van God nie.  Vanuit ons eenheidsband met Christus preek ons die woord met suiwer bedoelings – ‘n woord wat van God self af kom, en waaroor ons aan Hom rekenskap moet gee.

Wat is dan eintlik die Woord se “Prosperity?”

PSM 35:27  Laat hulle wat juig oor my vryspraak uitroep van vreugde en blydskap.  Laat hulle voortdurend sê:   “Groot is die HERE wat Hom verheug in die vrede van sy dienaar.”

‘n Ander vertaling stel dit so.

PSM 35 :27  Laat almal wat my vrygespreek wou hê,
bly wees en aanhoudend vol vreugde uitroep:
“Die Here is oneindig groot,
       en Hy wil sy dienskneg in voorspoed laat lewe.”

Dawid skryf ook op ‘n ander plek:

PSM 23:5  U berei vir my ‘n feesmaal voor die oë van al my vyande.  U verwelkom my as ‘n eregas deur my kop te salf met olie en my beker vol te maak met seëninge.

Net nadat Dawid dit uit gejubel het:
“My beker loop oor!”
Vertel hy ons wát hy ervaar, vanweë sy beker wat oorloop…

PSM 23:6  U goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe;  en ek sal bly in die huis van die HERE so lank as wat ek lewe.

In ‘n nuwer vertaling staan dit so geskryf:

5U maak vir my ’n feesmaal klaar
reg voor my vyande.
U maak van my ’n eregas
en skink my beker tot oorlopens toe vol.
6Ek sal u goedheid en u getroue liefde ondervind
so lank as ek lewe,
en ek sal by U bly, Here, tot die einde toe.

Jy sien, –  ek moet in my verhouding met Jesus op daardie plek kom dat my beker oorloop, nie van geld, rykdom ens nie, dit mag dalk na Sy genade ‘n bonus wees, maar my beker moet oorloop van Sy: Goedheid, guns, vrede, vreugde, oorwinning en liefde, dat as ek met mense deel, dit ook oor hulle kan spoel.
Jesus sê:

JHN 10:10  Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig.  Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, om dit oorvloedig te hê.

Ons moet nooit Jesus se eintlike oorvloed met die van mammon of enige ander wêreldse genot ens verwar nie.

Jesus sê in die verband:

LUK 12:15  Toe het Hy gesê:  “Pas op!  Moenie gierig wees vir wat jy nie het nie.  Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie.”

‘n Ander vertaling stel dit so:

LUK 12:15  En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.

So, as jy weer luister na iemand wat geld of dan finansies as “Prosperity” preek, luister dan mooi of hy/sy nie dalk vir homself, of vir wie ook al, met die Woord handel dryf nie, of anders gestel, of hy nie nou met die Woord vir geld of enige ander wêreldse iets smous nie. Want ek en jy behoort nie met so ‘n praktyk iets te doen te hê nie.

2KOR 2:17  Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; …

Groete,
Sakkie