HANDHAAF ‘N VOORBEELDIGE LEESTYL ONDER DIE NIE-CHRISTENE

HANDHAAF ’N VOORBEELDIGE LEEFSTYL ONDER DIE NIE-CHRISTENE

Sakkie Parsons

Iemand, en ek noem die persoon Frances, skryf en vra my die volgende:
“Hoe en wanneer moet mens die stof dan van jou voete afskud, of moet mens net aanhou praat?“

Dit na aanleiding van hoe Frances gereeld met iemand die Evangelie bly deel het en die persoon toe later vir Frances kwaad begin word het en vir Frances gevra het om nie meer by hulle en hulle vriende oor Jesus te praat nie.

Lees eers gou die volgende voorbeeld uit die Woord waarna Frances verwys:

MAT 10:11-15 
11 As julle in ’n dorp of kleiner plekkie ingaan, maak seker by wie julle welkom is en bly daar totdat julle weer vertrek.
12  As julle in ’n huis ingaan, begroet sy inwoners met die vredesgroet. (Vrede vir julle, die gebruiklike Joodse groet)
13  As julle in daardie huis welkom is, sal God se vrede daarop bly. Maar as julle nie welkom is nie, moet julle julle vredesgroet terugtrek.
14  As hulle julle nie wil ontvang of wil luister na wat julle sê nie, gaan uit daardie huis of dorp uit en skud die stof van julle voete af.
15  Ek verseker julle, op die oordeelsdag sal dit met die sondige stede Sodom en Gomorra beter gaan as met daardie dorp.”

Hierdie opdrag aan die dissipels van Jesus, met ander woorde ook aan jou en my, kom vier keer in die vier evangelies voor, naamlik die gedeelte wat jy nou gelees het, as ook in Mrk 6:10 sowel as in Luk 9:5 en verder ook vanaf Luk 10:10.

‘n Praktiese voorbeeld vanonder watter soort omstandighede ons dit moet doen, sien ons in die optrede van byvoorbeeld my groot held Paulus, toe mense nie na sy verkondiging van die Evangelie wou luister nie en toe selfs aggressief vyandig teen hulle gewees het:

HAN 13:50  Maar die Jode het vooraanstaande vroue wat vir die ware God ontsag gehad het, asook toonaangewende burgers van die stad, opgesweep.  Hulle het ‘n betoging teen Paulus en Barnabas bewerk, en hulle uit die streek weggejaag.
HAN 13:51 Hulle het toe, as protes teen die stad, die stof van hulle voete afgeskud en Ikonium toe gegaan.

Voordat ek met jou deel hoe ek verstaan dat ons hierdie opdrag in ons eie lewens moet uitlewe wil ek met jou ‘n geval deel, waar Jesus se optrede vir my persoonlik riglyne gee van wanneer ek, om dit so te stel, kan sê:
Hier gaan ek niks meer regkry nie en omdat ek hier op aarde net soveel tyd het, moet ek nou verder gaan en die tyd wat ek het gebruik om die Evangelie aan ander te gaan verkondig.
Die geval wat ek met jou wil deel, kan jy self gaan lees in byvoorbeeld Mrk 5:1-20.
Ek lig hier net die gedeelte uit wat ek, wat hierdie skrywe aanbetref, as baie belangrik beskou.
Jesus gaan na die land van die Gadaréners, om natuurlik Sy evangelie te verkondig.
Dan is daar die ontmoeting en gevolge met die besete man en die mense vra Jesus, ten spyte van alles wat hulle van Hom gehoor het en wat hulleself nou beleef het, om hulle te verlaat.  Anders gestel, om te gee pad en hulle uit te los en Sy Evangelie nie met hulle te deel nie.
Ons lees:

MRK 5:17  Hulle het vir Jesus gesoebat om uit hulle omgewing weg te gaan.

MRK 5:18  Toe Jesus weer terug was in die skuit, het die man wat voorheen besete was, Hom gesmeek om saam met Hom te mag gaan.

Sien jy dit?
Jesus stry nie met hulle nie.  Jesus dreig hulle ook nie met hierdie of daardie nie.  Jesus klim in die skuit en Hy gaan.

Want jy sien,  so verstaan ek dit –

Wát Jesus ook al sou gesê het, sou die mense verkeerd teen Hom laat optree het en dit sou natuurlik sonde van hulle kant gewees het en Jesus sal ‘n mens nooit laat sonde doen het nie.
As ek met mense, vriende of familie die Evangelie deel en hulle is bereid om te luister en selfs natuurlik, opbouend te redeneer, sal ek aanhou en aanhou en aanhou.

As die persoon begin lelik word, is dit vir my persoonlik, ‘n teken om op te hou.  Want jy sien, nou sondig die persoon en ek, om dit so te stel, hits hom aan.

Daarom, soos Jesus en ek praat geestelik, klim ek in my skuit en ek gaan verder maar vir my eindig dinge nie daar nie.  Net soos dit vir ons Here ook nie daar geëindig het nie.

Lees gou hier:

MRK 5:18-20 
18 Toe Jesus weer terug was in die skuit, het die man wat voorheen besete was, Hom gesmeek om saam met Hom te mag gaan.
19  Jesus het egter vir hom gesê: “Nee, gaan huis toe na jou mense toe. Vertel vir hulle wat die Here vir jou gedoen het, en hoe goed Hy vir jou was.”
20  Hy het wyd en syd in die Tien Stede-gebied gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het. En almal was verwonderd oor wat hy aan hulle vertel het.

Jesus klim in die skuit en vaar weg maar Jesus sorg dat daar iemand is wat ‘n lewende getuie is, sodat die mense, om dit so te stel, eerstehands die wonderlikheid van kind van God wees kan sien.  Ja, en selfs in ‘n sekere mate kan ervaar.

So, as hulle vir my kwaad woord, en voordat ek hulle aanhoudend laat kwaad word of iets – en hulle so laat sondig – klim ek, om dit so te stel, in my skuit en ek vaar weg maar ek bly vir hulle bid en elke keer wat daardie mense, vriende, of my familie daarna my sien, moet ek na die beste van my menslike vermoë probeer, dat hulle in my lewe sien en ervaar, dat hulle te doen het met ‘n lewende getuie van Christus.  Hulle moet in my handel en in my wandel die liefde van Christus sien.
Ja, hulle moet in my lewe sien, watter groot dinge ons Here vir my gedoen het en dat Hy my barmhartig gewees het.

MRK 5:19  Jesus het egter vir hom gesê: “Nee, gaan huis toe na jou mense toe. Vertel vir hulle wat die Here vir jou gedoen het, en hoe goed Hy vir jou was.”

So, as die mense met wie jy deel se woorde en optrede van so ‘n aard word, dat dit volgens die Heilige Gees wat in jou is nou sonde word, dan klim jy in jou skuitjie en vaar weg maar terwyl jy nie ophou om vir hulle te bid nie, onthou jy ook, dat elke keer in die toekoms wanneer julle mekaar teëkom –

1PET 2:12  Handhaaf ’n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag. Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra.

Groete,
Sakkie