HET EK ‘N PERSOONLIKE BESKERMENGEL?

HET EK ‘N PERSOONLIKE BESKERMENGEL

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand het my, my opinie oor engele en dan in besonder oor persoonlike beskerm engele gevra en ek wil graag hê dat dit dan presies is hoe jy dit wat ek vir jou stuur moet sien.

Hier volg dus my persoonlike opinie, hoe ek na engele kyk:

Daar is verseker engele.  Die Bybel is vol van getuienis hieroor en ek gaan in my poging om vir jou te wys hoe ek engele sien telkens net ‘n voorbeeld of twee gebruik om dit wat ek sê te ondersteun.

Eerstens dan.  –
Daar is engele en dan is die engele in twee hoofgroepe.  Die engele van God en dan ook satan en sy engele.

OPG 12:7  Daar het toe oorlog uitgebreek in die hemel:  Migael en die engele onder sy beheer het oorlog gemaak teen die draak.  Die draak en die engele onder sy beheer het aan die oorlog deelgeneem,
OPG 12:8  maar hy is verslaan.  In die hemel was daar geen plek meer vir die draak en die engele onder sy beheer te vind nie.
OPG 12:9  Die reuse draak is uitgewerp, dit is die slang van die oertyd wat ook die duiwel en satan genoem word, en wat die hele bewoonde wêreld verlei.  Hy is op die aarde neergewerp, asook sy bose engele saam met hom.

LUK 10:18  “Ja” het Hy hulle vertel.  “Ek het satan uit die hemel sien val soos ‘n weerligstraal!”

Onder God se engele is daar, wat ek ‘n paar soorte engele noem, maar dit is wat hierdie skrywe aanbetref nie ter sprake nie.

Feitlik dwarsdeur die Bybel word engele hoofsaaklik deur ons Here as boodskappers gebruik.  Daar is gevalle waar hulle ander opdragte gehad het maar hoofsaaklik is hulle ons Here se boodskappers.

Ek weet ook dat ons Here engele vir volke daar gestel het.

Lees asseblief die volgende gedeelte en terwyl jy dit lees, let sommer op dat Mígael, een van die vernaamste engele, die engel wat satan uit die Hemel help verwyder het, ook die “beskermengel” van Israel is.

DAN 10:4-21 

4Dit was op 23 April.  Ek het op die oewer van die groot Tigrisrivier gestaan. 5Ek het opgekyk en ‘n man gesien met klere van fyn linne en ‘n goue gordel om sy lyf.  6Sy lyf het soos edelstene gelyk.  Sy gesig was soos weerligstale, sy oë soos vlammende fakkels.  Sy arms en sy voete was soos koper wat blink gevryf is.  Die stem waarmee hy gepraat het, het geklink soos die geruis van ‘n skare mense.  7Dit was ek, Daniël wat hierdie gesig gesien het.  Die mans wat saam met my was, het dit glad nie gesien nie.  Hulle het skielik baie bang geword en weggehardloop om te gaan wegkruip.  8Ek het toe alleen agtergebly en na hierdie visioen staan en kyk.  Daar het nie ‘n greintjie krag in my oorgebly nie.  Ek het doodsbleek geword en daar het geen krag in my oorgebly nie.  9Ek het die man hoor praat.  Toe ek hoor hy praat, het ek flou neergeval en met my gesig op die grond gelê.  10’n Hand het my op my hande en knieë gehelp.  Ek het staan en bewe.  11Hy het vir my gesê:  “Daniël, liewe man, luister aandagtig na wat ek vir jou sê, Staan op jou voete!  Ek is na jou toe gestuur.”  Toe hy dit vir my sê, het ek al bewend regop gaan staan.  12Hy sê toe vir my:  “Moenie bang wees nie, Daniël.  Jou gebed is alreeds verhoor toe jy begin soek het na antwoorde en tot jou God begin bid het daaroor.  Ek het gekom in antwoord op jou gebed.  13Die aanvoerder van die Persiese koninkryk het my 21 dae lank teengestaan.  Migael, een van die belangrikste leiers, het my te hulp gesnel.  Ek het hom daar gelos by die aanvoerders van die Perse.  14Ek het gekom om vir jou te verduidelik wat in die laaste dae met jou volk sal gebeur.  Die visioen het met daardie laaste dae te doen.”  15Terwyl hy hierdie dinge vir my gesê het, het ek afgekyk grond toe en ek was stom.  16Die een wat soos ‘n mens lyk, het toe aan my lippe geraak.  Ek het begin praat en vir die een wat voor my staan, gesê:  “Meneer, die visioen het my ontstel.  Ek is benoud.  Ek is kragteloos.  17Hoe kan Meneer se kneg nog met Meneer praat?  Ek het nie die krag om regop te bly nie.  Ek kan nie asem kry nie.”  18Die een wat soos ‘n mens lyk, het toe weer aan my geraak en my sterk gemaak.  19”Moenie bang wees nie,” sê hy weer vir my.  “God is lief vir jou.  Wees rustig.  Wees sterk.”  Terwyl hy met my gepraat het, het ek sterk geword.  Ek het vir hom gesê:  “Meneer kan maar nou met my praat.  Ek is sterk genoeg.”  20Hy sê toe:  “Weet jy waaroor ek na jou toe gekom het?  Ek moet teruggaan om te gaan veg teen die aanvoerder van die Perse.  Ek moet uittrek om te veg, want die aanvoerder van die Grieke het opgeruk.  21Ek moet vir jou sê wat in die Boek van die Waarheid geskryf staan.  Daar is niemand wat saam met my hierdie leier kan teengaan nie behalwe Migael, julle leier.”

Ek wil net hier tussen hakkies noem dat diegene wat so teen Israel is, kan ook maar kennis neem van die feit dat God se vernaamste engel, wat die oorlog teen satan gewen het ook die beskerm engel van Israel is.

Om terug te kom waaroor ek eintlik met jou deel.
Engele word ook deur ons Here vir spesiale take vir individue gebruik maar as hulle taak afgehandel is, verdwyn, of gaan hulle weg.

HAN 12:6-10  

6 Die nag voordat Herodes hom in die openbaar sou verhoor, het Petrus tussen twee soldate geslaap terwyl hy met twee kettings geboei was en ander wagte die tronkdeur bewaak.
7  Meteens staan daar ‘n engel van die Here by Petrus, en ‘n lig skyn in die sel.  Die engel stoot toe aan Petrus se sy, en maak hom wakker en sê:  “Staan gou op!”  Die boeie het van sy polse afgeval.
8  Toe sê die engel vir hom:  “Maak vas jou belt en trek jou sandale aan.”  Hy het so gemaak.  Daarna sê die engel vir hom:  “Trek jou jas aan en kom agter my aan.”
9  Petrus het hom uit die sel gevolg.  Hy het nie besef dat die optrede van die engel werklikheid was nie, maar het gedink hy sien ‘n gesig.
10  Hulle is by die eerste wag verby en ook by die tweede, en toe hulle by die ysterhek kom wat na die stad toe lei, het dit vanself vir hulle oopgegaan.  Hulle het buitetoe gegaan en ‘n ent met die straat af gestap.  Toe het die engel Petrus skielik verlaat.

Het jy opgemerk?
Dit was nie Petrus se beskermengel nie maar ‘n engel van God.

‘n Verdere bewys vir my dat dit nie Petrus se beskermengel gewees het nie, is die feit dat die engel hom verlaat het, toe sy taak afgehandel gewees het en as Petrus ‘n beskermengel gehad het, waar was hy? 
Hoekom moes daar dan ‘n ander engel gekom het om Petrus te help?

Jy vra of ek in ‘n persoonlike beskermengel vir elke mens glo en dan moet ek sê, dat ek glo dat elke kind ‘n engel het wat oor hom/haar aangestel is.

MAT 18:10  Maak seker dat julle nie op een van hierdie kleinstes neersien asof hulle onbelangrik is nie.  Besef julle dat die engele in die hemel wat oor hulle waak, elke oomblik in die teenwoordigheid van my hemelse Vader verkeer?

Êrens, so lyk dit vir my, tussen kind en volwassenheid, hou die engel se werk as persoonlike beskermer op en besluit ek deur die besluit wat ek maak of nie maak nie, wie my voortaan beheer, of om dit nog beter te stel, in wie se diens ek gaan staan.

Gaan ek Jesus Christus aanneem as Verlosser en Saligmaker en Hom volg en sodoende Hom die beheer van my lewe gee.  Of, gaan satan my lewe beheer?

JHN 3:16  God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

JHN 1:12 Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Die 1933 Vertaling stel dit so:
JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

Nou, nadat ek Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, nou woon Hy of dan Sy Heilige Gees in my en Hy lei my in alle waarheid, selfs wat die toekomstige dinge aanbetref, as dit sou nodig wees.

JHN 16:13  Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid.  Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor.  Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel.

Ek glo dat ons Here van tyd tot tyd ‘n engel mag gebruik om  byvoorbeeld fisies, in my lewe in te gryp om my met die een of ander by te staan maar dit is ‘n engel en nie my persoonlike engel nie, soos in Petrus se geval en soos van baie ander gevalle wat ons van tyd tot tyd hoor en as hulle gedoen het wat hulle moes doen, gaan hulle weer weg.

Omdat daar selfs mense is wat tot engel verering kan oorgaan, waarsku ons Here ons in Sy Woord daarteen:

KOL 2 18 Laat niemand wat aandring op selfvernedering en engelverering – en dit met ‘n beroep op visioene! – oor julle skeidsregter speel en julle op sleeptou neem nie. …

Om dan op te som hoe ek hierdie saak sien:

• Ek glo in engele.
• Ek glo dat kinders ‘n persoonlike engel het.

• Ek glo egter nie dat ek ‘n persoonlike engel het nie maar verseker het ek ons Here se Heilige Gees wat my lei en beskerm en mag Hy van tyd tot tyd ‘n engel vir die een of ander rede na my stuur soos dit Hom behaag.
 

Groete,

Sakkie