HET JESUS BESTAAN EN WAS, OF DAN, IS HY VOLMAAK?

HET JESUS BESTAAN EN WAS, OF DAN , IS HY VOLMAAK?
DEEL 1

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:

“Ek wil net weet hoe om te verduidelik dat JESUS volmaak was en is?”

In my ondervinding, as iemand twyfel oor die volmaaktheid, of dan Godheid van Jesus en jy gesels lank genoeg met hulle, kom jy ook agter dat hulle eintlik ook wonder of Jesus werklik bestaan het.

Hulle sal dan ook wonder en vra of daar buite die Bybel ook bewyse is dat Jesus werklik op aarde geleef het.

Dus gaan ek dan sommer, om daardie aspek ook te dek, in kort iets oor buite Bybelse bewyse van Jesus se bestaan op aarde sê.

Jy kan natuurlik self op die internet oor hierdie mense gaan na-lees.

Ek kon nou oor ‘n hele paar mense geskryf het, wat iets oor Jesus, en/of oor die eerste Christene gesê het soos, Lucian, Pliny the Younger, Tacitus ens., maar ek volstaan met twee, omdat ekself hulle as uiters geloofwaardig beskou.

Eers dan iets oor ‘n nie-Christen Josephus, of dan, soos hy ook graag genoem wou word, Flavius Josephus.

Om mee te begin, hy was nie ‘n Christen nie, hy was ‘n Jood wat die Joodse godsdiens aangehang het.
Flavius Josephus was ‘n hoog aangeskrewe historikus wie geleef het vanaf 37 na Christus, dit is nie heeltemal seker wanneer hy gesterf het nie, maar die algemene siening is, dat dit ± 100 na Christus was.
Hy was, met ander woorde, gebore ongeveer 4 jaar nadat Jesus gekruisig is, en in sy werk “Antiquities of the Jews,” skryf hy twee keer iets oor Jesus en een keer oor Johannes die doper.
Flavius Josephus word beskou as ‘n baie geloofwaardige geskiedskrywer, wat baie seker gemaak het waaroor hy geskryf het, want soos alle goeie geskiedskrywers wou hy nie ‘n nalatenskap van ongeloofwaardigheid vir die nageslag nagelaat het nie.

Buitendien het baie van die mense wat Jesus persoonlik geken het, ook nog geleef toe sy werk “Antiquities of the Jews” verskyn het, en sou hulle hom maklik as ‘n leuenaar kon uitwys.

Die tweede persoon oor wie ek iets wil sê, was ‘n Christen en dit is Clement, of dan Clement “of Rome.”

Daar is mense wat beweer dat hy die direkte opvolger was van Petrus, die eerste leier van die Christen kerk, maar die Vatikaan, so ver ek weet, lys hom as die vierde kerkleier / pous.
Hy was aan die hoof van die kerk vanaf 76 na Christus tot sy dood in 81 na Christus en hy het ook oor Jesus geskryf.

Dit word deur baie Christene geglo dat hy dieselfde persoon is van wie Paulus praat in (FIL 4:3):

FIL 4:3 “En ek vra ook dat jy, getroue kollega, hulle daarmee help.  Hulle het hard gewerk saam met my en ook saam met Klemens en die ander medewerkers, om die Goeie Nuus uit te dra.  Hulle almal se name staan opgeskryf in die Boek van die Lewe.”

Ek deel met jou, sommer vir die interessantheid daarvan, een aanhaling uit sy eerste skrywe aan die gemeente in Korinte:

“Let us beg for pardon; nothing is more beautiful than charity; it was shown by Christ when He gave His Flesh for our flesh, His Soul for our souls; by living in this love, we shall be in the number of the saved through Jesus Christ, by Whom is glory to God for ever and ever, Amen”

Onthou nou dat hy oorlede is in 81 na Christus. Omtrent 48 jaar na Christus se kruisiging en niemand het destyds terwyl hy gelewe het, of daarna, bevraagteken of hierdie Jesus oor wie hy skryf, werklik gelewe of bestaan het nie.
Inteendeel, die Christene het hom destyds so hoog aangeskryf dat die Katolieke kerk hom later op die vroeë Christene se getuienis, heilig verklaar het. Met ander woorde hulle het hom “saint” statis gegee.

Uiteindelik egter, soos ek altyd sê, as jy dit afsny tot op die been, kan jy nie Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, as jy twyfel aan Sy bestaan of Sy Godheid nie, want, en ek sê dit met die grootste respek, as Hy nie deel van die Godheid is nie, kan Hy ook nie volmaak wees nie, en as Hy nie God is wat mens geword het nie, kan Hy ook nie jou of my Verlosser en Saligmaker wees nie. Hoe oneindig geseënd is jy en ek en elke mens wat deur ons Here se groot liefdevolle genade ons harte op Sy geklop oopgemaak het en ‘n liefdesverhouding met Hom het, al het ons Hom nog nooit met ons fisiese oë gesien nie:

JHN 20:27  Daarna sê Hy vir Tomas:  “Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy;  en moenie ongelowig wees nie, maar glo.”
JHN 20:28  Tomas het vir Jesus gesê:  “My Here en my God!”

Let nou op – in Jesus se reaksie wys Jesus hom nie tereg omdat Thomas Hom “Here” en “God” noem nie, maar in Sy reaksie op Thomas se woorde, bevestig Jesus juis dat wat Thomas gesê het, die waarheid is:

JOH 20:29 “Jesus se reaksie daarop was: "Glo jy nou nadat jy klaar gesien het? Geseënd is hulle wat nie sien nie, maar tog tot geloof kom.”

1PET 1:7  Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word.  Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word, en onthou:  Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud.  As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word.
1PET 1:8  Hom het julle lief, al het julle Hom nooit gesien nie.  Al sien julle Hom nou nie, vertrou julle op Hom;  julle kan die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik onder woorde bring nie.
1PET 1:9 Julle ervaar hierdie blydskap, want julle is reeds besig om julle finale redding, wat die doelwit van julle geloof is, te verkry.

In my volgende skrywe in hierdie kort reeks van 2, deel ek met jou oor Jesus se Godheid wat Hom volmaak maak. Vir nou laat ek jou met die volgende uit ons Here se kosbare Woord:

HEB 11:1  Wat beteken dit om op God te vertrou? Dit beteken om seker te wees dat die dinge waarna ons uitsien, wel sal gebeur. Dit beteken ook om oortuig te wees dat die dinge wat ons nie kan sien nie, wel daar is.

In ‘n ouer vertaling, lees hierdie gedeelte so:

HEB 11:1  “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.”

Die tweede gedeelte uit die kosbare Woord van ons Here is die volgende:

HEB 11:6  As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel.  Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon.

Groete,
Sakkie