HIPNOSE – REG OF VERKEERD?

HIPNOSE – REG OF VERKEERD?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Graag wil ek weet wat jou siening aangaande hipnose is?”

Hier is dan hoe ek na hierdie saak kyk:

Ek wil dan sommer hier aan die begin noem, dat ek nie glo hipnose is verkeerd of sonde, as jy wil, wanneer dit reg gebruik word nie.

Net soos wat ek ook nie dink dat om drank te gebruik, verkeerd of sonde is nie, maar hipnose sowel as drank en ‘n menigte ander dinge en gebruike wat ek kan noem, ook nie verkeerd of dan sonde is nie, tensy jy dit verkeerd gebruik, of as jy dit so wil stel, dit misbruik.

Dit is nou maar ongelukkig so dat baie mense, en jy kry dit natuurlik ook onder ons Christene, dat ons soms persoonlik nie van ‘n sekere – wat jy dit ook al wil noem – hou nie, of sommer ‘n afsku daarin het, en dan, om dit so te stel, nie konsekwent is in ons redenering van hoekom dit verkeerd/sonde/boos is nie.

Byvoorbeeld: Iemand sal jou vertel dat dit boos is om die lotto te speel maar dan by ‘n kerkbasaar van alle plekke nogal, R5.00 betaal, om te raai hoeveel boontjies in ‘n bottel is, om ‘n kans te staan om die skaap wat op die spel is, te wen.

So, of altans so dink ek persoonlik, is dit ook die geval met hipnose. Daar is natuurlik baie redenasies rondom hierdie onderwerp en hoekom dit nie deur Christene beoefen behoort te word nie, maar ek deel met jou in kort die een en ander wat ek in my lewe teëgekom het.

Dan wys ek sommer terselfdertyd waarom ek nie glo dat hipnose op sigself boos is nie.

Een van die redes waarom sommige Christene sê dat hipnose volgens die Woord boos is, is dat daar geskryf staan:

GAL 5:22  “Maar die vrug van die Gees is …  selfbeheersing.”

Dan is die redenasie iets soos: Ons het die Heilige Gees en met die leiding van die Heilige Gees, moet ons beheer oor onsself neem en as jy jou laat hipnotiseer, gee jy ‘n ander persoon beheer oor jou.

As ‘n mens met daardie soort redenasie konsekwent wil wees, behoort jy ook teen alle operasies, soos ‘n ope hartoperasie te wees.

Want jy laat toe dat jy aan die slaap gesit word en gee jouself toetaal oor in iemand se hande, om met die tempel van ons Here te doen soos sy/hy goeddink en dit selfs ongeag, of daardie persoon wat die operasie gaan doen ‘n Christen is:

1KOR 3:16  “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?”

Dan redeneer mense ook soms dat, onder hipnose, jy as’t ware die persoon wie jy toelaat om jou te hipnotiseer, se dienskneg geword het en dat dit sonde tot die dood toe is. Hulle haal dan aan:.

ROM 6:16  “Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?”

Hier kon ek natuurlik weer ‘n klomp voorbeelde gebruik het, om te wys dat die
     persoon wat hierdie gedeelte uit die Woord teen hipnose gebruik, nie konsekwent is nie. Dink maar net byvoorbeeld aan jou werksituasie.

Daar is nog ‘n paar redenasies wat sommige Christene gebruik om te wys dat ‘n Christen nie van hipnose gebruik mag maak nie, maar hulle is almal, volgens my persoonlike siening, net so onkonsekwent soos bogenoemde.

Morfien byvoorbeeld, kan ‘n dodelike dwelmmiddel wees, maar word wonderlik deur die medici gebruik.

Kan ek nou sê dat morfien van die duiwel is?

Ons Here het byvoorbeeld vir ons dokters daar gestel, wat baie keer, vir ‘n tyd, die lewens van hulle pasiënte heeltemal oorneem en baie goeie werk doen, maar wees versigtig, want net soos wat daar baie goeie dokters is, is daar ook baie slegte dokters.

Net so, so glo ek, het ons Here byvoorbeeld vir ons baie goeie hipnotiseurs daargestel, wat baie keer, vir ‘n tyd, die lewens van hulle pasiënte heeltemal oorneem en wonderlike werk doen, maar wees versigtig, want net soos wat daar baie goeie hipnotiseurs is, is daar ook baie slegte hipnotiseurs.

Uiteindelik, met die Woord as my maatstaf, kyk ek in hierdie geval na hipnose en ek onthou:

FIL 4:8  “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”

Groete
Sakkie
.