HOE BEDROEF EK DIE HEILIGE GEES

HOE BEDROEF EK DIE HEILIGE GEES

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra hoe verstaan ek, “om die Heilige Gees te bedroef.”

Ek glo die gedeelte waarna die skrywer verwys is:

EFE 4:30  En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.

Net eers iets oor ons Here en ek skryf die woord “die, as ek van ons Here se Heilige Gees praat met die grootste respek.
Iets oor die Heilige Gees, wat ek dink hier baie relevant is, wat ek wil noem is die volgende.

Ons Here se Heilige Gees is, met groot respek gesê, net so deel van ons Here se Godheid soos wat Jesus deel van die Godheid is.

Ons het emosies en kan byvoorbeeld bedroef raak, want ons is na die beeld van God geskape wie ook bedroef kan raak.  Soos wat daar baie voorbeelde in Jesus se lewe is en ons dan ook in  EFE 4:30 lees, dat ons Here se Heilige Gees ook bedroef kan raak. 

Die rede waarom ek dit net eers noem, is omdat ons Here se Heilige Gees nie en weer sê ek dit met die grootste respek, iets soos ‘n kommoditeit of iets is wat ‘n priester soos wat in sommige sogenaamde gelowe beweer word,  hulle jou sommer kan gee, of nie gee nie, soos die “fancy” hulle pak.

Ek sal myself nooit sover kan kry om hierdie gelowe “Christen gelowe” te noem nie.

Terug by die onderwerp, oor wat dit beteken om Ons Here se Heilige Gees te bedroef.

Eintlik dink ek, dat enige iets wat ek doen wat verkeerd is in die oë van ons Here, Sy Gees, of dan Sy Heilige Gees bedroef.  Daarom noem my groot held Paulus net nadat hy EFE 4:30 geskryf het, ‘n klompie voorbeelde wat ons Here se Heilige Gees ontstel, of dan bedroef en ook ‘n paar voorbeelde, om dit so te stel, wat ons Here se Heilige Gees sal verbly.

Ons kan byvoorbeeld ons Here se Heilige Gees bedroef deur:
Bitterheid, woede, toorn, geskreeu, lastering en sommer alle boosheid.

EFE 4:31  Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.

As ook:

Hoerery, allerhande onreinheid en hebsug.

EFE 5:3  Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam;

Nog verder ook:

Gemeenheid, dwase of lawwe praatjies.

EFE 5:4  ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, …

Terselfdertyd, amper skryf ek, “in dieselfde asem,” noem Paulus ook as voorbeelde
net nadat hy EFE 4:30 geskryf het, ‘n paar dinge wat net die teenoorgestelde
uitwerking op ons Here se Heilige Gees sal hê as ons dit doen naamlik.

Vriendelikheid, ontferming en vergifnis vir ander mense in ons harte.

EFE 4:32  Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.

Vervolgens, moet ons, ons oë op ons Here hou soos wat sy kinders, wat ons natuurlik
ook is, behoort te doen.

EFE 5:1  Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders;

Dan natuurlik, dit kan mos nooit deur ons Here se kinders agter gelaat word nie, moet
ons vol liefde vir ander lewe.

EFE 5:2  en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur.

Dan, nadat Paulus nog so ‘n paar dinge genoem het, sê hy ook iets oor die vrug van
die Gees, wat jy en ek volgens die Woord behoort te dra.

EFE 5:9  Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.

So, my vriendin/ vriend, as ons wil seker wees dat ons nie die Heilige Gees van ons
Here sal bedroef nie, laat ons dan die vrugte van die Gees dra.
Jesus sê in hierdie verband.

MAT 7:17-20 
17 So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.
18  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.
19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

Ek dink, dat ‘n groot hartseer, of dan droefheid vir ons Here, is dat so baie Christene,
hulle godsdiens beoefen sonder hulle God.
Daarom dan ook, so glo ek is dit, dat net nadat Jesus gesê het, wat jy nou gelees het,
Hy ook sê.

MAT 7:21  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

Hoe lyk Hierdie vrugte van die Heilige Gees wat by jou en my gevind behoort te word?

GAL 5:22  Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Laat ons, ons Here daagliks vra, om ons te help, dat almal wat met ons in aanraking kom, sal vind, dat ons oortrek is met hierdie vrugte.
Want kind van God, dit is wat ons Here van ons verwag.
Om godsdienstig sonder die vrug van die Gees te wees, soos Jesus ons hier bo gewys het, beïndruk ons Here niks nie.
Hy kan Christene uit klippe maak, Hy het nie klip Christene nodig nie.

LUK 3:8  Dra dan vrugte wat by die bekering pas, en moenie by julleself begin sê:
Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek.
LUK 3:9  Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

Groete,
Sakkie