HOE EK DIE OORDEEL VERSTAAN

HOE EK DIE OORDEEL VERSTAAN

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra dat as ek dan verkondig dat, wanneer ek uit hierdie lewe uittree, ek óf die hemel, óf die hel intree, hoe verduidelik ek dan die oordeelsdag?

Weer sê ek soos ek baie in die verlede gesê het. Ek verduidelik hoe ek dit sien en natuurlik hoe ek glo.

Ek wil dan soos volg begin:
As ‘n man in hierdie lewe iets verkeerd doen, word hy gevange geneem en in die tronk gegooi. Daar sit hy dan totdat sy saak voorkom. Hy verskyn dan in die hof en ontvang sy vonnis. Nou ~ ek glo dit is ook presies hoe dit met ons werk wat die oordeelsdag aanbetref.

Ek gaan nou ‘n paar bewyse uit die Bybel voorlê, wat ek glo die saak mooi sal verduidelik:

ROM 8:1  “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
ROM 8:2  Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. “

Nie net is daar geen veroordeling vir ons nie, maar ons gaan selfs regters wees en nie net gaan ons regters wees wat mense gaan oordeel nie, ons gaan ook regters wees wat engele oordeel:

1KOR 6:2  “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?
1KOR 6:3  Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die
alledaagse dinge?”

Jesus praat hier van Homself en van ons; en van ons sê Hy dat as ons in Hom glo, daar vir ons geen veroordeling is nie:

JHN 3:17  “Want God het Sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
JHN 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is
alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. “

In die volgende verse sê Jesus dat ons reeds die ewige lewe het.  Hy sê dat ons reeds vrygespreek is van die dood:

JHN 5:24  “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie My woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. “

Beteken dit dan dat ons nie voor die regterstoel van ons Here gaan verskyn nie?
Natuurlik gaan ons ook voor die regterstoel van ons Here verskyn. Almal gaan voor die regterstoel van ons Here verskyn:

ROM 14:10   “… Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.
ROM 14:11  Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.”

Ons sal egter nie daar wees om veroordeel te word nie, maar ons sal daar wees om beoordeel te word:

1KOR 3:11-15 
11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
12  En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—
13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”

Dit dan nou wat ons, die gelowiges, aanbetref.

Wat dan van die ongelowiges, wat die oordeelsdag aanbetref?

Ek glo dat as jy hier uittree as ongelowige, dit gaan soos met die krimineel wat gevang word. Hy gaan tronk toe en wag daar vir sy vonnis, maar omdat hy in die tronk is, ervaar hy reeds die tronkomstandighede wat hy gaan ervaar na sy vonnis.

Ek glo, met ander woorde, as jy hier uittree en jy wou nie Jesus aanneem nie, jy reeds geoordeel is en klaar in die tronk/hel is en net wag vir jou vonnis.

Ek gee hier ‘n paar voorbeelde uit God se Woord. In die eerste voorbeeld onder, spreek Jesus nie net ‘n vonnis uit oor die mense wat nog in hierdie lewe voor Hom staan nie, Hy spreek selfs ‘n swaarder vonnis uit oor hulle wat hulle in die oordeelsdag, sê Hy, gaan kry:

MAT 23:14  “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ‘n swaarder oordeel ontvang.”

Jesus sê hieronder dat die mense met wie Hy praat, die maat van dié wat voor hulle was, moet volmaak. Met ander woorde, daar is al klaar ’n klomp wat in die tronk/hel sit. Die mense wat daar staan, moet ook nog bygevoeg word. Dan onderstreep Jesus eintlik wat Hy sê, as Hy vir hulle sê dat die hel vir hulle wag:

MAT 23:31-33 
31 “Julle gee dus teen jul self getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het.
32  Maak die maat van julle vaders dan vol!
33  Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?”

In die gedeelte hieronder lees ons dat hulle die straf van die ewige vuur nou ondergaan en nie dat hulle dit sal ondergaan nie”

JUD 1:7  “… soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ‘n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.”

Ons het gelees dat ons die engele sal oordeel:

1KOR 6:3  “Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, …”

Tog lees ons:

2PET 2:4  “Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;”

Hulle is klaar in die tronk/hel en moet nog net gevonnis word.

Om dan op te som hoe ek dit sien:

As jy Jesus nie wil aanneem nie en jy sterf in daardie toestand, gaan jy tronk/hel toe en wag daar vir jou vonnis.

As jy Jesus aanneem as jou Verlosser en Saligmaker, word jy vrygespreek en word jy mede-erfgenaam, saam met Jesus.

Dit lyk dan vir my een van die, met respek gesê, dinge wat ons dan erf, is dan juis regterskap in die oordeelsdag:

ROM 8:16  “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;
ROM 8:17  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”

Ek kan my ook nie vir een oomblik indink dat ‘n mede-erfgenaam van Christus en kind van God in die beskuldigdebank moet gaan staan nie.

As ek so ‘n bietjie van my groot held Paulus se skryfstyl gebruik mag maak: “Of wat sal ons dan van al hierdie dinge sê? Wil ons dan die bloed van Christus so probeer kragteloos maak? Terwyl die bloed van Christus ons reinig van alle sonde, as ons dit in opregtheid bely.”

1JHN 1:6-9 
6 “As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.
7  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.
8  As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.
9  As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

Al wat ek moet doen is om in die Lig te bly en:

1JHN 1:9  “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

Daar is sekerlik mense wat met my verskil, maar dit is hoe ek glo.
                 
Groete,
Sakkie