HOE EK NA DEPRESSIE KYK

HOE EK NA DEPRESSIE KYK

Sakkie Parsons

‘n Kind van God het met my oor depressie gepraat en nadat ek met die persoon gedeel het, het ek gedink om vir jou ook te stuur wat ek vir die persoon gestuur het.
Miskien weet jy van iemand wat hier by kan baat.

So ‘n paar jaar gelede het my vrou ook deur ‘n soortgelyke stryd gegaan en elke keer wat die satan haar met depressie aangeval het, het sy hartseer aan die huil gegaan.  Dan het sy gewoonlik net so tussen die trane deur vir my gesê:
“Darling pray for me.”
Dan het ek vir haar gebid maar ek het ook vir haar gesê dat sy moet een ding baie goed verstaan en dan daarvolgens optree.
Ek gaan ook nou vir jou sê wat ek vir haar gesê het en jy moet my asseblief glo, want dan alleen kan jy dit oorwin.
My vrou het met die hulp van ons Here sommer gou korte mette met die depressie gemaak.
Depressie is van die satan.
Ek sê nie dat depressie ‘n duiwel is nie, want dan sou ek sê dat jy ‘n duiwel het.  Ek sê dit omdat baie mense daardie fout maak.
Depressie is net ‘n wapen wat hy teen jou gebruik omdat hy dink dit kan werk om jou weg van die Here af te kry en sommer ook jou te vernietig.
Onthou, ek het gesê, dit is wat hy dink.
Net soos hy ook gedink het hy kan Jesus verlei.
Die satan is magtig maar God wat in jou woon is Almagtig.
Jy is ‘n bloed gewaste kind van God en God woon in jou.
Ek wil jou nou so ‘n paar dinge vertel oor daardie woning wat God in woon.
Jy het Jesus aangeneem as jou Saligmaker, so God sê van jou dat jy Sy kind is.

JHN 1:12  Maar almal wat Hom (Jesus Christus) aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
JHN 1:13  wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

Elke keer as satan jou aanval met die depressie, dan spreek jy hom aan in die Naam van Jesus.
Moet nooit met die duiwel in jou eie krag praat nie maar sê vir hom:

“In die Naam van Jesus satan.”

ROM 8:15-17 
15 Want julle (ek) het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle (ek) het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, (kind) deur wie ons (ek) roep: Abba, Vader!
16  Die Gees self getuig saam met ons (my) gees dat ons (ek) kinders (kind) van God is;
17  en as ons (ek) kinders (kind) is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons (ek) naamlik saam met Hom ly, sodat ons (ek) ook saam met Hom verheerlik kan word.

Lees ook hier:

EFE 1:4-7 
4  soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,
5  deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil,
6  tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.
7  In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,

God het Sy oog op jou vir ‘n baie lang tyd al.
Jy sien, voor die grondlegging van die wêreld het God jou al uitverkies en Hy het
geweet dat jy Hom gaan aanneem as jou Verlosser en Saligmaker.
Dit is vir my iets wonderlik groots om te weet.
Moet tog asseblief ook nie die mense glo wat vir jou vertel dat dit altyd moet goed
gaan met ‘n kind van God nie.
Ek kan vir jou baie voorbeelde uit die Bybel wys, dat dit nie noodwendig so is nie
maar ek volstaan met wat Jesus sê.

JHN 16:33  Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal
julle verdrukking hê; (dit sal soms moeilik met julle gaan) maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

Jesus sê nie dat ons reis Hemel toe maanskyn en rose gaan wees nie, inteendeel Hy sê:

MAT 10:38  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.

Glo vir my as jy in Jesus se tyd ‘n kruis gedra het, het almal wat jou gesien het geweet, om dit baie lig uit te druk.
Dinge gaan met jou moeilik en dit gaan erger word, tot dat jy dood is.
God sê nie dat ons reis Hemel toe veilig gaan wees nie – maar Hy sê wel dat ons
tuiskoms en tuiste verewig wonderlik gaan wees.

OPG 21:3-7 
3  En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.
4  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.
5  En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.
6  En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.
7  Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.

Verder sê God in Sy Woord:

JAK 1:12  Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.

1PET 5:4  En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.

So, kry weer ‘n huppel in jou stap op jou reis Hemel toe, want jy is ‘n
koningin/koning op pad om gekroon te word en onthou tog om jou medikasie, as jy medikasie gebruik, dit stiptelik soos jou dokter, wie ons Here ook vir jou daar gestel het, voorgeskryf het, te gebruik.  Terwyl jy daagliks met ons Here oor jou omstandighede gesels.

Onthou terwyl jy na die dokter luister, dat sy/hy ‘n feilbare mens net soos jy is.  Daarom is ‘n baie goeie, nee die beste om te doen – oor jou voorskrif te bid en as jy enigsins twyfel of dit die regte medikasie vir jou is, met jou voorskrif in jou hand ‘n tweede opinie kry en jou voorskrif met die dokter waar jy die tweede opinie gaan kry het, te bespreek.

Onthou ook dat jy nie nou ‘n duiwel in jou het nie.
Die satan sal hom in elk geval nie deur ‘n pil laat beheer nie.
Al wanneer hy pille gebruik, is wanneer hy iemand ‘n oordosis laat gebruik.

               
Groete,
Sakkie