HOE HEERLIK! JY EN EK IS VRY

HOE HEERLIK!  JY EN EK IS VRY

Kom ons Wandel met hierdie vryheid in die weë van ons Here.

Sakkie Parsons

Vandat ek tot bekering gekom het, het dit my van tyd tot tyd opgeval hoe mense soms die Mosaïese verbond (wet van Moses) op hulleself van toepassing maak en ek dink dit is deels daaraan toe te skryf, dat daar mense en selfs denominasies is wat graag byvoorbeeld die sabbat en tiende in hulle verkondiging van die Evangelie wil hou.  Omdat, so lyk dit vir my, hulle dink dat as hulle hierdie twee dinge uit hulle verkondiging van die Evangelie haal, die bywoning van hulle dienste daar onder gaan ly en as hulle verkondig dat ‘n mens moet gee soos wat jy in jou hart jou voorgeneem het –

2KOR 9:7  Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.

– gaan hulle inkomste ook daar onder ly.

Met ander woorde hulle gaan selektief met die Mosaïese verbond (wet van Moses) te werk omdat hulle nie self genoeg vertroue in ons Here het nie.

Ek gee een simpel voorbeeld:
Iemand sal hamer op byvoorbeeld jou tiende wat jy moet gee, dan praat die persoon gewoonlik uitsluitlik van die geld gedeelte, dit kom nêrens in die Nuwe Testament voor nie maar daardie selfde persoon sal heerlik saam met jou ‘n varktjop eet, al staan daar in die Mosaïese verbond (wet van Moses) geskryf:

LEV 11:7  ‘n Vark mag ook nie geëet word nie, want al het dit gesplete hoewe, herkou ‘n vark nie.

Omdat baie van hierdie mense wat die leiding moet gee en dan selektief met die Mosaïese verbond (wet van Moses) te werk gaan, kom die mense vir wie hulle moet lei op die plek dat hulle nie weet wát is nou geoorloof en wat is nou nié geoorloof nie.

Hierdie is dan ‘n poging van my, om aan jou die verskil tussen die Mosaïese verbond (wet van Moses) en, wat ek die Liefdeswet van Jesus noem, te wys soos wat ek dit verstaan en uitlewe.

Eers hoe ek die Mosaïese verbond (wet van Moses) sien, en ek gaan telkens terwille van die lengte van hierdie skrywe my probeer beperk tot twee voorbeelde uit die Woord ter ondersteuning van wat ek probeer sê:

Die ou verbond was ‘n verbond/ooreenkoms tussen ons Here en Israel en het alle ander volke uitgesluit.
As jy Exodus 19 tot en met Exodus 24 gaan lees sal jy ‘n goeie insig oor dit wat ek nou met jou deel kry.

EXO 19:4-7 
4 “’Julle het gesien wat Ek met die Egiptenaars gemaak het en hoe Ek julle as’t ware op die vlerke van ‘n arend opgelig het en hier na My toe gedra het.
5  As julle regtig gehoorsaam is aan My en vashou aan My verbond met julle, sal julle my persoonlike volk wees tussen al die nasies van die wêreld.  Die hele wêreld behoort aan My, maar julle sal in besonder die nasie wees wat aan My toegewy is.
6  Julle sal My koninkryk van priesters wees, ‘n nasie wat die HERE dien.
      ’Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê.’”
7  Moses het toe van die berg afgeklim en die leiers van die volk bymekaargeroep.  Hy het vir hulle alles vertel wat die HERE hom beveel het.

Toe deur hulle aanvaarding van wat ons Here gesê het, is die verbond gesluit,of as jy wil, die ooreenkoms beklink.

EXO 19:8  Die volk het toe soos uit een mond gesê:  “Ons sal alles doen wat die HERE vir ons gesê het.”  Moses het aan die HERE gaan rapporteer hoe die volk op sy opdrag gereageer het.

EXO 24:3-8 
3 Moses het na die volk toe gegaan en vir hulle alles gesê wat die HERE beveel het.  Hulle het soos een man geantwoord:  “Ons sal alles doen wat die HERE gesê het!”
4  Moses het alles wat die HERE vir hom gesê het, neergeskryf.  Hy het vroeg die volgende oggend opgestaan en ‘n altaar aan die voet van die berg gaan bou.  Hy het rondom die altaar twaalf klippe ingeplant.  Dit was vir die twaalf stamme van Israel.
5  Daarna het hy jong Israeliete laat kom en hulle beveel om bulle vir die HERE te offer.  Dit was brandoffers en vredeoffers vir die HERE.
6  Hy het ‘n deel van die offerdiere se bloed in houers opgevang.  Die ander helfte het hy oor die altaar gesprinkel.
7  Daarna het Moses die Boek van die Verbond gevat en vir die volk daaruit gelees.  Hulle het weer almal soos een man geantwoord:  “Ons sal alles doen wat die HERE gesê het!  Ons sal daarna luister!”
8  Moses het toe van die bloed in die houers gevat en oor die volk gesprinkel.  Hy het gesê:  “Hierdie bloed bevestig die verbond wat die HERE met julle gesluit het toe Hy hierdie woorde vir julle gesê het.”

Die Mosaïese verbond (wet van Moses) met sy wette ens het basies so gewerk:

As Israel doen wat reg is in die oë van ons Here sal en het ons Here hulle geseën.
As hulle nie gedoen het wat reg was in die oë van ons Here nie, het ons Here Sy seën teruggehou en hulle swaar gestraf.

Die Mosaïese verbond (wet van Moses) word ook die Ou Verbond genoem en
jy kan die seëninge en vloeke wat met hierdie (ou verbond)  gepaard gaan in
DEUT 28 gaan lees.

Die Woord sê onder andere van mense wat die Mosaïese verbond (wet van Moses) aanhang die volgende:

2KOR 3:14  Hulle denke het verhard geraak.  Tot vandag toe is hulle gedagtes versluier as hulle die Ou Testament lees.  Daardie sluier word net eenvoudig nie verwyder nie omdat dit net Christus is wat dit geheel en al vernietig.

Die Mosaïese verbond (wet van Moses) het hoofsaaklik drie doele gedien:
Dit het Israel beveel hoe om ons Here te dien.  Byvoorbeeld die tien gebooie.
Dit het vir Israel instruksies gegee hoe om te offer.
Dit het vir Israel vertel hoe om te lewe.  Byvoorbeeld wat hulle mag eet en nie mag eet nie.
Die Mosaïese verbond (wet van Moses) word deur my groot held Paulus ook ‘n tugmeester/kinderopvoeder genoem.

GAL 3:23-25
23 Voordat die geloof gekom het, is ons deur die wet bewaak. Ons was gevange gehou totdat God se plan van geloof geopenbaar sou word.
24 Die wet het ons soos 'n kinderopvoeder opgepas totdat Christus gekom het. Ons is opgepas sodat ons deur te glo God se vryspraak kon ontvang.
25 Noudat die tyd van geloof gekom het, staan ons egter nie langer onder die toesig van 'n kinderopvoeder nie.

Diegene wat verkondig dat die Mosaïese verbond (wet van Moses) nog gehou moet word, veral dié onder hulle wat selektief met die Mosaïese verbond (wet van Moses) te werk gaan, moet onthou dat daar geskryf staan:

JAK 2:10 Julle weet mos:  iemand wat al die gebooie onderhou behalwe één, is net so skuldig as iemand wat ál die gebooie oortree.

Die 1953 Vertaling stel dit so:
JAK 2:10  Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.

Nou is die vraag:
Moet die Christen die Mosaïese verbond (wet van Moses) hou?

Dan is my persoonlike mening, dit is in elk geval hoe ek lewe en ons Here dien, –
verseker Nee.

Ek dien ons Here onder ‘n Nuwe Verbond.

GAL 4:4-7 
4 Maar toe, op die regte tyd, het God sy Seun gestuur.  Hy is uit ‘n vrou gebore, onder die wet,
5 sodat Hy hulle wat onder die wet is, kan vrykoop.  Ja, sodat ons tot kinders aangeneem kan word.
6 En omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun gestuur om in ons te lewe. Die Gees in ons roep voortdurend na God: "Abba!" – wat die Aramese woord is vir "Vader".
7 Jy is dus nie meer slaaf nie, maar kind.  En as Sy kind het God jou Sy erfgenaam gemaak!

Wat het ons Here gedoen om hierdie Liefdeswet van Jesus tot stand te bring en in werking te stel?

JHN 3:16  God het die mensewêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Wat verwag ons Here van my?
Hoe moet ek nou lewe as ek dan nie die Mosaïese verbond (wet van Moses) op my van toepassing maak nie?

MAT 22:36-40
36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”
37 Jesus se antwoord was:  ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
38 Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
39 Die tweede, ewe belangrike opdrag is:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40 Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoof gebooie.”

Ek het Jesus Christus aangeneem as my Verlosser en my Saligmaker.

Nou het ek ‘n liefdesverhouding met my Here en word ek nie gedwing om byvoorbeeld een dag in die week ‘n dag af te sonder en dit ‘n Sabbatdag/dag van die Here te noem en om dit so te stel heilig te lewe nie.
Nou jubel my lewe dit élke dag uit.

PSM 118:24 Dit is die dag wat die HERE gemaak het.  Laat ons daaroor juig en bly wees.

Nou volg ek ons Here en dien ek Hom omdat ek lief is vir Hom en doen ek aan my naaste soos wat ek graag wil dat hulle aan my moet doen, al doen hulle nie altyd dieselfde aan my nie en as ek van my kant af faal, nee wanneer ek faal, want ek faal baie, dan het ek daardie heerlike wete –

1JHN 1:9  As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.

Want, hoe heerlik is dit om te weet:
Ek is nie onder die Mosaïese verbond (wet van Moses) wat soos ‘n kwaai tugmeester oor my staan nie.
Hoe Heerlik!!!
Ek is onder die genade van my liefdevolle Here, wat my só liefhet, dat Hy ál my oortredinge waarvoor ek getug móés en móét word, vir my aan die kruis gaan dra het.

KOL 2:9-16 
9 Die volheid van God is mos liggaamlik in Christus teenwoordig.
10 En julle is één met Christus wat só met God vervul is, één met Christus wat die hoof van alle hemelse en aardse magte is!
11 Omdat julle so één is met Christus is julle ook besny, nie met ‘n besnydenis deur mense nie, maar met die besnydenis wat Christus bewerk.  Hierdie besnydenis bestaan uit die wegneem van jou sondige geaardheid. 
12 Toe julle gedoop is, is julle saam met Christus begrawe.  Omdat julle één is met Hom is julle ook saam met Hom opgewek.  Julle geloof in die krag van God het dit moontlik gemaak.  En dit is hierdie selfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het!
13 Julle was eintlik dood omdat julle gesondig het en omdat julle sondige geaardheid nog nie weggeneem was nie.  God het julle egter saam met Christus lewendig gemaak toe Hy julle al julle sondes vergewe het.
14 Hy het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit van ons af weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker.
15 So het Hy die hemelse en aardse magte ontwapen.  Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer.
16 Moet dus nie toelaat dat enigiemand julle veroordeel oor wat julle eet of drink, of oor hoe julle sekere feesdae of die Nuwemaanfees of Sabbatte vier nie. 

As ek nou weer lees alles wat ek met jou gedeel het, kan ek nie anders as om dit uit te jubel nie!

JOH 1:16 Uit Sy volheid het ons almal ‘n oorvloed onverdiende goedheid (genade op genade) ontvang.
JOH 1:17 Die wet is deur middel van Moses gegee, die onverdiende goedheid en waarheid het deur Jesus Christus gekom

Hoe heerlik!  Jy en ek is vry.  Kom ons wandel met hierdie vryheid in die wonderlike weë van ons Here.

GAL 5:13 Liewe broers en susters, julle is geroep om in vryheid te leef.  Moet net nie die vryheid misbruik om sondige begeertes te bevredig nie, maar gebruik dit om mekaar met liefde te dien. 
GAL 5:14 Die hele wet is saamgevat in een opdrag:  “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Die volgende dagstukkies wat ek geskryf het, kan help om hierdie sienswyse van my nog beter te verduidelik en ek stuur dit op aanvraag met die grootste liefde aan jou:
• Die wet deur Moses en die genade en waarheid deur Jesus
• Wie volop saai, sal ook volop maai
• Die liefde die vervulling van die wet

                 

Groete,
Sakkie