HOE HET DIE BABA-DOOP ONTSTAAN? WAT SÊ DIE BYBEL OOR DIE DOOP VAN BABAS?

HOE HET DIE BABA DOOP ONTSTAAN?

WAT SÊ DIE BYBEL OMTRENT DIE DOOP VAN BABAS?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vrae die volgende:

“Hoe het die baba doop ontstaan?

Laat ek dan as inleiding, voor ek die vraag antwoord, die volgende feite duidelik uitwys.

Een ding is verseker.

Dit het nie, om dit so te stel, in die Bybel ontstaan nie.

Iemand het ook al gevra:

Wat sê die Bybel omtrent die doop van babas?

Die antwoord is eenvoudig:

Niks.

Baie Christene verstaan baba-doop as deel van die nuwe Testamentiese verbond van saligmaking deur Jesus Christus, en regverdig dit deur hulle volgelinge byvoorbeeld te leer dat, net soos die besnydenis die Israeliete aan die verbond met Abraham verbind, die doop deur besprinkeling ‘n baba aan Jesus verbind.

Dit is gewoon net nie waar, dat die doop en by name besprinkeling, in die plek van die besnydenis gekom het nie. Ek gaan net in baie kort ‘n paar voorbeeld wat die besnydenis aanbetref noem, om te wys hoe en ek stel dit so sag as wat ek kan, hoe absoluut onlogies dit is om so te redeneer.

GEN 17:10-13 

10  Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word—

11  julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en julle.

12  ‘n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie—

13  die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as ‘n ewige verbond.

Dogtertjies was nie besny nie.  Tog doop, die regte woord in hierdie geval is, ‘besprinkel,’ diegene wat glo dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het, ook babadogtertjies.

Dan –

Wanneer die, wie ook al, verkondig dat die doop, of dan die besprinkeling, in die plek van die besnydenis gekom het, gebruik hulle die doop, of dan die besprinkeling, om die kindjie haar/hom se naam te gee.  Iets wat niks met die besnydenis te doen het nie.

Om dan hierdie saak op te som:

Daar is volgens wat ek sien geen konsekwente logika agter hierdie redenasie nie – maar die sterkste redenasie teen hierdie verkondiging van Jesus se verlossings evangelie is, dat jy dit nie in die Woord vind nie.

Baba-doop, of dan besprinkeling, het oor die eerste 200 jaar tot stand gekom en, om dit so te stel, in keiser Konstantyn se regering tot volle wasdom gekom maar daaroor meer ‘n bietjie later.

So, kom ons kyk net gou hoe het die eerste Christene en by name die apostels die doop verstaan en verkondig, omdat dit is hoe hulle dit van Jesus Christus ontvang het en ek gebruik net enkele voorbeelde uit die Woord, om hierdie skrywe nie te lank te maak nie.

MAT 28:18-20 

18  En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.

19  Gaan dan heen, maak dissipels (‘n dissipel is ‘n volgeling) van al die nasies, en doop hulle (nadat jy hulle ‘n dissipel van Jesus gemaak het) in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle (wat jy natuurlik nie aan ‘n baba kan doen nie) om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

HAN 2:37-39 

37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?

38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, (iets wat n baba nie kan doen nie) en laat elkeen van julle (nadat julle, julle bekeer het) gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

ROM 6:3  Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?

ROM 6:4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in n nuwe lewe kan wandel.

Die doop is ‘n verklaring in die openbaar aan alle mense en magte en geeste – en jy kan hier aan die bewoording in jou hart verander as jy gedoop word – maar dit is uiteindelik wat elke ware dopelinge dan verkondig as hulle eerste getuienis in die wêreld:

In hierdie begrafnis van my ou mens en die opstanding van ek, n nuwe mens getuig ek:

Ek glo dat Jesus aan die kruis vir my sondes gesterf het.

Ek glo dat Hy begrawe is.

Ek glo dat Hy uit die dood opgestaan het.

Ek het hierdie Jesus, God wie mens geword het, aangeneem as my Verlosser en Saligmaker.

Die ou ek is nou dood.

Ek is nou n nuwe bloed gewaste kind van God.

Teen hierdie agtergrond van hoe die eerste Christene in waarheid die evangelie verkondig het en hoe ons dit in die Woord vind, die volgende statistieke, wat jyself kan Google as jy wil en as jy dit dalk nie kan kry nie, sal ek in liefde met jou die bronne deel waar ek dit kon lees.

Ongeveer ‘n derde van kinders het in Jesus se tyd gesterf voor hulle een jaar oud geword het en ongeveer 5 uit elke 10 jaar oud kinders het gesterf voor hulle 10 jaar oud was.

As jy die ouderdom van 10 of ouer bereik het, kon jy gewoonlik die sestigs en selfs die sewentigs en hoër in jare gehaal het.

Die oorhoofse rede vir die hoë kinders sterftes was siektes. Dink net aan al die siektes wat jy as kind of jou kinders al gehad het, en nou praat ek nie eens van griep en brongitis en verkoues nie, en hulle het nie antibiotika of pille, ander medisyne, apteke, en die hospitale en alles wat daarmee gepaard gaan wat ons vandag het gehad nie.

Sit daarby, swak diëte en nie altyd die beste higiëniese lewensomstandighede nie.  Dink maar aan jou bad, toilet en drinkwater.

Ek is seker jy sal aan nog ander redes in terugblik op jou eie lewe kan dink, wat hierdie syfers kan staaf.

Wat ons Here uit my eie lewe gebruik het om my net so ‘n klein kykie in die nuwe bekeerlinge tot die Christendom in Jesus se tyd gegee het, en my so ‘n bietjie in hulle skoene laat staan het, was die volgende:

My een dogter was nog ‘n baba toe sy by geleentheid baie, baie siek geword het.

Ons het destyds 12 kilometer buite Rustenburg gewoon.

Sy het net sieker en sieker geword en haar koors was baie hoog.

Ek het op daardie stadium nie vervoer gehad nie en ek kon niemand kry om my en my kind hospitaal toe te neem nie.

Ek kan tot vandag toe onthou die skrikwekkende magtelose gevoel in my, terwyl ek in my desperate toestand haar op die kombuistafel op ‘n nat handdoek laat lê het, haar met ‘n nat waslap afgevee en dan gestaan en koud waai het.

Ek kan met deernis aan daardie eerste Christene dink, wat nie almal die kennis gehad het wat ons vandag het, wat kinders aanbetref wat ernstig siek word en sterf nie.

As jy wil lees wat ek oor babas en kinders wat sterf geskryf het, kan jy my net vra en ek stuur dit met groot Jesus liefde aan jou.

Onthou, dat die Woord in die geskrewe vorm daar aan die begin, nog nie so volop tot almal se beskikking was soos vandag nie, en dat daar ook nie ‘n dominee of pastoor amper elke paar blokke om jou te vind was nie, en die wat daar was, was ook self nuwe bekeerlinge, wat nie altyd die Woord in skrif in die hand gehad het nie.  Want die Woord was nog besig om vorm aan te neem en in baie Christen huishoudings waar hulle soos ons geglo het – in lewe na die dood, en n hemel en n hel, een van twee plekke waarheen die mens gaan as sy/hy uit hierdie lewe tree, – was daar baie sterftes onder babas en geen Christen ouer wil dat sy kind wat op sterwe lê hel toe gaan nie.

As ek dink hoe maklik ons deesdae dinge uit die Woord neem of byvoeg om ons voor of afkeure, of is dit nou ons grille en giere en ego’s te pas, kan ek verstaan hoe hulle destyds, deur hulle liefde vir hulle kinders gevoel het, om liewer ‘n soort doop te gebruik vir hulle babas – maar soos al die dinge wat ons vandag uithaal of verander om ons te pas, bly dit onbybels.

Die besprinkeling doop het waarskynlik ontstaan, omdat jy nie ‘n baba kan onderdompel nie en dit verseker nie met ‘n siek kind sou wou doen nie.

Wat ons verseker weet is, dat baba doop of dan besprinkeling, het êrens in die eerste 200 jaar na Christus begin – maar nie by die eerste verkondigers van die evangelie van Jesus Christus nie, daarom kan jy dit ook nie in die Woord vind nie.

Dit het êrens in die eerste 200 jaar van die Christendom sy ontstaan gehad en het in keiser Konstantyn se regering in 354 tot 430 na Christus, toe hy tot bekering gekom het en die eerste keiser gewees het wat die Christendom nie vervolg het nie, amptelik deel van die evangelie van Jesus volgens die Katolieke kerk geword.

Keiser Konstantyn het dan ook baie ander gebruike in die kerk ingebring om ander godsdienste in die Romeinse ryk te akkommodeer, want dit was een van die metodes wat hy gebruik het om die Romeinse ryk te probeer red wat besig was om uitmekaar te val – en wat toe ook gebeur het.

Dit is daarom ook, hoekom daar so baie gebruike in die Katolieke kerk is wat jy nie in die Woord vind nie.

Ek sluit dan hierdie skrywe aan jou af met die volgende uit ons Here se kosbare Woord:

MRK 16:15  En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.

MRK 16:16  Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.